Fynproewer van woord en wyn

Hennie van Coller met sy bundel ‘Weerbare weemoed’ (Foto: Verskaf)

Hoe is die lewe van akademici, navorsers of wetenskaplikes wat gesogte pryse wen of eerbewyse ontvang? Word hulle vrye tyd opgeslurp deur nóg meer leeswerk of soortgelyke aktiwiteite wat kwansuis “vervelig” is?

Miskien, maar net so subjektief soos wat die begrip “vervelig” is, is die aanname dat geleerde persone kwalik weet hoe om die lewe te geniet.

‘Ons het gou besef dat wynmaak duur is’

Prof. Hennie van Coller wat vanjaar met die gesogte Jan H Marais-prys bekroon is vir sy voortreflike bydrae tot Afrikaans as wetenskaptaal, het onlangs met Maroela Media gesels en verklap dat hy ook ʼn wynentoesias is: van wynproewer en versamelaar tot wynmaker.

“Ons was aanvanklik ʼn klomp entoesiaste wat gedink het as ons eers weet hoe om wyn te maak dan sal ons dit nog meer waardeer. Dit was waar,” vertel Van Coller en voeg dan by: “Maar, ons het gou besef dat wynmaak duur is.”

Aanvanklik het hulle alles self gedoen. Dit sluit die blaarbeheer, snoei, pluk en pers (met hul voete) in, maar later het hulle besluit om eerder die druiwe aan te koop.

Dit bly egter ʼn duursame proses omdat daar soveel benodigdhede is. Om bottels en kurke of skroefproppe aan te skaf kos dalk nie ʼn wynplaas se prys nie, maar voeg hierby die koste van etikette, kroonkurke, vaatjies en parse dan raak dit vinnig duur.

“Dan het jy nog nie eers die druiwe nie!” herinner Van Coller. Hy meen dat ʼn bottel wyn wat jy vir minder as R60 in die winkel of by ʼn kelder koop voorwaar ʼn winskoop is.

‘Die Nederlandse taal was vir my wonderlik en eksoties’

Van Coller, buitengewone professor aan die Noordwes-Universiteit en emeritus aan die Universiteit van die Vrystaat, het nie net ʼn formidabele vakkundige publikasierekord as literatuurwetenskaplike nie, maar is ook ʼn digter, vertaler en skrywer. Benewens sy passie vir wyn is Van Coller ook gaande oor reis.

In ’n Pampoen vir Kersfees (Naledi, 2020), ’n versameling van sy rubrieke wat die afgelope 20 jaar in Volksblad verskyn het, het hy ’n aantal stukke oor sy Nederlandse verblyf geskryf. Van Coller het ook indringende akademiese navorsing oor die Nederlandse literêre landskap gedoen.

Sy jongste bundel Weerbare weemoed, ʼn digbundel met vertalings van Luuk Gruwez se poësie, het onlangs by Kraal Uitgewers verskyn. Dit volg op Bandelose gedigte wat in 2007 uitgegee is.

Met die vertalings in Weerbare weemoed maak Van Coller Gruwez se poësie toeganklik vir die breë leserspubliek. Dit verg uiteraard ʼn bepaalde kennis van die Nederlandse taal en kultuur, iets waaroor Van Coller sonder twyfel beskik.

Hennie van Coller en sy vrou Elsa (Foto: Verskaf)

Van Coller se eerste kennismaking met Nederlands was die voorgeskrewe boeke wat hulle op skool behandel het.

“Die Nederlandse taal was vir my wonderlik en eksoties,” onthou van Coller. Tuis het sy ouers dikwels vertel van hul kort verblyf in Amsterdam net na die Tweede Wêreldoorlog en op universiteit het dosente se kennis oor die Nederlandse letterkunde ook ʼn blywende indruk op hom gemaak. Dit sluit akademici soos WEG Louw, Meyer de Villiers, Ernst van Heerden, PJ Nienaber, Ampie Coetzee en John Miles in.

Hy is later getroud met Elsa van der Straaten, wie se pa ʼn Nederlander was. Die egpaar het kort na hul troue vir twee jaar in Utrecht, Nederland, gebly waar hy sy doktorale eksamen in literatuurwetenskap en Nederlandse letterkunde gedoen het. Tydens hul verblyf in Utrecht het hulle Elsa se pa se susters, broers en ander familie ontmoet en dikwels saam gekuier.

Hennie van Coller saam met sy dogters en kleinkinders (Foto: Verskaf)

“Ons is hartstogtelik lief vir die Lae Lande waar ons dikwels vir lang tye gewoon en gewerk het,” sê Van Coller. Hy vertel dat hulle ook vir nege maande in Leuven, ʼn jaar in Brussel en lang tye in Groningen, Leiden en Gent gebly het. Twee van die egpaar se drie dogters was selfs vir nege maande in Leuven op skool.

Dié trotse pa het groot bewondering vir sy dogters, maar ook vir ander vroue in sy lewe, soos sy oumas, (skoon)ma en (skoon)susters.

“Hulle sien vir alles kans en het nie ʼn lui haar op hul koppe nie. My dogters is eerlik en openhartig, maar ook uiters empaties en vergewingsgesind. Daarvoor bewonder ek hulle.”

‘Alles is net genade’

Die Jan H Marais-prys is een van die gesogste pryse wat werk in Afrikaans vereer – sommige beskou dit as die Nobelprys vir Afrikaans. Van Coller het dié prys vanjaar saam met prof. Ina Wolfaardt-Gräbe ontvang.

Volgens Van Coller is dié eerbewys ʼn groot genade wat hom te beurt geval het.

“ʼn Mens is dankbaar eerder, oor almal wat jou van jongs af ondersteun het; ander wat jou onderrig het of jou loopbaan bevorder het. Trots ook, maar nederig veral. Alles is net genade,” sê hy.

Prof. Hennie van Coller. (Foto: Verskaf)

Pryse wat navorsing, en hier spesifiek lewensbydrae, in Afrikaans erken en beloon is in die eerste plek ʼn vorm van erkenning wat ʼn beloning en aansporing is, maar dit dien ook as aanmoediging vir jonger wetenskaplikes, meen Van Coller. Dat dit vir Afrikaans is, is ook nie onbelangrik nie.

“Afrikaans word dikwels gemarginaliseer (en soms gedemoniseer) en Engels word gepropageer as die enigste wetenskapstaal wat gewig dra,” verduidelik hy. “Sodanige persepsies moet ontkrag word. Wat op wetenskapsgebied in Suid-Afrika vermag is (hartoorplantings; kernverryking, die maak van brandstof, die bou van damme en spoorstelsels, ensovoorts) is dikwels deur Afrikaners gedoen wat die meeste van hul studie in Afrikaans gedoen het.”

Van Coller was voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en is skrywer en redakteur van byna 30 boeke. Hy het ook meer as 140 wetenskaplike artikels geskryf en nog ʼn 40-tal akademiese bydraes in boeke gelewer. Hy het talle pryse en toekennings, onder meer die Gustav Prellerprys vir literatuurwetenskap en literêre kritiek en die DF Malanprys vir voortreflike bydraes in Afrikaans, ontvang. Van sy kortverhale is in versamelbundels opgeneem, onder meer in Die bruid en ander verhale. Sy eerste digbundel, Soom, het in 2012 verskyn.

  • Weerbare weemoed kos R180 en is by Kraal Uitgewers beskikbaar. Klik hier om die boek aanlyn te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Daizee ·

Ek dink Prof. Van Coller is só gebore, want lyk nog net soos toe ek ‘n student was!! :-)

annie ·

En prof Van Coller het vir ons, wanneer hy nie weer in Nederland besig was nie, meer vertel oor die rolle van helde en anti-helde in die letterkunde. Goeie ou dae, toe daar nog tussen waar en vals onderskei kon word.

Therese ·

‘n Merkwaardige Suid-Afrikaner.
Geniet die woorde en die wyn!

‘n Mens kan seker aanneem dat die Jan H. Marais-prys dieselfde Jannie Marais is wie se skenking van 100 000 Pond destyds die gebruik en voortbestaan van Afrikaans aan die ‘Stellenbosch University’ moes verseker?
Ja wel, no fine …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.