Onnies leer ons kinders – wie leer ons onnies?

Toekomsberaad-Danie-Brink

Dr. Danie Brink, die besturende direkteur van die Skoleondersteuningsentrum. Foto: Reint Dykema.

Ons kinders se toekoms word op skool gevorm. Op harde houtbanke en tussen die bladsye van voosgevatte handboeke, bekrabbelde skrifboeke en angswekkende eksamenvraestelle word hul potensiaal gebeitel, afgestof en poleer – óf verwaarloos.

Die hartseer werklikheid is dat Afrikaanse skole, skole wat bykans sonder uitsondering steeds onderrig van wêreldgehalte aan ons kinders gee, onder geweldige druk verkeer. Die ontvolking van die platteland, ekonomiese uitdagings, die vergrote administratiewe las op onderwysers, druk om te verengels, emigrasie en sommige ouers se keuse om hul kinders in Engelse skole te sit, is alles deel van hierdie verhoogde druk.

Is daar dan ʼn toekoms vir Afrikaanse onderwys in Suid-Afrika? As dit van die Virseker Trust afhang, is Afrikaans in al sy gedaantes se toekoms verseker.

Die Trust ondersteun verskeie organisasies wat hulle vir die behoud en uitbou van Afrikaanse onderwys beywer en ingryp waar daar tans leemtes bestaan. Een so ʼn organisasie is die Skoleondersteuningsentrum (SOS). Die SOS is ’n inisiatief wat met die steun van die Virseker Trust toesien dat Afrikaanse skole onderrig van wêreldgehalte bly bied en nog vir jare gaan voortbestaan. Dié instansie ontleed elke jaar die matriekuitslae baie deeglik om te bepaal waar daar ʼn behoefte is en bied dan professionele ontwikkeling vir onderwysers en vaardighede vir skoliere in vakke soos Wiskunde, Afrikaans, Fisiese en Lewenswetenskappe, Rekeningkunde, asook terreine soos leierskap en dissipline.

Die enorme invloed wat onderwysers op leerlinge en hul uiteindelike sukses het, kan volgens dr Danie Brink, besturende direkteur van die SOS, nie genoeg beklemtoon word nie. “Die vakkennis van die onderwyser is een van dié sterkste bepalers van leerder-prestasie in ’n syfervak soos wiskunde. Afrikaanse onderwysers se vakkennis is uitstekend – ons het hulle twee jaar terug ’n matriek wiskunde-eksamen laat skryf en hulle het 97,3% gekry. Dis daarom dat Afrikaanse leerders so goed doen met Wiskunde – vyf keer beter as ander skole in SA. Toetse waar ander onderwysers getoets word dui op standaarde wat skokkend laag is – soms selfs so laag soos die leerlinge self, of selfs laer.”

skool-21.jpeg

Argieffoto

Hy voeg by dat onderwysers vir professionele ontwikkeling en goeie opleiding deur kenners honger. “Hulle is gewoond aan departementele opleiding wat gedoen word deur aanbieders wat soms minder as hulle weet, daarom is die opleiding wat die SOS se beroepsorganisasies bied, vir hulle manna uit die hemel.”

Wiskunde is ʼn baie belangrike skoolvak, omdat dit die hekwag tot talle welvaartskeppende beroepe is. Die SOS het daarom die Vereniging vir Afrikaanse Wiskundeonderwysers (V. A.W.) as professionele beroepsorganisasie gestig om spesifiek na die belange van onderwysers wat Wiskunde aanbied, om te sien.

Die V. A.W. bied professionele ontwikkeling aan Afrikaanse wiskundeonderwysers in die vorm van tweedag-wiskundekongresse, eendag-wiskundekursusse, asook korter middagseminare. Hiér word klem gelê op die holistiese professionele ontwikkeling van Wiskundeonderwysers met opleiding in tegnologie en vakinhoud, om sodoende onderwysers met die nuutste onderrigmetodes te bemagtig.

Brink verduidelik dat 1 700 Wiskunde-onderwysers tans lid van die V.A.W. is. “Met ander woorde, 1 700 maal 200 kinders kry beter opleiding. Onderwysers wat goed opgelei is, lei direk tot beter prestasie van kinders. Dis ’n bewese feit. En dit is die rede waarom die V.A.W bestaan.”

In 2017 het die V.A.W. altesaam 179 sessies aan sy 1 700 lede regoor die land aangebied. Hierdie jaar mik hulle om 200 sessies aan te bied. Lede van die V.A.W. ontvang hulpbronne soos werkkaarte, toetse en eksamens in Afrikaans reg deur die jaar.

“Dít wat skole van die departement ontvang, is meestal net in Engels, of in swak vertaalde Afrikaans,” sê dr Brink. “Ons sorg dat die inhoud van die hulpbronne én die taal waarin dit aangebied is, regtig uitstekend is. Ons het selfs onlangs ʼn klagte van ʼn onderwyser by ʼn dubbelmediumskool ontvang, omdat ons hulpbronne slegs in Afrikaans beskikbaar is – nou moet hy dit na Engels vertaal! Dit is vir ons ʼn veer in die hoed, dat daar meer en beter inhoud in Afrikaans as in Engels beskikbaar is.”

Onderwysers se positiewe terugvoer oor die kursusse en hulpbronne is volop. Kommentaar soos, “julle maak ons hande sterk as ons BAIE moedeloos voel oor die onderwys”, “dit is skitterende Wiskunde-werkkaarte”, en “dankie vir al die lekker nuwe idees, het sommer weer lus om met my Graad 2’s aan die werk te spring”, is bewys van die belangrike en broodnodige werk wat die V.A.W. doen.

tuisskoolonderrig.jpg

Argieffoto

Die Wolkskool is nog ʼn inisiatief van die SOS wat, met ruim steun van die Virseker Trust, kinders met hul skoolwerk help. Brink beskryf die Wolkskool as ʼn aanlyn Afrikaanse skole-Unisa, net beter. “Die hele kurrikulum is beskikbaar, sodat kinders die werk maklik kan bemeester.”

Die Wolkskool bied ’n alternatiewe vorm van skoolopleiding, gegrond op die nuutste tegnologie. Dit plaas wêreldgehalte onderrig binne bereik van kinders in arm en afgeleë plekke deur vir hulle toegang tot hoë gehalte opgeneemde video’s in vakke soos Wiskunde, Rekeningkunde en Afrikaans Huistaal te gee. Werkkaarte en memorandums is ook beskikbaar.

Maar het arm mense geld om data te koop sodat hulle die Wolkskool se lesse kan kyk? Brink verduidelik dat die onderwysdepartement en die privaat sektor redelik goed vir skole sorg wat data betref. “In baie arm skole is daar baie goeie, vinnige internet. Ons bied ook hulp en befondsing aan vir behoeftige studente wat nie ander opsies het nie,” sê hy.

In 2017 het die Wolkskool-span Wiskundeklasse in Calvinia en Amanzimtoti gaan aanbied, om die matrieks vir die eindeksamen gereed te kry. Hulle het ook met die departement van basiese onderwys gereël om vir die onderwysers professionele ontwikkeling aan te bied.

“Ons dien as konsultant vir die departement,” sê Valentyn van der Merwe hoof van Innovasie by die SOS en projekleier van die Wolkskool. “Op afgeleë plekke is akademiese hulp skaars. Maar waar daar internettoegang is, bied die Wolkskool hulp. Ons dupliseer uitstekende onderwysers en maak hulle aan plattelanders én stedelinge regoor die land beskikbaar – aan almal wat hulp nodig het.”

Vir die Afrikaanse gemeenskap is daar dus ʼn antwoord op brandende vrae soos “is my seun se Wiskunde-klasse op peil?”, en “gaan my dogter se skoolopleiding vir ʼn blink toekoms sorg?” Met die hulp van die Virseker Trust, die SOS, die V.A.W. en WolkSkool, is die antwoord “beslis!”.

  • Maroela Media en die Virseker Trust werk saam om Afrikaanse onderwys en ander Afrikaanse inisiatiewe te ondersteun. Kry ʼn verpligtingvrye Virseker-kwotasie.
  • Virseker is ʼn produk van Auto & General Versekeringsmaatskappy, ʼn gemagtigde finansiëlediensteverskaffer. B’s & V’s geld. (FDV-lisensienommer: 16354)

Wen ʼn bootreis!

Neem deel aan Maroela Media se kompetisie en staan ʼn kans om ʼn bootreis saam met Groot FM te wen. Bepalings en voorwaardes geld. Lees meer.

Die kompetisie het gesluit.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Ouerskap, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae