Kry ’n paar Afrikaanse apps vir jou slimfoon

slimfoon-slimfone

Foto: Pixabay/Pexels.com

Deur Alex J Coyne

Verkies jy eerder jou slimfoon in Afrikaans? Maroela Media het gaan soek vir 10 van die beste Afrikaanse apps, volgens die hoeveelheid gebruikers wat dit reeds afgelaai het, asook die gradering wat dié apps ontvang het.

Hier is ons lys van heerlike Afrikaanse apps vir jou slimfoon:

1.Wolkskool

Die Wolkskool is ʼn vakgebaseerde hulpbron vir leerders van graad 4 tot 12. Hierdie app is propvol interessante feite en skoolkennis en toets ook die gebruiker se kennis met toetse wat selfs ouers sal wil probeer. Lesse word in videoformaat aangebied. As ʼn leerder in jou huis hul punte moet verbeter, is Wolkskool net die regte app vir jou.

2. Afrikaans Keyboard

Taalpuriste weet ʼn mens noem dit eerder ʼn sleutelbord, maar Afrikaans Keyboard sal jou nogtans help om klaar te speel met die spellingflaters aan jou vriende en familie. Die meeste algemene Afrikaanse woorde en afkortings is reeds op die sleutelbord geprogrammeer. Gaan na jou slimfoon se “settings” toe om jou sleutelbord hiervoor aan te pas.

3. Afrikaans-Xhosa Translator

Elke slimfoon in Afrika het ten minste een goeie vertalings-app nodig, en daar is meer opsies daarbuite as wat jy sou glo. Hierdie Afrikaans-Xhosa-vertaler is ideaal vir enigiemand wat graag hulle woordeskat wil opbou met woorde uit ander tale. Woorde word binne sekondes vertaal, met ʼn kort verduideliking daarvan.

4. Beter Afrikaans

Beter Afrikaans is perfek vir boekwurms wat graag hulle taalkennis toets. Die app is propvol vrae oor grammatika en sinstruktuur, en dit sal selfs mense wat hulle taal goed ken laat gryp na ʼn woordeboek. Elke antwoord gee ʼn ekstra verduideliking oor hoekom jy die taal juis so moet gebruik, met die standaard Afrikaanse Woordlys en Spelreëls (AWS)-reëls daarby.

5. Afrikaans Radio Stations

Afrikaans Radio Stations is ʼn versameling van die beste Afrikaanse radiostasies. Solank jy met die internet verbind bly, kan jy van jou gunsteling-Afrikaanse radiostasies soos Radio Sonder Grense vind – of heeltemal nuwes ontdek waarvan jy nog nooit gehoor het nie. As nog ʼn groot bonuspunt, kan jy die app gebruik om die radiostasie as jou wekker te stel en so word jy met jou gunsteling-Afrikaanse klank wakker.

6. Die Bybel 1953 & 2020 HL

Hierdie verbasend klein app is perfek vir iemand wat altyd die Bybel byderhand wil hê en dit bevat die 1953- en 2020-vertalings van die Afrikaanse Bybel vir lesers wat dit geniet om die teks met mekaar te vergelyk. Gebruikers kan ook soek vir gedeeltes, sodat jy nie hoef rond te blaai vir ʼn spesifieke vers of hoofstuk nie.

 7. Woordwys

Woordwys is die perfekte woordspeletjie vir mense wat hou van ʼn uitdaging: amper soos woordsoek, moet jy nuwe woorde maak van die mengelmoes van letters op jou skerm voordat die tyd verstrek. Nuwe woorde moet gevorm word uit letters wat raak. Dis meer as net vinnige vermaak: jy word woordwys! Hierdie app behou ook jou beste punte sodat jy met ander lede kan kompeteer.

 8. Lees-en-Luister

Lees-en-Luister is deel van die Virtuele instituut vir Afrikaans (VivA) se uitreikingsprogram vir die Afrikaanse taal. Hierdie app is propvol stories wat buite die reikwydte van Amazon se Kindle strek. Daar is heelwat kinderstories vir die jongklomp, maar ook ʼn groeiende biblioteek van kortverhale vir volwasse lesers.

9. LekkeSlaap

As jy graag kamp, die land verken, of dalk net vir ʼn lekker wegbreek saam met die res van die familie wil gaan, is LekkeSlaap een van die heel beste apps hiervoor. LekkeSlaap wys vir jou verskillende verblyf-opsies, maar laat jou ook toe om die perfekte vakansie vir jou te beplan. Kies jou begroting en streek, en kies daarna jou ideale vakansie met net ʼn paar klieks van die knoppies op jou slimfoon se skerm.

10. Maroela Media

Vir al die nuus onder een dak, laai gerus die Maroela Media-app af vir jou slimfoon. Kry die nuutste nuus soos dit verskyn. Die app laat jou kies watter onderwerpe jy die graagste wil lees. Boonop is daar ook selfs ʼn donker-modus om die lees van nuus ʼn bietjie ligter op die oë te maak vir lesers wat dit sou verkies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.