Moedertaaldag: Jou gids tot keurige Afrikaans

afrikaans.jpgMet die oog op Moedertaaldag, wat wêreldwyd op 21 Februarie gevier word, het Maroela Media ʼn gids met Afrikaanse hulpbronne saamgestel wat oud en jonk sal help om die lastige taaltoffies in ʼn japtrap kaf te draf.

Die onderstaande lys bevat ʼn versameling taaldienste, inisiatiewe en hulpmiddels wat enigiets van woordeboeke en gratis slimfoontoepassings tot Facebook-groepe insluit.

Boekmerk gerus die artikel en hou dit byderhand vir die ontydige taalgoggas (in alfabetiese volgorde):

Afrikaans.com

Afrikaans.com, ʼn digitale platform wat in 2016 gestig is, is daarop gemik om die diversiteit en skoonheid van Afrikaans te vier en te verken. Hier sal jy dus ʼn wye verskeidenheid inhoud raaklees wat met Afrikaans verband hou.

Die onderwerpe is byvoorbeeld leerhulp, taalnuus, Afrikaanse produkte en ondernemings en vermaak met afdelings vir musiek, boeke, kos, video’s en podsendings. Taalorganisasies, feeste, optredes en projekte word onder meer op Afrikaans.com bemark met deurklik-skakels na die verwante webwerwe.

Hierdie platform is ʼn bymekaarkomplek vir alle mense wat hulself deel voel van die taalfamilie (hetsy naby, verlangs of terloops) en vir enigeen wat meer oor die taal en sy bedrywighede wil weet of sommer net nuuskierig is oor die Afrikaanse leefwêreld.

Klik hier om meer oor Afrikaans.com te wete te kom.

Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS)

Die AWS is die normeringsbron vir Standaardafrikaans wat duidelike leiding oor spelling en skryfwyses bied, en is dus ʼn noodsaaklike hulpbron vir mense wat Afrikaans praat en/of skryf – van skoliere tot taalspesialiste. Dit is as’t ware die handleiding vir hoe om Afrikaans korrek te praat en skryf, en daarom vervul dit ʼn belangrike, onmisbare rol in die gebruik en voortbestaan van Afrikaans.

Hier sal jy hulp kry oor taal- en spelreëls soos:

  • Afkortings
  • Hoof- en kleinletters
  • Leestekens (byvoorbeeld aanhalingstekens, dubbelpunt, komma en skuinsstreep)
  • Meervoudsvorme
  • Skryfwyse – los en vas

Die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) is die amptelike liggaam vir die standaardisering van Afrikaans en is verantwoordelik vir die saamstel van die AWS.

Lees meer oor die elfde omvattend herbewerkte uitgawe van die AWS. Dit word deur Pharos, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, uitgegee.

(Foto: Maroela Media)

Argaïese Afrikaanse uitdrukkings is cool!

Argaïese Afrikaanse uitdrukkings is cool! is in 2007 gestig en een van die oudste Afrikaanse taalgroepe op Facebook. Meer as 27 000 lede gesels daagliks saam oor outydse én hedendaagse Afrikaanse uitdrukkings en woorde.

“Ons groep is ‘n plek waar Afrikaans waardeer en gepraat en bespreek word. Ons kan soms hier koppe stamp oor wat nou eintlik ‘n anglisisme is (of nie) en oor of dit wat my juffrou gesê het in 19toet toe nou werklik die waarheid was (of nie).” – Argaïese Afrikaanse uitdrukkings is cool!, Facebook

Enige persoon is welkom om gratis by die groep aan te sluit; maak egter seker dat jy vooraf die reëls bestudeer en nie later per ongeluk een daarvan oortree nie.

Beter Afrikaans

Beter Afrikaans is ʼn gratis taaldiens wat daarop gerig is om Afrikaanssprekers se taal speel-speel te verbeter.

Hoe werk dit? Gebruikers registreer gratis op Beter Afrikaans se webwerf. Jy ontvang dan elke weeksoggend ‘n e-pos met ‘n skakel na die toets van die dag. Elke toets bestaan uit vier veelvuldige keusevrae en jy kan op drie verskillende moeilikheidsvlakke speel. Deelnemers kry onmiddellik terugvoer oor hulle antwoorde, met ‘n kort verklaring oor hoekom ‘n woord op ‘n bepaalde manier gespel word.

As jy meer wil leer, kan jy ook op die webwerf raadpleeg vir meer inligting oor die los of vas skryf van woorde, deeltekens, hoofletters, moeilike woorde en intensiewe vorme.

Skryf in by Beter Afrikaans en leer speel-speel meer oor spelling. Jy kan gratis die Beter Afrikaans-app in die Google Play Store of Apple App Store aflaai. Beter Afrikaans is in samewerking met die Nederlandse Beter Spellen ontwikkel.

(Argieffoto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Afrikaanse SkryfGoed 6

Afrikaanse SkryfGoed is ʼn versameling van vier skryfhulpmiddels vir Microsoft® Office wat deur Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT®) (NWU) ontwikkel is. Die sentrum werk met verskeie vennote saam aan die bevordering van mensetaaltegnologie in Suid-Afrika.

Afrikaanse SkryfGoed bevat ʼn speltoetser, grammatikatoetser, tesourus en woordafbreker. Die program bied nie ʼn gratis pakket nie en is ongelukkig nie met Office for MAC of aanlyn en tabletweergawes van Office versoenbaar nie.

Klik hier om die speltoetser te bekom of om meer oor die produk te wete te kom. Gebruikers kan ook die CTexT – NWU Afrikaanse Speltoetser-blad op Facebook volg.

Pharos Woordeboeke/Dictionaries

Die Pharos-handelsmerk, wat deur NB-Uitgewers uitgegee word, is ʼn trots Suid-Afrikaanse uitgewer van Afrikaans, Engels, Afrikatale, veeltalige woordeboeke en stylgidse. Dit sluit in:

  • Senior tweetalige skoolwoordeboek/Senior bilingual school dictionary (2023) Spreekwoorde en ander segswyses (2022)
  • Beknopte verklarende woordeboek (2022)
  • Tesourus van Afrikaans (heruitgawe) (2021)
  • Afrikaans vir Almal: Taalreëls, Naslaanlyste, Algemene kennis (2015)

Pharos Dictionaries het sedert die stigting in 1996 gepoog om tred te hou met die vinnig veranderende behoeftes van Suid-Afrikaanse woordeboekgebruikers. ‘n Span toegewyde leksikograwe ontwikkel voortdurend nuwe produkte wat die volle kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse taallandskap weerspieël.

Pharos se woordeboek is op NB-Uitgewers se webwerf beskikbaar of gebruikers kan op PharosAanlyn registreer om die woordeboekversameling digitaal te gebruik.

Taalgoggas en Balbyters

Taalgoggas en Balbyters is ʼn private Facebook-groep met sowat 8 600 lede. Dié groep is vir enigiemand wat in Afrikaans werk of sommer lief is vir die taal.

Die groep moedig Afrikaanssprekers aan om vrae te vra, mekaar van hulp te wees, te redeneer en selfs te debatteer – mits dit met verdraagsaamheid en beleefdheid is.

Hier kan jy aanklop vir gepaste vertalings van Engelse woorde en uitdrukkings, skryfwyse van woorde, en lede laat kopkrap oor nuutskeppings in Afrikaans.

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA)

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) is ’n navorsingsinstituut en diensverskaffer vir Afrikaans in digitale kontekste en is ’n geregistreerde maatskappy sonder winsoogmerk.

VivA bied onder andere die volgende taaldienste en portale aan gebruikers:

  • Taaladviesdiens: Taalnavrae kan per telefoon, webblad, e-pos, Facebook en Twitter aan Sophia Kapp, VivA se taaladviseur, gerig kan word. Klik hier om kontak te maak.
  • Lees-en-luisterbiblioteek: Die tekste word in twee groepe verdeel. Die een groep bevat inhoud vir jong lesers, en die ander een is geskik vir volwasse lesers.
  • Slimfoontoepassing: Die VivA-app is gratis op Google Play Store of Apple App Store Gebruikers kry toegang tot sowat sewe Afrikaanse woordeboeke en woordelyste: die AWS, CTexT® SkryfGoed Tesourus, CTexT® SkryfGoed Woordelys, Kuberwoordeboek, Entrepreneurskapwoordeboek, Voorsetselwoordeboek en Gesegdes.

VivA is gestig deur die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, in samewerking en oorleg met die Noordwes-Universiteit, die Universiteit Stellenbosch en die Nederlandse Taalportaal (onder bestuur van die Meertens Instituut).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kroo ·

Kan ons nie Afrikaans ook maar net natuurlik bevorder nie —- vra vir kindertjies in watter taal hulle bid— ?

Hoe moet ons Afrikaanse kindertjies ( veral die heel kleintjies) voel op Afrikaanse kanale en stasies as die advertensies meestal slegs in engels is ? Dit moet hulle sekerlik baie verwar?

Oorklanking/duidelike onder/byskrifte
kan help en ook werkskep ? !

Kostes kan nie die verskoning wees nie— afslag vir volledige advertensies op die kanaal
wat gebruik word — is n lokmiddel
Help asseblief— dring daarop aan ter bevordering van Afrikaans

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.