NP van Wyk Louw (1906 – 1970)
Uit: Vier gebede by jaargetye in die Boland
IV. Eerste sneeu
Die blydskap het oornag soos nuwe sneeu
die laagste hellings van my vroeë smart
tot skoonheid omgeskep waar elke skreeu
soos ‘n sweep in die blink lig van die klowe hard
en helder klink. Die ronde aarde staan
wit oopgekelk en suiwer soos ‘n blom –
een glinstering waar die nuwe waters gaan,
verwagtingloos, want alles het gekom.
O hart, sal vreugde hoër gaan, en jy
nie sterf? Daar kom in my ‘n stil vermoede
dat alle lewe só sy volheid kry
en heerlik gaan in die rustige dood se hoede,
dat jy sal spoel en breek en uitgestort
in hierdie wit golf van die vreugde word.
In my hoërskooljare wat nog geval het onder Christelik-nasionale onderwys, is Vier gebede by jaargetye in die Boland aan my voorgehou as hoogheilige Afrikaanse letterkunde. Wat egter van my weerhou is, is die veel meer “wêreldse” agtergrond van dié gedigte: dit was bloot liefdesgedigte wat Louw geskryf het vir Truida, met wie hy in ‘n verhouding was terwyl hy nog met sy eerste vrou getroud was. Die volksikone waarvan ek in die skool moes leer, het toe ook maar voete van klei gehad…