Gedig: Dis jy

Argieffoto (Foto: igorovsyannykov/Pixabay)

Coenie de Villiers (Geb. 1956)

Die dagboek van my lewe
neem bestek op, blad na blad,
van dit wat met my gebeur,
van alles en nog wat.

Daar’s verhale wat getuig
van twyfel en geloof;
van verbreekte ou beloftes,
van ʼn soen wat pyn verdoof.

Daar is eindelose nagte
waar ʼn mens alleen moet stry
teen die vrees en teen vertwyfeling
wat selfs ná dagbreek by jou bly.

Maar deur alles is daar een ding
wat my anker en my lei
soos ʼn fakkel in die donker,
my soos ʼn kompas begelei:
Dis jy.

As die somer dalk te warm word
en die winters veels te koud
is daar net een ding wat konstant bly
in my lewe, en dis jy.

Daar is hier en daar ʼn foto,
swart en wit, of soms in kleur.
Daar’s tonele uit my lewe
met elke oomblik onversteur.

Daar’s gesigte lank vergete
waar jy hul name nou moet raai.
Hier is lelies op ʼn kis,
daar speel ons blikaspaai.

Maar deur alles is daar een ding
wat my anker en my lei
soos ʼn fakkel in die donker,
my soos ʼn kompas begelei:
Dis jy.

Uit: Hartlangs – Lirieke 1973 – 2012 deur Coenie de Villiers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lorraine ·

Díé is mooi. Dit laat my dink aan Maretha…’n kollega.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.