Gedig: Paddas se plaag en lof

Argieffoto (Foto: Josch13/Pixabay)

Cas Vos (Geb. 1945) het die gedig “Paddas se plaag en lof” vir DJ Opperman (1914 – 1985) geskryf. Die gedig kom uit Vos se jongste digbundel, Wisselende stemminge, wat pas by Naledi Uitgewers verskyn het.

As die reën gretig na die aarde loer,
versamel die tortels van die modder
en begin hulle om in ʼn koor te koer.

Brulpaddas wat in borrels van ʼn sloot sit
se koppe steek met die snuif bo water uit,
hulle lywe is onsigbaar, hulle hurk in gelid.

Soms wil een te lank op die rand talm
en bly agter as die ander in plasse
en moerasse baljaar, maar hy is kalm.

Paddagesinne spring van sloot tot sloot
en klein en groot skuil tussen palmiete
op die rivierbedding se sagte skoot.

Die groot optog is van huise na paleis,
daar beset hulle die spoggerige slaapkamers
en bespring elke bedekende bed kwaakgewys.

Party paddas sing vrolik as hulle altoos
hulle bekke bo die badwater uitsteek,
ander vroetel waar mens van skaamte bloos.

Paddas het behae in die korsies brood;
waar mense om die etenstafel versamel,
sit ʼn padda juigend op elke vrou se skoot.

In die bakoonde verdring hulle al die brode
en laat hulle paddageur kombuis langs sweef.
Alles wat hulle hier doen, is om den dode.

Die digter met die goue staf in sy hand
stuit paddas se plaagsug en laat hulle
koorsange weergalm oor berg en land.

Hy laat hulle hemelse lof opstyg, gekleur
met lofsange en jubelende hosannas:
Aan God alleen die eer, Hy is in beheer.

  • Die gedig word met die digter se toestemming op Maroela Media gepubliseer.
  • Ter wille van die konteks van hierdie gedig en ter wille van erkenning aan die digter versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie gedig op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red.
  • Wisselende stemminge kos R260 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek aanlyn op Naledi se webwerf te bestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.