Vervolgverhaal: Roep van die uil (Hoofstuk 2)

Roep van die uil
Hoofstuk 2
Deur François Bloemhof

Wat vooraf gebeur het: Linda wil inpas by Kanieklanie se inwoners, maar kry ’n onvriendelike briefie in haar kamer en ’n oproep van iemand uit haar verlede …

 

Linda se hand is styf om die gehoorbuis geklem. Toe sy weer praat, is dit sagter.

“Hoekom bel jy, Dirk?”

“Jy vra! Die meisie in my lewe verdwyn dan tussen neus en ore. Hoe moet ek nou voel?”

“Ek is nie meer die meisie in jou lewe nie.”

“O, daaroor verskil ons twee.” Sy hoor hom asem uitblaas. Sy onthou hoe hy sy onderlip uitstoot wanneer hy dit doen. Op ’n tyd was dit vir haar te dierbaar.

“Hoe’t jy geweet waar ek is?” Meteens is dit vir haar te veel: die besef dat hy haar énige plek sal vind. “Moenie weer hierheen bel nie,” voeg sy by en plak die gehoorbuis neer.

Sy staan en kyk na die telefoon. Besluit om te gaan stap voor dit dalk weer lui.

 

In die hoofstraat dink sy nog daaraan dat dit haar slegs twee dae gevat het om Stilwater van hoek tot kant te leer ken, toe sy iemand hoor roep.

Sy steek die straat oor. Hoop sy het nie merkbaar verstyf nie.

“Linda!” roep hy weer.

Maar sy is reeds by die tuisbedryf, waar mevrou Meiring nes gister in die deur staan.

“Stephen roep jou,” sê die vrou.

“Ek het gehelp toe mevrou vir oom Bert wou wegkruip.”

“Nou ja toe, kom in.”

Linda voel sleg daaroor. Stephen is nie soos Dirk Greeff nie. Maar sy durf hom nie aanleiding gee nie. Sy bly by die toonbank staan terwyl die vrou oor haar skouer kyk.

“Hy het teruggegaan,” rapporteer mevrou Meiring. “Hy kon seker nie die kantoor net so los nie. Maar hoe is dit dan, hy’s dan so aantreklik?”

“Ek het mevrou nie uitgevra oor oom Bert nie,” herinner Linda haar sagkens.

“Daai swerkater! Al mens op die dorp wat nie weet ek kan hom nie uitstaan nie, is hy. Snuffel oral. Hoog tyd dat iemand hom sê hy wás ’n poeliesman en is lankal nie meer nie.”

Vir ’n oomblik wonder Linda of daardie nare briefie in haar kamer dalk geskryf is deur iemand wat uitgekuier geraak het met die afgetrede lewe.

Tog seker nie.

 

Met aandete vermy sy Stephen se blik. Hy hare ook, wil dit haar voorkom.

Leanne, daarenteen, is gou om te antwoord toe Linda vra hoe haar dag was: “Aag, die gewone. ’n Klomp simpel onnies wat goed praat waarna niemand luister nie.”

“Vandag se kinders het geen respek nie,” merk oom Bert op.

“Met goeie rede,” kap die meisie terug.

“Hoe skerp is so ’n tong vanaand,” lag Stephen.

Moira lag saam en sit haar hand op syne. Hy trek dit nie weg nie.

So gou as wat Linda kan, gaan sy met die trap op, bad, borsel haar tande en klim in die bed. Sy is niks vaak nie – dis skaars halfnege – en besluit om eers ’n ruk te lees.

Toe die boek in haar hand ruk, besef sy dat sy ingedommel het. En toe sy ’n geluid hoor, besef sy dis wat haar wakker gemaak het. En hou sy op met asemhaal.

’n Gekletter teen haar venster. Klippies? Sy skakel haastig die bedlampie af. Op haar tone loop sy venster toe en trek die gordyn effentjies opsy.

Al is die tamaai akkerboom in die pad, kan sy iets in die tuin uitmaak. ’n Man. En hy kyk op na haar toe!

Haar hart skop teen haar ribbes voor sy besef nee, sy aandag is op die venster langs hare – waar daar ’n beweging is – en dat ’n klippie wyd moes getrek en die verkeerde venster getref het.

Leanne gebruik die akkerboom se takke om ondertoe te klim. Dan verdwyn die twee figure in die donker.

Skielik is daar ’n paar oë reg voor Linda. Haar hart gee nog ’n skop voor sy sien dis ’n uil: geel kykers met vertikale pupille soos die vliesies binne-in albasters. Roerloos sit en gluur hy haar aan, asof hy gekom het om die waarheid in die oopte te bring.

 

Vroeg die oggend hoor sy Leanne se stem in die gang: “Ek voel sleg, Mamma. Ek dink nie ek moet vandag skool toe gaan nie.”

“Hóé voel jy?” vra Essie bekommerd.

“Soos die dood se stiefsuster.”

’n Kwartier later hoor Linda hoe Essie op die onderste vlak die skool se sekretaresse bel. Een ding is vir seker en dis dat Kanieklanie se akoestiek goed is.

Teen die tyd dat sy onder kom, het Essie net mooi ’n bord kos gereed: weer eens spek en eiers. “Het jy orraait geslaap?” wil sy bespiedend weet.

Linda probeer dit weglag. “Lyk ek sleg?”

“Stephen het gisteraand vir my gesê jy lyk nie gelukkig nie.”

“Ek is nie óngelukkig nie.” Sy kon nie die skerp toon keer nie. Hoe anders sou haar lewe nie gewees het as mans minder orig was nie.

Dirk Greeff. Vir ’n oomblik is sy gesig so duidelik voor haar …

“Is daar iets waarmee ek kan help?” vra Essie.

Of dit nou gelukkig of ongelukkig is, Stephen kom op daardie oomblik by die eetkamer in, vergesel van Moira.

“Môre, almal!” Klaarblyklik het hy ’n beter nagrus as sy gehad.

Net so Moira. Sy is perfek gegrimeer, die hare weer net-so. Sy moet in die tweede helfte van haar dertigs wees, maar lyk minstens vyf jaar jonger.

Sy kyk Linda so. “As jy die een of ander tyd by die boetiek ’n draai wil maak dat ek jou onder hande kan neem, is jy welkom.”

“Dankie, Moira.”

Jou kat, dink sy. En jy het my reeds onder hande geneem, sal jy onthou, toe jy my daardie foto van jou en Stephen gewys het. Geniet hom egter maar. Jy sal nog sien wat gebeur as jy ’n man die hoofrol in jou lewe laat speel.

Terwyl hulle eet, luister Linda hoe Stephen en Moira gesels: die gemak wat kom van mekaar goed verstaan. Geslaagde huwelike is al op minder geskoei.

Hulle is skaars uit by die voordeur, toe kom oom Bert by die trap af. “Ou Essie, jong, is jy nog reg vir afsit tuisbedryf toe? Jy moet mos beskuit kry.”

Hoe gááf van hom om saam te gaan, dink Linda. Praat van besorg wees oor die halsband sodat jy by die hondjie kan uitkom …

 

Iemand anders stel ook in die tuisbedryf se eienares belang.

Mevrou Meiring is al meer as ’n uur in haar heiligdom, maar nog nie een mens het ’n neus by die deur ingesteek nie.

Hoekom hou sy vol hiermee? Sy wonder soms. Haar man, mag die ou swernoot in vrede rus, het stinkryk by sy pa geërf en sy toe weer by hom. Sy hoef nie ’n vinger te verroer nie.

Nooit as te nimmer sit sy weer geld in die bank nie – hulle steel dit so onder jou uit. Maar het die mense nie gepráát toe sy alles net so trek nie.

“Dis nie veilig om dit by die huis te hou nie,” het die bestuurder se vrou haar so ewe kom maan, waarop Dorinda laat hoor het: “En jy en Gerrit weet seker tot op die sent hoeveel daar is!”

Die persoon hou haar dop van oorkant die straat. ’n Smal boom in ’n gangetjie tussen twee geboue kan verbasend baie wegkruipplek bied.

Dis amper soos gisteraand. Nie een gordyn in die huis byna langs Kanieklanie was toegetrek nie en mevrou Meiring kon maklik dopgehou word. Daar was egter geen aanduiding van waar sy dit wegsteek nie.

Al daardie geld …

 

Linda het nog ’n ent met die boek gevorder, toe sy ’n kraakgeluid hoor en verstar. Sy ken dit. Dis wanneer gewig geplaas word op die trap vierde van bo af.

As een van die huismense teruggekom het, hoekom so sag beweeg?

“Wie’s daar?” roep sy. Dalk laat dit hom padgee.

Toe sy agterkom sy hou asem op, herinner sy haarself dis ’n rustige dorp. Nie almal het iets om weg te steek soos sy nie. As sy alleen was, het sy nou eenvoudig haar deur gaan sluit. Maar Leanne is ook hier en boonop siek.

Daarom loop Linda na die deur toe – opsetlik hard. Sy wil dit nie oopmaak en dan staan iemand reg voor haar nie!

Sy draai die knop. Die persoon het net-net nie genoeg tyd gehad om pad te gee nie, want toe sy in die gang afloer, sien sy ’n deur toegaan. Essie het daardie vertrek die sonkamer genoem.

Stilletjies loop sy soontoe. Sy besluit om nie Leanne se kamer binne te gaan nie; laat sy eers …

Sy weet nie wát sy gaan doen nie. Maar op ’n kassie staan ’n blompot, die enigste moontlike wapen. Sy pluk die rose uit en lig dit op. Stewig genoeg.

Doen dit nou! Sy stoot die deur oop.

Dit is skemerig, want die gordyn is toe. Versigtig loop sy die vertrek binne, al is dit skynbaar leeg. Sy het haar tog nie verbeel nie?

Nee, sy het nie. Daar is geen bries wat die gordyn hier reg voor haar kon laat beweeg het nie – maar dit hét.

 

(Lees die volgende hoofstuk elke Dinsdag op Maroela Media)
*Die verhaal het oorspronklik in Vrouekeur verskyn en word met vergunning op Maroela Media gepubliseer.

François Bloemhof

Meer oor die skrywer: François Bloemhof

François Bloemhof het reeds meer as 100 boeke vir volwassenes, tieners en jong lesers geskryf. Hy woon in Durbanville en is die persoonlike sjef van vier puntenerige katte.

Deel van: Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae