Oom Sopie en die kôktyl

ou-hande-drankie

Foto: Pinterest.com

Ludwig Visser

Dit was maar ’n half aardige bedruktheid wat daardie Saterdagmiddag daar tussen ons kom nesskop het. Ons het gevoel ons oë het ons dalk bedrieg, maar ons het tog self gesién wat ons gesien het, en ons móés glo.

Die oorsaak van hierdie gevoelentheid was die Springbokke wat nou al weer vir die soveelste keer drooggemaak en liederlik slae gekry het teen die All Blacks. En ons was so bedruk dat ons nie eens lus gehad het om te gesels oor wat ons alles gesien het wat verkeerd loop neuk het daar in die Springbokspan nie.

Ons het vroe’middag al hier by oom Sopie op Duinpan bymekaargekom, al die bure, want sien, oom Sopie het ’n piering-TV – dis in elk geval hoe hy die ding noem – en ons kon daar kom rugby kyk asof ons self daar vlak langs die veld gesit het. Die vrouens het almal op die stoep sit en gesels en was nie naby genoeg om die bedruktheid op ons gesigte te sien en in ons harte te lees nie.

Gelukkig het oom Sopie al die oggend laat weet wanneer ons kom rugby kyk, moet ons nie so haastig wees huis toe om die hanslammers te gaan voer of die weglêhoenders se neste te gaan opsoek nie. Hy het ’n paar winddroog-ribbetjies en dié gaan hy ná die wedstryd braai. Hy het ook ’n botteltjie of twee KWV, en dis buitendien weer tyd dat ons almal ’n slag bymekaarkom en gesels. Hier in die Boesmanland is ons maar ver van mekaar af en sien ons mekaar eintlik net met nagmaal, by veeveilings of vergaderings van die boere-unie. Af en toe by ’n begrafnis. Of dan nou by sulke geleenthede soos dié wat deur oom Sopie se piering-TV geskep word.

Toe ons uitstap kookskerm toe, was alles al reg daar. Ou Jakob het al die vuur aangesteek gehad, die tafeltjie met die versterkinkies het al eenkant onder die peperboom gestaan, en ons het daar in die skerm gaan sit, so al in die rondte teen die vlierbosmuur langs asof ons die een of ander beraad gaan hou.

Oom Sopie het sy skinke geskink en ons het ietsie gesluk om die bedruktheid uit ons binneste te verwilder. Ná so’n rukkie het ons almal gevoel ons ontspan nou weer so effens en toe Jakob die derde keer met die skinkbord nader staan, toe was die Springbok-skandes amper vergete. Oom Sopie het nog so een opmerking gemaak, asof hy daarmee wou aandui dat die onderwerp van die rugby nou afgehandel is.

“Ai, manne, daardie meisiemensie wat voor die wedstryd die volksliedere gesing het, was nogal ’n mooi ou kindjie. Ek is nou nie gek na ons nuwe volkslied nie, maar sy het darem ‘Oom Kosie Soek ’n Lêplek’ nogal heel aandoenlik gesing, al het sy g’n woord daarvan verstaan nie.”

Ons ander het dit beaam en maar weer in ons glase vertroosting gesoek.

So teen die vierde ronde het die manne se tonge begin los raak en het die gesels begin vloei. Oor die skaap, die vleisprys, die wolprys, oor skeerspanne, die weer, die regering, oor álles.

En toe daar weer so ’n stiltetjie kom, laat hoor oom Sopie: “Kêrels, wat vir ’n ding is ’n kôktyl?”

En net daar vat hy ons hele geselsery krop, want niemand kan dadelik sy vraag beantwoord nie.

Later vra een darem: “Nou hoe bedoel oom Sopie nou? Is dit ’n nuwe soort skaap of is dit iets wat ’n mens eet of dalk al weer een van daardie nuwe soort rokkies wat die meisiekinders op die dorp dra, daardies wat hul naeltjies so laat uitsteek?”

“Nou hoe sal ek nou weet. Ek vra dan nou vir julle,” laat oom Sopie hoor.

“Ek weet nie wat dit is nie, maar dit klink vir my Ingels,” laat Freek Daspoort hoor. “Maar van Ingels weet ek net soveel soos die kat van saffraan.”

“Ja, ek meen ook dis Ingels, maar wát is dit?” hou oom Sopie vol.

Freek voel duidelik hy het ’n groot deurbraak gemaak en hy beur voort. “As ek dit nie mis het nie, is ’n kôk ’n hoenderhaan en ’n tyl is dan nou sy stert, en dis ook so ver soos ek met die ding kan kom. ’n Kôktyl is ’n hoenderhaan se stert.”

“Juis,” sê oom Sopie, “maar dit maak die hele besigheid vir my nog meer duister, want wat ’n haan se stert met die hele affêre te doen het, is vir my Joods.”

Iemand anders sou dalk gesê het iets onverstaanbaars is vir hom Grieks, maar vandat oom Sopie vir ou Isaak Gelb op Kraalboskolk oor die telefoon met sy broer in die Kaap hoor praat het, het hy besluit as daar nou ’n onverstaanbare taal op aarde is, dan is dit dié wat die Jode praat, en dís Joods.

“Maar ek sal julle vertel waar ek dit gehoor het, miskien verstaan een van julle dit dan,” gaan oom Sopie voort.

Die oom is nou nie juis een wat drink om by die res van die geselskap by te hou nie, en hy sit nog met sy tweede KWV’tjie en hy suiwe maar stadig daaraan, terwyl ons ander se tonge al losser word en ons breine al helderder dink en vir al groter probleme kans sien.

“Julle weet mos van my vallery.” Ja, ons weet van die vallery. Oom Sopie het ons ’n vorige keer daarvan vertel, van hoe hy gegly het toe hy langs die pad ’n draai geloop het, hoe hy met harsingskudding in die hospitaal beland het, hoe die koste hom uiteindelik gehelp het om te verstaan wat inflasie dan nou eintlik is.

“Nou, dis oor daardie einste vallery dat ek en die vrou nou die dag sit en gesels, en sy trap my so half vas oorlat ek dan nou kwansuis so onverskillig sou gewees het. Ek kon mos sommer net hier langs die bakkietjie gestaan het en my ding gedoen het, dan was dit nie nodig om te gaan staan en val nie, verwyt sy my.

“Maar ek verstaan natuurlik hoekom sy so sê, want ek het julle mos gesê hoe sy die dag geskrik het, en daardie skrik het seker nou eers uit haar lyf  begin trek.”

Weer ’n suiwetjie aan die KWV.

“Toe sê ek ewe gemoedelik vir haar: ‘Vrou, ’n mens kan mos nie sommer net so daar in die hete son loop staan en dinges nie. Sê nou ’n man kry sonbrand op ’n gevoelige plek?’ ”

Dit was genoeg om ons ander wat die oom al twee KWV’tjies voor is, hééltemal van die Bokke te laat vergeet en te laat krul van die lag.

“Maar,” gaan oom Sopie voort toe ons tot bedaring kom, “die vrou het duidelik g’n meegevoel met ’n man nie, want sy weet my toe te vertel volgende keer maak sy vir my ’n sambreeltjie wat ek so oor my gevoelige plekkie kan hou as ek dan nou in die veld ’n draai móét loop, en dit sal dan keer dat ek sonbrand kry waar ek nie sonbrand wil hê nie. En sy maak nogal asof sy die mate vir so ’n sambreeltjie het. Hy sal dan nou net so gaaf wees soos die sambreeltjies wat ’n mens op kôktyls sit.”

Ons ander brul van die lag, maar nou kan ons ook sien waarheen oom Sopie se kop werk, want hoe bring jy nou ’n haan se stert en ’n sambreeltjie in verband met so ’n draailopery in die veld? Ek bedoel, die een is mos darem so ver van die ander een af verwyder soos die ooste van die weste, soos dit in die Groot Boek staan.

Ons skud net ons kop, want oom Sopie het ons vasgevra.

Maar Freek Daspoort se kop was verder losgewoel deur die KWV as ons ander s’n en hy probeer weer ’n slag. “Maar is ’n kôktyl dan nie iets wat ’n mens drink nie, oom Sopie? Ek verstaan daar in die stad drink die mense sulke goed en as hulle dit vir jou skink, is daar glo ’n stukkie vrugte of iets anders in, en net voor jy dit kry, steek hulle ’n papier-sambreeltjie so oor die ding in die vrugte vas, amper asof hulle die vlieë daaruit wil hou.”

“Kan nogal wees,” sê oom Sopie, en dis duidelik dat hy nou nog dieper dink oor die probleem, asof daar iewers in die verskiet so ’n skemerinkie is wat dalk ’n verduideliking kan wees. “Die vrou het mos op ’n wynplaas in die Boland grootgeword. Dis seker dié dat sy van al sulke ondinge weet.”

Hy dink weer bietjie na, en dan is dit duidelik dat daar nuwe twyfel by hom opgekom het, dat Freek Daspoort se deurbraak nog nie vir hóm ’n deurbraak was nie.

“Maar nou verstaan ek nog nie hoe die vrou my so ’n sambreeltjie kan aanbied nie, want sê nou dit het iets te doen met die haan se stert? Hoe weet ’n mens nou of die stert se lengte dan nou hoegenaamd ooreenstem met die skaduwee wat die vrou dan nou in my geval met ’n sambreeltjie wil skep? Ek bedoel, die sterte verskil mos van haan tot haan. Die een haan se stert is mos nou nie so lank soos die ander haan s’n nie.”

Hierop kon selfs Freek Daspoort oom Sopie nie antwoord nie. Hy kón gesê het die tante het dalk ’n goeie oog wat goed kan skat. Maar dit was vir ons almal duidelik dat oom Sopie maar self die antwoord op sy vraag oor die kôktyl-sambreeltjie sal moet gaan soek. Daar lê duidelik nog ’n diep gesprek tussen hom en die tante voor, en dááruit wil ons liewer bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Cornelia ·

Lekker gelag oor “Volkslied” van Oom Kosie! Altyd lekker om Ludwig se stories te lees. Dankie.

neelsie ·

Dankie, lekker om iets te lees waaroor ons kan lag.
Dit laat mens dink aan die vreedsame tye.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.