Gedig: Gebed

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Spencer Pugh/Unsplash)

Casper Nell het in 2023, toe hy ʼn matrikulant aan Privaatskool Elnatan in Stampriet, Namibië, was, hierdie aangrypende gebed vir boere geskryf.

Here, seën elke boer –
daar waar hulle nie meer weet
wat om volgende te maak nie;
daar waar die rooi Kalaharisand
oor die verskroeide aarde soos ʼn lap lê.

Here seën elke boer –
daar waar die kranse droog staan
en die gronddamme leeg;
seën daar waar die skedel van ʼn pragdier
wit uitblink soos ʼn vuil kol
op ʼn wit lap.

Seën daar waar die skaapkraal eens op ʼn tyd
vol trots gestaan het,
daar waar beesbekke groen gras geëet het …
Seën Here daar,
waar ʼn boer uit sy bakkie klim
en op sy knieë sak,
sy breërandhoed afhaal met
moed in sy skoene en
trots in sy sak;
daar waar die trane oor sy wange loop soos hy innig,
nederig na U toe kom en pleit vir reën.

Here dis daar, waar ek U vra, lei daardie boer dáár om
huis toe te gaan
sy vrou en kinders op die plaasstoep as gesin
te vergader en te sien
hoe die hemele oopskeur
met die reuk van reën wat die plaashuis deurtrek
en die rooi Kalaharisand se dors les
en die kranse watervalle maak,
soos nooit tevore nie.
Here, seën ons boere.

Amen

  • Die gedig is oorspronklik op Kanaal 7 se Facebook-blad gepubliseer, en dit word met vergunning en erkenning aan die digter op Maroela Media gedeel.
  • Ter wille van die konteks van hierdie gedig en ter wille van erkenning aan die digter versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie gedig op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.