Blou bloed en ander uitdrukkings

(Foto: iStock)

Junie is Bloedskenkingsmaand in Suid-Afrika en in die gees van dié lewegewende vloeistof waarsonder ons nie kan klaarkom nie, het Taaltoffie ʼn paar bekende en minder bekende sêgoed oor “bloed” gaan uitsnuffel.

Bloed is dikker as water verwys na ʼn familie- of bloedverwantskap wat belangriker as vriende en kennisse is.

Die uitdrukking bloed kruip waar dit nie kan loop nie beteken dat ʼn mens vir ʼn familielid altyd meer doen of aanpak as vir ʼn vreemdeling, of dat jou afkoms/herkoms nie verborge kan bly nie.

Bloed uit ʼn klip probeer tap word gesê wanneer iemand die onmoontlike probeer vermag óf om te verwag dat iemand ʼn baie moeilike taak verrig.

Die woord bloedlaat verwys na die proses wanneer ʼn mens of dier se bloed afgetap word deur ʼn aar te open. Die figuurlike betekenis dui aan om ʼn persoon baie (duur/geld) te laat betaal vir iets.

Ons almal ken die uitdrukking bloedneus kry, wat beteken om jou rieme styf te loop, jou Moses teë te kom of tweede te kom (letterlik óf figuurlik).

ʼn Bloedsuier verwys na iemand wat op ander teer of voordeel uit ander of ʼn situasie probeer trek.

Iemand wat blou bloed het, kom van ʼn hoë stand of adellike afkoms. Volgens die boek Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom is dit oorspronklik net gesê van die Spaanse adel (met ligte velle) wat geen Moorse bloed in hul are gehad het nie. Die uitdrukking kom daarvandaan dat mense met ligte velle se are blou vertoon onder die vel – soos wat die Spanjaarde sʼn inderdaad was.

Wanneer ʼn persoon baie kwaad is, kan ons sê dat daardie persoon se bloed kook.

Om te sê dit is in my bloed beteken dat jy van nature só is of oorgeërfde eienskappe of gewoontes het. ʼn Mens kan die uitdrukking ook anders gebruik deur te sê dit is nie in my bloed nie, wat dan die teenoorgestelde betekenis het.

Bloedbroers dui op familiebande óf mense wat baie geheg aan mekaar is.

Die uitdrukking daar is/kleef bloed aan die geld beteken dit is geld wat vir verraad ontvang is. Dit is ontleen aan Matteus 26 en 27 in die Bybel: ʼn verwysing na die verraad wat Judas gepleeg het en waardeur Jesus se bloed gevloei het.

Om bloed te ruik is om vroeë sukses te behaal wat tot nog groter inspanning aanvuur.

Nuwe bloed is nodig om die span te verbeter word gesê van nuwe spelers wat die span sterker moet maak.

Vir jongmense wat altyd aktief besig met iets is, word die uitdrukking jong bloed is woelig, en wil maar altyd raas gebruik.

Bronne: Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom, Wat praat jy!, Handwoordeboek van die Afrikaanse taal (HAT) en Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT)

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.