Gedig: Om jou naam te voel

Argieffoto (Foto: Aung Soe Min/Unsplash)

Die volgende gedig is gekies vir publikasie in die AVBOB Poësiebiblioteek en word heruitgegee met die toestemming van die AVBOB Poësieprojek. Om dié biblioteek van meer as 22 000 gedigte in al 11 landstale te besigtig, klik hier.

“Om jou naam te voel” deur Carma Shaw

Ek vind jou nog steeds onder bome,
in skadu’s waar jou beeld somtyds rus.
En ek skryf jou naam bo-aan verse;
tussen woorde
waar daar leë ruimtes is.

Ek hoor nog die voëls se gesange –
ʼn mossie, ʼn muisvoël, ʼn duif.
Onthou weer die soet van seisoene;
roes was die wingerd
en herfsgoud die druif.

Drome kan vlieg sonder vlerke –
oor dale en heuwels, soheentoe en t’rug.
Jou paaie loop wyd oor die aarde,
maar jou dwaalspoor
kan my droom nie ontvlug.

Wie hunker dan nooit na vervloë;
wonder nóóit oor dae wat sal kom?
Ek prent jou midde my môres
in tuine waar lelies
en viooltjies weer blom.

Ek soek jou nog steeds net voor skemer
(hoe soel val die son oor my lyf).
En hoe innig vlam die begeerte
om hoe jou naam my laat voel
in hierdie vers vas te skryf.

  • Ter wille van die konteks van hierdie gedig en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie gedig op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.