Oom Frikkie koop ’n dorpshuis

dorpshuis

Foto: Ayshbanaysh.com

’n Ware verhaal

Daar was nogal redelik belangstelling die middag toe oom Willie sy dorpshuis laat opveil het. Hy was ’n gesiene man in hierdie klein dorpie waar almal mekaar geken het. ’n Goeie boer wat slim en hard gewerk en verstandig met sy sake omgegaan het. Hy was ’n kerkman wat ’n oop hand vir sy medemens gehad en Spreuke 19:17 uitgeleef het. Dáár staan geskrywe: “Geseënd is die mens wat hom oor ’n arme ontferm. So ’n mens gee ’n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed.” Oom Willie het baie sulke lenings gegee, en die Here het goeie rente betaal.

Hy het die huisie jare gelede vir ’n belegging gekoop, maar die huurgeldjie vir ’n klein huisie op ’n klein dorpie is nie watwonders nie. Veral nie vir ’n groot man met ’n klein hartjie soos oom Willie nie. Die huurgeld van die bejaarde Naudés wat daar gehuur het, is in al die jare nie verhoog nie. Dit het niemand ooit geweet nie, want oom Willie was ’n man wie se linkerhand nie geweet het wat sy regterhand doen nie.

Pa het geweet, want hy was die Naudés se ouderling, en die tannie het dit vir hom vertel. Dominee het ook geweet sonder dat iemand vir hom gesê het, want hy het sy mense geken. Ná die Naudés ouetehuis toe is, het oom Willie die huisie laat opveil. Dis nie dat daar veel belangstelling onder die veilinggangers was om die huisie te koop nie. In ’n landbougemeenskap is vendusies belangrike sosiale geleenthede waar almal sommer kom hoor hoe dit met almal gaan. Maar by hierdie veiling het daar iets gebeur waaroor die mense nou al baie jare praat as hulle regtig iets wil sê. Dis hoekom Pa my baie jare later daarvan vertel het, in ’n stampvol kerk nadat oom Willie op ’n rype ouderdom dood is.

Die veiling

Die afslaer was van die buurdorp, en het nie die mense geken nie. Hoe moes hy dan nou geweet het dat oom Frikkie nie ’n man was wat gereeld op huise by veilings gebie het nie? Hy het die beskroomde man nie eens raakgesien wat so senuagtig sy papiere vasgeknyp het nie. Sy haastige afslaer-oog was veel eerder op die meer gegoedes as op die skraal man wat ooglopend nie die selfvertroue van ’n vermoënde koper uitgestraal het nie. Tant Bettie het in die bakkie gewag, die spanning was vir haar te veel. Oom Willie het almal persoonlik gegroet soos die gewoonte was, maar toe hy oom Frikkie sien, het dit gelyk of hy ’n oomblik diep ingedagte geraak het.

Oom Frikkie het lank vir hierdie veiling gewag, daarvoor beplan en met die versigtige bankbestuurder daaroor geredeneer. Hy en tant Bettie het maande tot laataand oor die groot trek dorp toe gepraat, nadat hulle besluit het dat dit tyd geword het om hul plotplasie te verkoop. Hul jare het nie stilgestaan nie, en die gestremde tweeling het nader sorg nodig gehad. Hy en die tannie het die huisie goed geken, omdat hulle gereeld by die Naudés kom kuier het. Nogtans het dominee homself ná die veiling daaraan herinner dat hy die tweetjies ’n paar keer in hul bakkie naby die huisie gesien het. Dis asof hulle wou séker maak dat dit regtig húl plekkie is. Daar is nie veel huise in die dorp in oom Frikkie-hulle se prysklas nie – en hierdie een móés hulle net hê. Hy was net groot genoeg, met nog genoeg plek vir ’n groentetuin en hul pluimvee wat hulle saam dorp toe wou bring.

Oom Frikkie se bod

Maar daar was een ding wat die twee nie geweet het nie, en dis dat ’n dorpshuis net so duur soos ’n klein plasie sou kos. Die bankbestuurder se somme het gewys dat hy hoogstens R45 000 sou kon betaal. Hy kon oom Frikkie nie oortuig dat dit selfs in daardie jare hopeloos te min sou wees nie. Hulle het by mekaar verbygepraat. Bankbestuurders maak staat op somme, oom Frikkie op geloof.

Die veiling het so skielik begin dat oom Frikkie byna op die verkeerde voet betrap is. Sy droë keel kon skaars hoorbaar “veertig” uitkry, en oom Willie het skielik verstaan hoekom hy hier is. Maar sommer met die tweede bod is oom Frikkie se plafon al bereik toe iemand “vyf en veertig” aanbied. Toe die afslaer vinnig na hom kyk, het hy blindweg met “sewe en veertig” geantwoord, maar  stilgeraak toe die afslaer vinnig met die geldtrappe opdawer.

Die afslaer was selfs vir oom Willie te vinnig, en dit was eers toe  hy “vyf en sestig” hoor dat hy tot verhaal kon kom. “Wag ’n oomblik,” het hy gesê en sy hand half in die lug gesteek. “Ek aanvaar die aanbod van Frik Coetzee vir sewe en veertig duisend.”

“Wat?” het die afslaer verbaas gevra. “Ons trek al op vyf en sestig.”

“Ja, maar ek aanvaar Frik se aanbod,” het oom Willie sag maar beslis gesê. “Sewe en veertig.”

Dit het stil geraak onder die afdak. Die afslaer was sprakeloos. Oom Frikkie was nou self verward, en het verstom heen en weer na oom Willie en die afslaer gekyk. Dominee het uiteindelik die stilte verbreek met ’n: “Nou maar geluk met jou nuwe huis, ou Frik!”

Die mense het spontaan begin hande klap, Pa eerste, want hy het die lief en leed van albei mans geken. Die manne wat hoër gebie het, het saam hande geklap, bietjie skaam dat hulle nie gesien het wat oom Willie raakgekyk het nie. Die afslaer het uiteindelik begryp, van die trappie afgeklim en onder by die mense kom staan. Dominee het niks meer gesê nie. Want almal het oom Willie se preek verstaan, al was dit nie Sondag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Ben ☺☺☺ ·

Dieselfde het met my gebeur – maar met `n voertuig – toe niemand wou help nie, toe help God sommer self – besef ek toe weereens om nie op mene te vertrou nie.

Ansie Geldenhuys ·

Vandag gaan my komplimente aan Maroela! Ek lees elke dag – geen koerante! Dankie vir almal wat werk aan hierdie goeie leesgenot.

Cecil Doyle ·

Ek ken nie vir Oom Willie of Oom Frik nie, maar kry sommer n knop in my keel.
Geld is nie alles nie. Pragtig Oom Willie

Winston ·

Dankie vir hierdie stukkie. Ek ken hierdie soort somme. Hulle werk altyd.

Cecil Doyle ·

Winston ek stem saam. Sal graag wil weet in watse dorpie dit gebeur het.

Flip ·

Cecil, dit het op Sannieshof gebeur. Ek het die name verander omdat ek nie die betrokkenes wil blootstel nie. Ek het nog kontak met die twee families- Oom Frikkie se kinders bly nog in die huis, en doen baie vir Oom Willie se familie en die gemeenskap.

Cecil Doyle ·

O ok baie dankie. EK ry baie deur Sannieshof
En bly in Vryburg

Jan Fredericks ·

n Wonderlike storie. As mens hard luister en fyn kyk sien jy weel meer as net die oppervlakte.JF

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.