Vervolgverhaal: Roep van die uil (Hoofstuk 5)

Roep van die uil
Hoofstuk 5
Deur François Bloemhof

Wat vooraf gebeur het: Linda sien weer vir Dirk, die man van wie sy gevlug het – en wat haar al die pad tot op Stilwater gevolg het …

 

Op pad terug na die losieshuis vermy Linda die tuisbedryf om twee redes.

Dit sal aardig voel om mevrou Meiring nie weer in die oop deur aan te tref nie. En sy het nie die krag om nou met Essie te praat, wat die laaste eetgoed in die winkel probeer verkoop nie.

Daarvoor het die gesprek met Dirk Greeff haar te veel ontstel. Het sy werklik eers sulke baasspelerigheid vir ’n sterk karakter aangesien? En sy besitlikheid vir ’n behoefte om haar te beskerm?

“Ek het tyd nodig om te dink.” Dit was vyf minute gelede haar laaste woorde aan hom, omdat sy net wou wegkom.

Nou besef sy dit moes geklink het asof sy steeds ’n toekoms vir hulle twee oorweeg. Terwyl enige sulke kanse saam met Desirée dood is.

Die vrou wat volgens Dirk hom so afgeskeep en verkleineer het, was toe al die tyd die een wat onder hom gely het. Die een wat jare lank om elke hoek en draai verneuk en verneder is.

Maar hierdie verneukspul was anders. Dirk het vir Desirée gesê hy wil met haar, Linda, trou. En daardie aand, terwyl Linda na nog van sy mooi woorde in ’n restaurant sit en luister het, toe gebeur dit …

“Haai daar!” hoor sy meteens.

Demmit, hier is sy naby die boetiek en moet seker maar maak asof sy hierheen op pad was.

“Hallo, Moira. Ek soek ietsie wat bevogtig en keer vir die son. Ek kan nie glo ons is skaars ’n uur uit die stad, maar ek brand soveel vinniger hier nie.”

Moira trek skewemond. “Mense hier traak nie. Hulle dink dis aanmatigend om die ouderdom te probeer keer. Jy hoef dit ook nie aan te jaag nie!”

Linda wonder hoekom Moira so ooglopend gevoelig oor haar ouderdom is. Dis bloot onnodig. Terwyl sy kyk hoe die vrou ’n buisie van die rak afhaal, besluit sy dis die regte tyd om iets anders aan te roer: “Ek praat vanoggend met Leanne. Ek het gedink jy en Stephen gaan uit, maar sy sê …”

Moira lag. “Jy’s reg, dit was nie waar nie. Of nie meer nie. Maar dit was ’n goeie probeerslag, of hoe?”

Linda is skoon oorbluf. “Ek verstaan nie.”

“Dis hoe die lewe werk, meisie. Party dinge kry jy en ander is jou nie beskore nie. Ek glo net nie daaraan om enigiets sommer wég te gee nie.” Sy lig haar wenkbroue. “Toe nou, jy hoef nie so verbaas te lyk nie. Ek verdien ook mos iets in die lewe. Ek is nes jy hier om weg te kom.”

“Ek is nie …” Sy gaan dit los en nie stry nie. Sy praat met iemand wat haar dalk van almal in Kanieklanie die beste verstaan.

Sy wil vra of dit Moira was wat die briefies geskryf het. Maar los dit ook.

 

Linda is naby die losieshuis toe ’n man by die hekkie uitkom: die polisieman.

Sersant Goosen loop haar tegemoet. Dit voel asof hy, soos die uil buite haar venster, tot diep in haar siel wil kyk.

“Juffrou Carstens, ek het nou net met Leanne gesels. Sy sê dis jy wat haar oorreed het om my te bel. Oor hoekom Jannie Engelbrecht hier was kort voordat mevrou Meiring vermoor is.”

“Dan weet u reeds die twee is gekys.”

“As vandag se kinders dit nog so noem.” Hy korrel nog meer intens na haar. “As jy enige ánder inligting het, moet dit nie verswyg nie.”

“Natuurlik nie.” Haar keel trek toe. Die ou versigtigheid vir polisiemanne het baie toegeneem sedert wat met haar en Dirk gebeur het.

“Ek sou nie sê die seun het ’n váste alibi nie, maar dit lyk my ons is nou ons hoofverdagte kwyt.”

Sy weet waarop hy afstuur. Sy is dan nuut op die dorp.

Hy gaan voort: “Ek hoor by Bert jy adverteer nie juis jou agtergrond nie. Dalk sal jy in hierdie omstandighede meer openlik wees.”

“Goed. Maar ek neem aan dis vertroulik.” Sy wag tot hy knik. “Ek is weg uit Kaapstad omdat … Dit was oor ’n man. Ons het ’n verhouding gehad, maar hy was reeds getroud.”

Sy bemerk ’n siniese trek om sy mond.

“Toe neem sy vrou haar eie lewe.”

“Hóé?” wil hy weet.

“Sy het haarself in hulle motorhuis opgehang. Haar naam was Desirée Greeff. Toe dit uitkom dat ek en hy mekaar gesien het, het mense … wel, hulle het ons verdink. U kan aflei. Veral aangesien sy baie ryk was.”

“Dis voordelig. Jou minnaar was toe ryk én vry.”

Linda se wange gloei. “Die saak is deeglik ondersoek.”

“Ek sou so dink.” Sersant Goosen bly ’n oomblik stil. “Dankie vir jou eerlikheid. Dit spaar my ’n klompie moeite. Maar ek sien nie ’n meneer Greeff saam met jou nie?”

“Dit is verby tussen ons. Dis hoekom ek hier is.” Sy gee ’n tree agteruit. “Kan ek nou gaan?”

 

Rupert Brink het haar na dieselfde restaurant gebring as waar sy Dirk gesien het. Linda het opgemerk hoe ondersoekend die kelner na haar kyk. Hy was toe ook aan diens en hoe dikwels kan dit op Stilwater gebeur dat ’n meisie met twee verskillende mans vir middag- en aandete opdaag?

“Jy lyk baie mooi,” sê Rupert.

“O. Dankie.” Sy wens sy was nie so ongemaklik nie. Hy’s regtig aangenaam.

Maar eerstens sien sy nie kans vir ’n nuwe man in haar lewe nie, en tweedens, ás sy weer sou kans sien, sal dit Stephen wees. Wat toe wel so beskikbaar is as wat sy eers gedink het.

Hulle plaas hulle bestellings. Romantiese klaviermusiek speel op die agtergrond en Rupert gesels, gesels. Linda vermoed die twee glasies brandewyn wat hy gou by Kanieklanie gedrink het, was ver oor sy limiet vir enige gegewe dag en nou is die glas bier voor hom ’n geval van hoe later hoe kwater.

Oom Bert wou hulle net nie laat gaan nie: “Nog ’n ou glasie, Brinkie!” Hy het so verwese gelyk. Eers die onbeantwoorde liefde; Linda onthou hoe mevrou Meiring in die tuisbedryf vir hom weggekruip het. En toe sterf sy en is hy net nog ’n geskokte persoon op die dorp.

Oom Bert het by sersant Goosen gehoor daar is nog geen vordering met die soek na die gesteelde geld nie. Linda wonder hoeveel dit was …

“Is jy iemand in jou lewe?” vra Rupert uit die bloute. Voorwaar, dis die bier bo-op die brandewyn wat nou praat.

“Nog nie.” Linda verwens haarself omdat dit so sleg uitgekom het.

“Beteken dit …”

Hierdie gawe lang man met die skokrooi hare moet nóú teleurgestel word. Sy skuld hom dit.

“Ja. Ek is jammer.”

“Ek moes nie gevra het nie. Maar ek het aangevoel jy is anders. Ek bedoel meer terughoudend as laas.” Hy vat nog ’n sluk. “Ek het my vermoedens oor wie die gelukkige kêrel is.”

Sy dog so. Prokureurs is nie onnosel mense nie.

“Niks is nog amptelik nie.”

“Maar ek moenie hoop nie?” Hy waai voor sy gesig asof hy ’n vlieg wegjaag. “Sorrie. Vergeet ek het gevra. Nou gedra ek my!”

Die res van die kuier is geselliger. Hy het gesê dit sal haar goed doen om uit te kom, en dit was toe waar. Die afgelope rukkie is seker die normaalste tydjie wat sy nog hier gehad het!

Toe hulle buite die restaurant kom, is daar nie ’n siel op straat nie. Maar hoekom sou daar wees? Alles is mos toe.

Rupert se kar staan in die systraat, op die gemerkte plek voor sy en Stephen se praktyk. Hulle loop soontoe, adem die vars aandlug in.

By die kar sê Rupert ’n woord wat haar verras, voor hy buk om die linkerkantse voorwiel te inspekteer. Dan die ander een.

“Gesny!”

Eers nou word Linda behoorlik bewus daarvan dat daar nie ’n straatlamp naby is nie. Ook geen verligte gebou nie.

“Wil jy vir die polisie gaan sê?” vra sy.

“Eers nadat ek jou by die huis gelos het.” Hulle begin loop, hy nie heeltemal vas op sy voete nie. “Sulke sinnelose vernielsugtigheid,” mor hy, sukkelend met die s’e.

Die pad Kanieklanie toe voel langer as ander kere. En asof daar honderd wegkruipplekke is. Klippers knars onder hulle skoene.

Eindelik is die losieshuis net drie blokke ver, die middelste daarvan onbebou en suiwer bos.

Dis daar wat Rupert vassteek. “Het jy dit gehoor – iemand wat roep?”

“Nee?” Dan hoor Linda dit tog: ’n woord wat sy nie kan uitmaak nie, gedemp maar tog naby. En ’n tak wat breek.

“Ek gaan kyk gou.”

Sy weet nie hoekom sy Rupert nie keer nie. Want sy moes. Sy weet sy moes toe hy tussen die bosse verdwyn.

Omtrent ’n minuut gaan verby.

En seker nog een.

“Rupert?” Sy het begin bewe. En weet skielik so seker as wat sy hier staan dat die persoon slegs om een rede geroep het: om hulle by die bosse in te lok.

Daar is geen antwoord nie. Sy sal móét gaan kyk.

 

(Lees die volgende hoofstuk elke Dinsdag op Maroela Media)
*Die verhaal het oorspronklik in Vrouekeur verskyn en word met vergunning op Maroela Media gepubliseer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ousus ·

Gaan hulle nou regtig vir ‘n week in die bos moet lê, voor ek weet wat met hulle gebeur het? Gaan die slaapies moet aftel tot volgende Dinsdag!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.