Foto’s: Tieners in spogtoneelstukke by ATKV-Toneelfinaal te sien

‘n Toneel uit die produksie “Slegs”. (Foto verskaf)

Spogtoneelstukke deur van Suid-Afrika se voorste opkomende teatertalent is vandeesweek op die planke by die Lyric-teater by Gold Reef City in Johannesburg. Dié produksies ding in die eindrondte van die 59ste ATKV-Toneelkompetisie mee.

Die ATKV-Tienertoneel bied al vir dekades ʼn platform vir jongmense om hulle passie en talent vir teaterwerk uit te leef. Dit gee ook die geleentheid vir tieners om blootstelling aan die teaterwêreld te kry en ʼn liefde vir hierdie kunsvorm te ontwikkel.

Temas wat in vanjaar se produksies ondersoek word, sluit in die ware betekenis van vryheid, skulderkenning, vriendskap, vergifnis, en die soeke na identiteit.

Hierdie jongmense vertel uiteenlopende stories en hulle staan in die skoene van karakters wat emosies en omstandighede buite hulle leefwêreld ervaar. Dit beteken egter nie dat hierdie ontluikende akteurs tekortskiet aan die vermoë om dit met oortuiging te vertel nie.

Daar is stories oor vriendinne wat die uitdagings van ware vriendskap trotseer, ʼn tiener wat sprokies gebruik om van die werklikheid te ontsnap, en tieners wat op soek is na hulleself in ʼn wêreld wat deurentyd vereis dat jy beter, maerder en slimmer moet wees.

Vanjaar het 231 produksies, waarby meer as 3 000 leerders betrokke was, aan die tienertoneel deelgeneem. Dit is ook die derde jaar wat die ATKV-Tjokkertoneel plaasvind en hierdie jaar het 628 kinders hulle stories op die verhoog vertel.

Die topproduksies wat in die ATKV-Tienertoneel meeding is Vry (C&N Sekondêre Meisieskool Oranje), Mac & Beth (Helpmekaar Kollege), Tussen die lang grasse (Hoërskool Hugenote Springs), 23 kg (Hoërskool Parel Vallei) Bulldozer (Hoërskool Martin Oosthuizen), Lyf (Hoërskool Noordheuwel), Praat gou weer (Hoërskool Jan van Riebeeck), Wegwêreld (Hoërskool Parel Vallei), As die sinkdakke kon skree (Hoërskool Noordheuwel) en Die S-effek (Hoërskool Durbanville). Liewe Anna (Helpmekaar Kollege) en Slaansak (Hoërskool Parel Vallei) ding mee in die slegs-leerders-finaal.

Die ATKV-Toneelfinaal word tot 6 Oktober aangebied, en toneelliefhebbers kan saam die opwinding van teater deur jong en opkomende talent kom ervaar.

Op 4 Oktober is die tien top-ATKV-Tienertoneelproduksies op die verhoog, en op 5 Oktober kan teatergangers na die twee beste produksies met slegs leerders en die topses ATKV-Tjokkertoneelproduksies kyk. Die wenners word op 6 Oktober tydens ʼn spoggeleentheid by die teater aangewys.

Kenners uit die bedryf wat in die beoordelaarstoele sit, is Solomon Cupido, Lindsey Cele, Marlo Minnaar, Marié-Heleen Coetzee, Jacques Bessenger, Mari Molefe van Heerden, Wilhelm van der Walt en André Lotter.

Die nasionale wenners sal wegstap met prysgeld van R30 000, die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee en ʼn speelvak by die Toyota US Woordfees op 14 en 15 Oktober. Die nasionale wenners van die ATKV-Tjokkertoneel ontvang R10 000 en ʼn wisseltrofee.

Kaartjies vir die ATKV-Tiener- en Tjokkertoneel kos R60. Kaartjies is op Webtickets beskikbaar.

“As die sinkdakke kon skree”. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wielspore ·

As mens kyk na die koriografie, kleredrag, lyftaal en gesigs uitdrukkings is die jong mense goed in wat hulle doen. Sterkte en geniet julle ATKV-Toneelfinaal, in Afrikaans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.