Luister: Oud-Aardklop-hoof oorgehaal om van Afrikaans 100 ʼn sukses te maak

Giep van Zyl het in Maroela Media se ateljee oor Afrikaans 100 gesels. (Foto: Maroela Media)

“Dit sal vir my wonderlik wees as ons op 8 Mei 2025 kan terugkyk en as iemand vra of die veldtog ʼn sukses was, te kan sê dat ons die totale Afrikaanse taalgemeenskap betrokke gekry het, op watter maniere ook al,” sê Giep van Zyl, wat pas as die nasionale koördineerder vir Afrikaans 100 aangewys is.

Giep, voormalige hoof van Aardklop, het teen die agtergrond van Afrikaans 100 met Maroela Media gesels oor sy jarelange ervaring in die plaaslike kunsbedryf, sy verknogtheid aan teater, en wat sy visie vir die eeufeesviering van Afrikaans is.

Liefde vir kuns begin vroeg

“Die kunste was van meet af onlosmaaklik met ons gesin se bedrywighede verweef. My pa het gereeld in die kerk gesing en hy was ʼn goeie amateurtoneelspeler. Ek het as kind sommer so spontaan vir my ma en susters konsert gehou.

“Musiek het ook deurentyd ʼn deel van ons gesinslewe gevorm. Ek het grootgeword met klassieke musiek, koormusiek, en jazz, en dit is waar my liefde vir die kunste ontwikkel het,” onthou Giep.

Sy pa was ʼn predikant, maar is oorlede toe Giep omtrent 10 was. As gevolg van sy pa se beroep het hulle gereeld verhuis. Giep is in die Kaap gebore, waarna hulle vir ʼn paar jaar in Bredasdorp in die Overbergdistrik en in Reitz in die Vrystaat gebly het. Na sy pa se dood het Giep saam met sy ma en susters Potchefstroom toe getrek waar hy laerskool, hoërskool en tersiêre opleiding voltooi het.

Giep het aanvanklik in sy predikantpa se spore gevolg deur teologie by die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) te studeer, maar sy pad het anders verloop.

‘A’ vir Alabama, ATKV en Aardklop

Hy was hier en daar op universiteit by drama betrokke, en in sy derde jaar, “êrens in die 1980’s” onderbreek Giep homself, het hy by die Alabama-studentegeselskap aangesluit waar hy vyf jaar by die organisering van die groep se aktiwiteite betrokke was.

Giep het gou besef dat hy eerder in die vermaakwêreld as op ʼn preekstoel wil wees. Daarom het hy sy teologiese studie gestaak en na kommunikasiekunde verander. Van daar af het sy loopbaan organies in ʼn vermaakrigting in beweeg. “Ek het agtergekom hoe baie ek van die teateromgewing en die verhoog hou, en dit is boonop vir my lekker om met mense te werk en geleenthede te organiseer.”

Wanneer ʼn mens Giep pertinent oor sy liefde vir Afrikaans uitvra, sê hy dat dit amper ʼn natuurlike gevolg van die tydsgees is, waarin hy grootgeword het.

“Jy weet, alles was Afrikaans in daardie tyd. Dit is nie asof ons bewustelik besluit het om aktivisties of taalvegters vir Afrikaans te wees nie. Ons ganse leefwêrelde was in Afrikaans.”

Ná universiteit is Giep eers weermag toe voordat hy in 1989 by die ATKV as organiseerder van kultuurprojekte aangesluit het. Totdat Giep in 1996 by die ATKV weg is, het hy ʼn wye spektrum projekte aangepak.

“Dit is eintlik maar waar ek begin en geleer het. Ek het aan ʼn verskeidenheid projekte gewerk wat onder meer teater, klassieke musiek, kompetisies vir die kunste (soos die ATKV-Crescendo musiek-talentsoekinisiatief), kampustoneel, dramaturg- en kabaretkursusse, insluit,” brei hy uit.

ʼn Paar jaar later was Giep een van die stigterslede en eerste feesbestuurders van die Aardklop Kunstefees. Hy het dié fees vir nege jaar georganiseer en daarna sy eie vervaardigingsmaatskappy begin.

“Die tyd toe Aardklop gestig is, was opwindende tye. Dit was nuwe grond wat gebreek is; ons almal was nuut in die organisering van so fees. Hoewel ons baie ondersteuning van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se feesorganiseerders af ontvang het, was dit iets wat ons op ons eie moes doen.

“As ek terugkyk na die meer as drie dekades wat ek in die kunsbedryf werk, is daar baie hoogtepunte. Maar daai beginjare van Aardklop was regtig van die beste tye in my lewe.”

Giep het al diep spore in die plaaslike kunsbedryf getrap: Voor Aardklop het hy ʼn aandeel in die organisering van KKNK gehad, hy was een van die stigterslede van die Pendoring-reklametoekennings en hy het talle grootskaalse musiekproduksies saam met die bekroonde dramaturg Deon Opperman op die planke gebring. Dit sluit My Fair Lady (Staatsteater, Pretoria), Fiddler on the Roof (Nelson Mandela Teater, Johannesburg), en Knypie oppie Kant (Nelson Mandela Teater) in.

Van 2008 af krap hy “met gemengde sukses” sy eie potjie. “Ek het tussendeur baie werk vir verskillende instellings binne die Solidariteit Beweging, onder meer Maroela Media, gedoen. Maar ek was ook by ander projekte betrokke wat enigiets met teater en goed wat op die verhoog moet gebeur, te make het.

René Arendse, nasionale hulpkoördineerder van Afrikaans 100 en Giep van Zyl, nasionale koördineerder van Afrikaans 100 (Foto: Maroela Media)

‘A’ vir Afrikaans 100

Nou staan Giep aan die voorpunt van nog ʼn wonderlike en opwindende inisiatief, Afrikaans se honderdste jaar as amptelike landstaal. Giep wil as koördineerder daarvan ʼn behoorlike feesviering maak.

Ek het eintlik aansoek vir die pos gedoen omdat ek nie werk gehad het nie,” skerts Giep, en voeg by: “Op ʼn ernstige noot, toe ek daarvan hoor, het ek gedink dit is tipies die soort projek waarvan ek sal hou en waarby ek betrokke wil raak.

“Jare se ondervinding en die netwerke wat ek gevorm het, het my beslis baie gehelp om hier te wees en die rol as nasionale koördineerder in te neem.”

Maroela het vroeër berig dat Afrikaans 100 van stapel gestuur is met die doel om Afrikaans se honderd jaar as amptelike landstaal te vier. Die feesviering gebeur in aanloop tot die taal se eeufeeswording op 8 Mei 2025.

René Arendse, ʼn bekende motiveringspreker en opleier van veral vroue-entrepreneurs, is as nasionale adjunkkoördineerder vir die veldtog aangestel.

  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Giep van Zyl oor sy rol as nasionale koördineerder van Afrikaans 100.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nicolene ·

Lekker om van Giep te lees. ‘n Jaar of twee saam met hom en Alabama getoer en kan net met groot respek van hom praat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.