Vervolgverhaal: Roep van die uil (Hoofstuk 8)

Roep van die uil
Hoofstuk 8
Deur François Bloemhof

Wat vooraf gebeur het: Moira wil met ’n groot klomp geld padgee en Linda na die skuldige laat lyk, toe sy ’n geluid onder in die losieshuis hoor …

 

Moira staan vasgenael. Sy het die voordeur gesluit, maar tog, daar volg nog iets: die trap wat kraak. Daar’s beslis iemand in die huis!

Sy spits haar ore, maar hoor nie voetstappe in die gang nie. Dálk die geluid van ’n deur wat oopgaan, maar sy besluit dis haar verbeelding. G’n wonder nie, sy is so opgewerk.

Net toe sy wil ontspan, word haar deur oopgemaak. En daar staan hy.

Dirk Greeff kom die kamer binne. Kyk na haar met daardie ligblou oë. Dan na die skouersak.

“Is jy op pad iewers heen?”

Moira sluk swaar. “Hoe het jy ingekom?”

“Julle kyk nie goed na julle spaarsleutels nie.” Hy laat dit klingel. “Maar dit was nie die eintlike vraag nie. Die eintlike vraag is, kan ’n man dan geen vroumens vertrou nie?”

Sy hoor die onderdrukte woede – het hom so onlangs ontmoet, maar het gou besef hoe gevaarlik hy is.

As sy tog ’n ander aand gekies het om na Dorinda Meiring se huis te gaan. Maar sy moes die geld probeer kry sodat sy kon padgee. Het nie geweet presies hoe sy dit sou doen nie, net dat sy nie langer so kon krepeer nie.

Skielik, terwyl sy gesukkel het om die traliewerk by die kombuisvenster los te kry, was hy daar.

“Wat máák jy, skone dame?”

Moira het so geskrik, en sy manier van kyk was so gebiedend, dat sy haarself alles hoor herken het. “O, dit gaan oor geld,” het hy opgemerk. “Maar dis tog ’n man se werk dié.” Hy het ingenome daaroor gelyk en Moira het besef hy is die soort mens wat daarvan hou om konvensies te breek. Soos sy.

Hy sou haar nie by die polisie aangee nie; inteendeel, hy sou die taak oorneem en dan deel hulle die geld.

Sy het nooit gedink hy sal die vrou doodmaak nie. Hy dalk ook nie. Maar toe is Dorinda Meiring wel dood, met die gevolg dat nie een van hulle dadelik kon padgee nie. Diefstal is een ding, moord iets heeltemal anders.

Eers later het Dirk gesê hy is hier vir Linda – daarom het hy die losieshuis dopgehou, en dis toe dat hy Moira sien uitsluip en haar uit nuuskierigheid gevolg het. Hy het gesê hy is finansieel sterk, maar ’n mens soek altyd méér.

Dis waar. Dis wat haar laat besluit het sy soek Essie se geld ook, voordat sy sonder Dirk se medewete die pad vat.

Maar hier is hy nou, in die kamer waar sy eers die geld moes hou omdat hy as nuweling op die dorp dalk verdink kon word. Hy het gesê hy vertrou haar, maar aan die trek op sy gesig is dit duidelik hy het nooit nie.

“Waar is Linda?” vra hy.

“Uit vir die aand,” jok sy. Hy mag nie weet wat sy alles bewimpel het nie.

“Ek het by die ander kamers ingeloer. Hoekom is die mans van die huis so vroeg uitgeboul? Kan jy dalk ietsie daarmee te doen hê?”

“Hulle … rus seker.”

“Hulle … rus seker,” na-aap hy haar. “Ek wonder wie het Klaas Vakie gespeel.”

Die oomblik toe hy ’n tree nader gee, gryp Moira die Dawid-beeldjie van die spieëltafel af. Swaai daarmee, mik vir sy kop.

Dit tref hom net skrams, maar hard genoeg dat hy steier. Sy glip verby hom, maar steek vas met die besef dat sy die skouersak moes gegryp het. Toe is dit hy wat háár gryp, aan die arm, en hy ruk haar met geweld terug.

Die geluid onder in die huis laat hulle albei vries. Dan ruk Moira los en hardloop by die deur uit.

 

Linda stoot die voordeur oop. Dit was nie gesluit nie; tipies van Essie, onlangse moord in die straat ofte not.

Dan weer, selfs met Essie en Leanne by die Engelbrechts is daar genoeg mense in die losieshuis oor dat jy seker nie hóéf te sluit nie.

Nogtans voel iets verkeerd – hoekom is dit so stil? En daar wás die uil se roep …

’n Rilling gaan deur Linda. Wat as mevrou Meiring se moordenaar hier is? Enigiets voel meteens moontlik. Maar sy onderdruk die gevoel, maak die voordeur saggies agter haar toe en loop tot by die trap.

Stadig beweeg sy boontoe. Die trap speel vir ’n verandering saam; sy was bang dit kraak weer.

Die enigste lig wat bo brand, is by Moira se kamer: die deur is op ’n skrefie. Linda loop soontoe, nou meer gerus.

“Moira?” Toe sy die deur oopstoot, sien sy die kamer is leeg – en wonder wat die bultende skouersak op die bed maak.

Sy gaan kyk in die badkamer, maar Moira is ook nie daar nie. Terug in die gang onthou Linda die keer toe sy Jannie in die huis aangetref het; dit was in die sonkamer. Sy kan nie dink wat Moira dáár sou maak nie, maar iets sê vir haar …

Sy gee byna ’n kreet toe sy die deur oopmaak. Al kom daar net ’n flentertjie lig by die venster in, kan sy uitmaak wie voor haar staan en oorgehaal lyk om haar aan te val.

“Dankie tog dis jy!” fluister Moira. “Is hy nie daar nie?”

“Hier bo? Wie?”

“Dirk.”

Linda word koud. “Jy kén hom?” Sy wag nie vir ’n antwoord nie. “Ek dink nie so nie, ek het hom nie gesien nie. Waar is Stephen en oom Bert?”

“Hulle slaap. Was jy in my kamer? Is daar nog ’n sak op my bed?”

“Slááp, so vroeg? En ja, ek was, en dis daar, maar …”

“Hy sou nie sonder die geld gegaan het nie.”

“Wát?”

“Ek kan nie nou verduidelik nie.” Moira se kop werk duidelik oortyd. “Bly jy hier bo. My selfoon is in my kamer, maar ek is bang hy wag my daar in. Ek gaan ondertoe, dan bel ek die polisie op die landlyn.”

Voor Linda kan keer, is Moira in die gang. Sy lyk of sy tóg vir haar kamer wil mik, maar haarself dwing om eerder by die trap af te gaan.

Van pure senuwees raak Linda byna aan die lag toe sy sien hier staan haar grote tas nog in die gang. Sy loop versigtig daarmee na haar kamer, maak die deur oop en skakel die lig aan – en dan gebeur twee dinge tegelyk:

Sy hoor die voordeur toeklap en besef Moira was nooit van plan om te bel nie, sy wou net so gou moontlik wegkom.

En sy sien hom voor haar: Dirk Greeff.

Dan het hy haar aan die voorarm beet. Sy gil toe hy haar die kamer binne pluk, en nog nader aan hom.

Eers toe sy hom oor die wang krap, besef sy hy wou haar soen. Nou is sy ligblou oë koud.

En sy hande is om haar nek. Linda wil wegruk, maar is van balans af. Net toe sy hom weer wil krap, stamp hy haar teen die muur vas en skiet die lug uit haar longe. Nie vir ’n sekonde verslap hy sy greep nie.

“Hoekom was niks wat ek doen goed genoeg vir jou nie?” wil hy weet, maar sy hoor dit byna nie, so druis haar ore. Sy moet die greep op haar keel breek, maar …

Die volgende oomblik kan sy weer lug skep. Die hande het laat los. Hy is besig om te val.

Hy slaan neer en bly lê.

“Wat het jy alles hierin?” vra Stephen. Hy kyk af na die tas wat hy op Dirk se kop neergebring het.

Dan moet hy dit haastig laat sak, want hy het albei hande nodig om ’n enorme gaap te smoor.

 

Toe Essie en Leanne tuiskom, tref hulle sersant Goosen by Linda en Stephen aan. “Wat gaan hier aan?” vra Essie ontsteld.

“Hoeveel tyd het Ma?” Stephen en Linda begin hulle vertel wat gebeur het, terwyl die polisieman aandagtig luister en sy notas aanvul.

“Ek het mos nooit van Moira gehou nie,” verklaar Leanne.

“En Bert?” vra Essie.

“Nog halfpad in ’n beswyming!”

Dirk Greeff is reeds polisiekantoor toe geneem. Moira is nog op vrye voet, maar dit gaan juis haar uitdaging wees: sy is te voet.

Linda staan op. “Ek gaan vir ons almal koffie maak.”

Sy besef Stephen het by die kombuis ingekom toe hy opmerk: “Ek sal gewoond kan raak aan jou wat só huishoudelike takies verrig.”

“Solank jy altyd jou kant bring.” Met ’n ruk besef sy waarvan hulle albei besig is om te praat, en sy wil dit wégpraat, ’n grappie maak. Maar sy swyg.

Dis uiteindelik so eenvoudig, toe hy haar in sy arms neem. So was dit bedoel om te wees, en so ís dit nou, alles wat dit voorafgegaan het ten spyt.

Die soen is net so volmaak soos die een by die stasie. Nee, besluit sy, dis beter, want dit hou langer aan.

Linda hoor ’n vae geluid buite. Dalk ’n kar, dalk die wind. Of dalk die uil wat wegvlieg om sy onheil en wysheid elders te gaan besoek.

 

(Slot)
*Die verhaal het oorspronklik in Vrouekeur verskyn en word met vergunning op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.