Kokertoekennings vir Ernst Kotzé, Ena Jansen en Danny Titus

Dr. Danny Titus (Foto: Verskaf/ATKV)

Die Afrikaanse Taalraad se Kokertoekennings gee jaarliks erkenning aan mense se bydraes tot die bevordering en beskerming van Afrikaans, asook praktiese bemagtiging deur die taal. Spesiale jeugtoekennings word gemaak, asook toekennings wat lewenslange bydraes erken.

Die agt wenners van vanjaar se Kokertoekennings is: prof. Ernst Kotzé (lewenslange bydrae), Shafick April (lewenslange bydrae – postuum), prof. dr. Ena Jansen (bevordering van Afrikaans), Johan Blaauw (bemagtiging), dr. Danny Titus (beskerming – postuum), Constance Thomas (jeugkategorie), Zebulon Kock (jeugkategorie) en Zalman S Davis (jeugkategorie).

Ria Olivier, suidelike projekbestuurder van die Taalraad, sê dié wenners bewys daar word geesdriftig met Afrikaans gewoeker. “Nasionaal én internasionaal, oor ouderdomsgrense heen, in verskillende tongvalle en op verskillende terreine, word Afrikaans bevorder. Van die wenners het Afrikaans lewenslank met uitsonderlike toewyding gedien, terwyl ander op jeugdige ouderdom reeds hul stempel afgedruk het.”

Dr. Danny Titus, menseregte- en taalaktivis wat vroeër vanjaar oorlede is, ontvang postuum ’n Kokertoekenning vir sy rol in die beskerming van Afrikaans. Hy het ’n onberekenbare bydrae gelewer tot die erkenning en beskerming van die taal- en kultuurregte van Suid-Afrikaanse burgers in die breë en die Afrikaanse taalgemeenskap in die besonder. Titus het aktief aan die Taalraad se stigtingsproses deelgeneem en was deel van die organisasie se eerste direksie.

Prof. dr. Ena Jansen ontvang die Koker vir die bevordering van Afrikaans (Foto: afrikaansetaalraad.co.za)

Prof. dr. Ena Jansen ontvang die Koker vir die bevordering van Afrikaans. Sy het Afrikaans tussen 2002 en 2017 as “bijzonder hoogleraar” aan die Universiteit van Amsterdam bevorder en die taal só in ’n breër konteks geplaas. Jansen het verskeie nagraadse studente in hulle navorsing oor Suid-Afrikaanse kultuur en spesifiek Afrikaanse literatuur begelei en was ’n belangrike verteenwoordiger van die (Suid-) Afrikaanse lettere op internasionale byeenkomste.

Prof. Ernst Kotzé word vereer met ’n Koker vir sy lewenslange bydrae danksy ’n uiters suksesvolle loopbaan in diens van Afrikaans op verskeie terreine: as veelsydige taalkundige, as innoveerder in die Afrikaanse taalkunde, maar ook as leier en gesaghebbende in die breë vakgebied. Sy werk oor Moesliem-Afrikaans maak hom een van die baanbrekers op dié terrein.

Shafick April, wat langer as 30 jaar die president van die Kaapse Maleierkoorraad was, ontvang postuum ’n Koker vir sy lewenslange bevordering en beskerming van Afrikaans. Hy moes dikwels in ongunstige omstandighede veg om die voortbestaan van Afrikaans in die konteks van die Maleierkoorraad te verseker.

“Sommige mense maak ongesiens enorme bydraes tot die taal, oor alle grense heen, wat verdien om raakgesien te word,” sê dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad. Hy meen dit is belangrik dat mense wat agter die skerms werk ook erkenning kry.

Volgens Steenkamp verteenwoordig die wenners die diverse gesig van Afrikaans. “Die verskeidenheid van die wenners is iets wat werklik organies gebeur het; dit wys hoe moeilik dit is om ons Afrikaanse huis in afgesonderde kamertjies op te deel.”

Hy is ook van mening dat jonger Kokerwenners op hul beurt as voorbeelde vir ander dien. “Dit moedig ander, jonger taalsprekers aan om meer te doen, wat die taal spontaan laat groei.”

Michael Jonas, voorsitter van die Taalraad-direksie, glo die Kokerwenners speel ’n besliste rol in die bevordering van Afrikaans. “Ons glo die wenners verteenwoordig die breë taalgemeenskap. Hulle onderskeie bydraes en projekte weerspieël ook die diverse aard van ons taal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johannes ·

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is ingevolge sy missie veronderstel om oor die gehalte van Afrikaans te waak, maar doen dit nie meer nie. Iedere Afrikaansinstansie behoort hom daarvoor te beywer dat Afrikaanssprekendes trots op hulle taal kan wees. Die Afrikaanse Taalraad en die ATKV het die hoogste lof vir Engelsbesoedelde Kaaps en het allerhande voorbehoude oor Standaardafrikaans. Sedert 1994 verkeer Afrikaans in ‘n benarde situasie. Afrikaans het ook baie aan gehalte ingeboet, veral weens verengelsing. Dit is myns insiens noodsaaklik dat Afrikaansinstansies Afrikaans van hoogstaande gehalte moet aanmoedig en diegene wat hulle vir ordentlike Afrikaans beywer behoort te vereer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.