Luister: Pionierskultuur ʼn padwyser vir die toekoms in Afrikaans

Andre Pienaar, waagkapitaalbelegger en stigter van C5 Capital. (Foto: Tony Powell)

Die waagkapitalis André Pienaar het ʼn diep oortuiging dat Afrikaans ʼn rooskleurige toekoms het.

Dit was juis dié stigter van C5 Capital, wat ook in die wêreld van kuberveiligheid en ruimtenavorsing werk, se grootste oorweging in sy besluit om in die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) te belê.

“Na my mening is Afrikaans ʼn taal van die toekoms. Tegniese werk in die ontwikkeling van Afrikaans, soos dit wat deur VivA gedoen word, vorm ʼn integrale deel van die toekomsplan en -visie vir die taal.”

André se naam is deesdae weer op almal se lippe. Hy was betrokke by gesprekke oor AfriForum se planne om Suid-Afrika uit ons energieverknorsing te red met die ontwikkeling van modulêre korrelbed-reaktors.

Hy is ook een van die beleggers wat gehelp het om Max du Preez se Vrye Weekblad aan die gang te hou.

Met sy belegging in VivA wil André die werk onderskryf wat VivA doen om ʼn tegnologiese taalwêreld vir Afrikaans te ontwikkel, en dit is ook ʼn bevestiging van sy optimisme oor die toekoms van Afrikaans.

“Een van die belangrikste redes waarom ek VivA ondersteun, is omdat ek die waardevolle werk wat Marlie Coetzee en haar span doen, raaksien. Marlie is ʼn baie goeie voorbeeld van ʼn vroueleier wat ʼn belangrike bydrae tot die land maak,” vertel André vanuit sy huis in die VSA via Zoom aan Maroela Media.

Maroela het vroeër berig dat André in Mei 2020 na Marlie, uitvoerende direkteur van VivA, uitgereik het en sy bereidwilligheid geopper om by VivA betrokke te raak. Sedertdien het verskeie gesprekke plaasgevind en vanaf 1 Junie dien André se beleggingsverteenwoordiger, Reine Opperman, op VivA se direksie.

Hoewel André tans in die VSA bly, is sy vinger stewig op die pols van gebeure in Suid-Afrika. Hy is ook op hoogte van verskeie instellings se aanbod en projekte wat op die vooruitgang van Afrikaans toegespits is.

“Daar is beduidende navorsing wat op hierdie stadium in Afrikaans gedoen en geskryf word wat baie waardevol vir die toekoms gaan wees.

“Dink byvoorbeeld aan die tegniese kundigheid wat by sentrums soos Akademia, Sol-Tech en ander akademiese instellings in Suid-Afrika ontwikkel word, en navorsingsprojekte soos die studie oor variëteite van Afrikaans wat verlede week van stapel gestuur is.”

Hy is ook van mening dat Suid-Afrikaanse maatskappye aktief betrokke moet raak by hierdie pogings om Afrikaans te laat groei. “Op besigheidsvlak dink ek meer maatskappye moet organisasies soos VivA op ʼn praktiese en finansiële manier ondersteun. Dit is maatskappye wat baat by die werk wat VivA doen, maar hulle waardeer nie noodwendig altyd die bestek van die kundigheid en moeite wat daarmee gepaard gaan nie.”

Volgens André is daar groot geleenthede vir jongmense in Suid-Afrika in die drie velde waarin hy werk, naamlik kuberveiligheid, ruimte-ekonomie en skoon energie.

“Dit is beide om in Suid-Afrika te werk, en om internasionaal betrokke te wees. Dit is moontlik om die kundigheid in Suid-Afrika en Afrika toe te pas, of om ʼn internasionale loopbaan te bou en vanuit die buiteland in Suid-Afrika betrokke te bly, of om met daardie kennis na Suid-Afrika terug te keer.

“Wat jongmense in gedagte moet hou wanneer hulle aan die toekoms, hulle professionele loopbane en oor hulle betrokkenheid by Afrikaans dink, is dat daar soveel goed in die taal gesê, gedoen en gedroom kan word. Afrikaans gaan nog steeds oor die volgende klomp dekades hier wees.”

Uit sy eie ervaring het André al dikwels ondervind dat wanneer ʼn mens Afrikaans in die buiteland praat, daar in baie lande belangstelling in die taal is. Trouens, in party lande soos Nederland, België en Duitsland, het Afrikaans hom gehelp om mense beter te verstaan.

André skryf dit deels toe aan die uniekheid van die Afrikaanse kultuur.

“Ek dink my pa en my ma het vir my grootgemaak met ʼn ingesteldheid oor die belangrikheid van mooi maniere. Om altyd dankie te sê, jou waardering vir mense uit te spreek, en almal op dieselfde manier te behandel. Daardie mooi maniere en respek vir ander mense het my in my loopbaan ongelooflik baie gehelp.”

Saam met hierdie ingesteldheid, is dit ook die Afrikaanse kultuur se pioniersgees wat André se optimisme oor die toekoms aanvuur.

“Ons is mense wat altyd na die volgende horison en moontlikheid soek, en na die sterre reik. Ek dink dit is belangrik om daardie pioniersgees en onderliggende optimisme oor nuwe en opwindende moontlikhede in die toekoms in ons kultuur te behou en te bevorder. Dit moet ook teenwoordig wees in die manier waarop ons die lewe elke dag aanpak.”

  • Luister boaan die artikel na die onderhoud met André Pienaar. Hy het vanuit sy huis in die VSA via Zoom met Maroela Media gesels oor sy belegging in die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) en die potensiaal om Afrikaans in die ekonomie te ontwikkel. Hy brei ook uit op sy visie om Afrikaanssprekende vroueleiers te help bemagtig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.