Neem deel: Vloek jy in Afrikaans of Engels?

Argieffoto. (Foto: Shutterstock)

As jy iemand is wat min of nooit krutaal gebruik nie, sal jy dalk vinnig wees om te dink dat ʼn studie oor vloek, nie vir jou van belang is of jou insette benodig nie.

Navorsers wat tans besig is met ʼn studie om vloek en tweetaligheid in Suid-Afrika te ondersoek, wil egter juis ʼn verskeidenheid stemme hoor – ook dié wat vloektaal vermy.

“My ma vloek glad nie, maar ek het vir haar gevra om die vraelys te voltooi; ek het haar net vooraf oor die vloekwoorde gewaarsku wat daarin voorkom. Natuurlik voel almal nie dieselfde oor vloek nie, net so voel almal nie dieselfde oor anglisismes of idiome nie.

“Vir hierdie studie om te slaag wil ʼn mens juis ook die stemme van mense hoor wat sê hulle vloek nooit of min nie,” sê Gerhard van Huyssteen, ʼn prominente Afrikaanse taalkundige van die Noordwes-Universiteit.

Hy vorm deel van ʼn groep navorsers wat tans besig is met ʼn studie wat die verskillende emosionele reaksies wat tweetalige mense op vloekwoorde in hul verskillende tale het, ondersoek.

Die studie fokus op Engels-Afrikaanse tweetaligheid, deur die persepsies van vloekwoorde en vloekgedrag van Engels-Afrikaanse tweetaliges in Suid-Afrika te bestudeer.

“Dit het ten doel om komplekse tweetaligheid te meet, ten einde te verstaan waarom sommige woorde as aanvaarbaar in een taal beskou kan word, maar nie in ʼn ander nie,” verduidelik Van Huyssteen.

Die studie word gedoen deur die Universiteit van Wene, in samewerking met navorsers van Suid-Afrika en die Verenigde Koninkryk. Ander navorsers wat by die projek betrokke is, is Elouise Botes en Thomas Goetz van die Departement Ontwikkelings- en Opvoedkundige Sielkunde aan die Universiteit van Wene, en Jean-Marc Dewaele, bekende toegepaste taalkundige van Birkbeck, Universiteit van Londen.

“Dit was ʼn verskriklike lekker proses om die inhoud van die vraelyste saam te stel. Omdat Afrikaans en Engels so nou aan mekaar verbind is, is daar ʼn klomp woorde in albei tale wat min of meer dieselfde is. Ons het ook gesien dat ʼn baie groot deel van Afrikaans se vloekwoordeskat kom uit Engels uit,” brei Van Huyssteen uit.

Hy sê verder dat hulle vir woorde moes gaan soek wat ekwivalente het. “‘Skurk’ teenoor ‘thief’ werk byvoorbeeld nie so goed soos ‘dief’ teenoor ‘thief’ nie.”

Deelnemers regoor Suid-Afrika en elders in die wêreld word gevra om in ʼn vraelys op taboetaal in Afrikaans en Engels te reageer deur die vlak van aanstootlikheid van woorde te beoordeel. Mense wat bereid is om aan in-diepte onderhoude deel te neem, kan ook hulle bereidwilligheid aandui.

Klik hier om die vraelys te voltooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.