Uitdrukking: ʼn Perd knipmes ry en ander uitdrukkings

Argieffoto (Foto: Ben White/Unsplash)

Wie sou kon raai dat daar soveel uitdrukkings is waarin “knipmes” voorkom?

So gou as wat jy “knipmes” kan sê! Dit beteken om iets baie gou of blitsvinnig af te handel.

Jou lyf knipmes hou word gebruik as iemand by ʼn nooi aanlê. Wanneer jy neerbuigend voor die nooi is om haar guns te wen, is jou lyf dan amper dubbel gevou. Die uitdrukking is ʼn oorblyfsel van die gebruik aan die Franse hof waar die mans galant gebuig het as hulle ʼn dame groet.

Wanneer ʼn ruiter sy perd se kop laat pronk kan ons die uitdrukking ʼn perd knipmes ry, gebruik. Dit beteken die dier word so gery dat sy kop baie na aan sy bors is. Die kromming van die nek lyk dan byna soos ʼn halfoop knipmes.

Iemand wat so bang soos die duiwel vir ʼn knipmes is, is doodbang.

Het ʼn siekte jou al ooit knipmes gemaak? Dit is wanneer jy weens siekte vooroorgeboë of krom staan. Dit kan waarskynlik in verband gebring word met die uitdrukking hy maak knipmes toe wat na iemand verwys wat opgooi. Nog ʼn variasie hiervan is om knipmes te staan. Dit skets dieselfde beeld van iemand wat vooroor buig.

Om knipmes te lê is wanneer iemand met gebuigde bene lê.

Toe dit laat word, het hulle knipmes gemaak beteken om hulle het gaan lê om te slaap.

Iemand wat buig soos ʼn knipmes buig laag om sy nederigheid te toon. Hy is oorbeleefd.

Bronne: Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom, Wat praat jy! en Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT)

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.