Ou liefde wat nie roes en ander uitdrukkings

Argieffoto (Foto: Hebi B./Pixabay)

Ou liefde roes nie; van liefde en koue water leef; kalwerliefde…  Taaltoffie ondersoek ʼn paar uitdrukkings waarin “liefde” voorkom.

Ons almal ken die uitdrukking dit was liefde met die eerste oogopslag, wat na ʼn paartjie verwys wat verlief geraak toe hulle mekaar die eerste keer ontmoet het.

Ou liefde roes nie beteken dat die liefde wat jy eers vir iemand gevoel het, nooit heeltemal weggaan nie.

Liefde met gevoel word skertsend gesê wanneer liefde betoon word as iemand ʼn ander bietjie seermaak of jy slae kry omdat jou pa jou liefhet.

Die uitdrukking van liefde en koue water leef verwys na ʼn paartjie wat so verlief is, al het hulle min om van te lewe.

Die liefde bedek alles het ʼn Bybelse herkoms en beteken dat liefde nie dinge ontbloot wat iemand ongelukkig kan maak nie.

Jy kan hom/haar sommer lief kry word gesê van iemand wat oulik of dierbaar is.

Om te sê die liefde is blind en (maar) trou is die bril, beteken dat ʼn mens nie die foute van die persoon vir wie jy lief is raaksien nie. Eers wanneer ʼn paartjie getroud is, leer hulle mekaar met foute en al werklik in die huwelik ken.

Nog uitdrukkings wat met die liefde verband hou

Hy wil vlerksleep by haar
Hy wil by haar gaan kuier. Die mannetjievoëls het die gewoonte om met gespreide vlerke die wyfies se aandag te trek.

Lank gevry, niks gekry
Hy het jare by haar gekuier, maar sy wou nie met hom trou nie.

Hy gooi sy flikkers by haar
Hy probeer haar hart wen.

Derdemannetjie speel
Iemand wat ʼn verliefde paartjie deur sy teenwoordigheid in die pad staan of hinder.

Onder iemand se duiwe skiet
ʼn Persoon benadeel, veral met betrekking tot ʼn mededinger in liefdesake.

Kalwerliefde
Die eerste, verbygaande kinderliefde

Voetjie-voetjie speel
Met die voete stilletjies onder die tafel mekaar aanraak

Bronne: Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom, Wat praat jy!, Handwoordeboek van die Afrikaanse taal (HAT) en Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT)

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.