Skoonvarke, en die onpas “swaer”

Argieffoto (Foto: skeeze, Pixabay)

Ek kry in die week ʼn navraag: Hoekom praat ons van ʼn “skoonsuster”, “skoonpa”, “skoonma” en “skoonfamilie”, maar nie van ʼn “skoonbroer” nie? Wat het dié man dan gesondig dat hy so buite die patroon val?

Die antwoord daarop is natuurlik “ons kry dit so uit Nederlands”, soos dit menige keer die geval is met sulke etimologienavrae. Maar dit help ook nou nie ek gee vir die navraer inligting wat hy waarskynlik self reeds vermoed het nie – wat hy eintlik vra, is hoekom die Hollanders dit so gebruik.

Nicolene van der Sijs, senior ondersoeker by die Meertens Instituut, wys daarop dat “zwager” en “schoonbroer” albei in Nederlands voorkom, maar dat “zwager” die voorkeurvorm is. In België is dit andersom. Daar is “schoonbroer” die voorkeurvorm.

Volgens Nicolene was “zwager” die verstekvorm wat in die Middeleeue gebruik is, maar dit het toe verwys na alle aangetroude manlike familie. Die vroulike teenhanger vir die woord is “zwagerin”.

Ons kry ook ʼn Duitse weergawe van die woord (“Schwager”). Volgens Wiktionary het “Schwager” via Middelhoogduits (“swāger“) uit Oudhoogduits (“suāgur”) ontwikkel, wat op sy beurt uit Proto-Germaans (“swēgraz“) gekom het waar dit na die man se broer verwys het. In Proto-Indo-Europees was “swéḱuros” die man se pa.

Baie oud dus, dié “swaer” van ons.

Die gebruik om na aangetroude familie as “skoon-” te verwys, sê Nicolene, is iets wat in die vyftiende eeu ontstaan het – in ʼn etimologiese verband is die vyftiende eeu eintlik maar die dag voor eergister. Die skoon-aanwendsel is Frans, waar dit in hofkringe die gebruik was om “beau” (“mooi”/”goed”) as ʼn beleefdheidsaanduider voor ʼn aanspreekvorm te plaas: “beau sire” vir “geagte heer” en “bel ami” vir “liewe vriend”. Uit respek is aangetroude familielede ook met “beau” aangespreek: “beau-frère” (letterlik “skoonbroer”) en “belle-soeur” (“skoonsuster”). Die hoër stande in Nederland en België het die sosiale voorskrifte van die Franse hofhouding nagevolg, en het daarom met die vertaling van “beau” (“skoon”, wat in Afrikaans steeds ʼn ouer vorm van “mooi” is) na hulle aangetroude familie begin verwys. Daarvandaan kom “schoonbroer” en “schoonzus” in Nederlands.

Dit is interessant dat die gebruik van “schoonbroer” vastrapplek in België en die suidelike dele van Nederland gekry het, wat geografies nader aan Frankryk is. In die noorde van Nederland het “zwager” die gebruiklike term gebly. “Zwagerin” is ook nog daar in gebruik, maar bestaan glo naas “schoonzuster”.

Afrikaans se konvensie om na aangetroudes as “skoon-” te verwys, is dus ook maar eintlik ʼn navolging van die Franse gebruik. Dit is nie eg Nederlands nie, nie Germaans nie, en ook nie werklik ʼn taalkwessie nie. Dis ʼn sosiale opvatting, ʼn respekvorm, wat waarskynlik ingevoer is om die stremming wat baie keer in so ʼn skoonverhouding voorkom te verbloem.

Nicolene sê as die Nederlanders iets leliks oor die skoonfamilie wil kwytraak, sê hulle “ze zijn van de koude kant”. Baie kil. Amper soos die grappie van die oom en tante wat ná ʼn verdwaalspul op ʼn agterpad in die motor sit en wag vir ʼn trop varke om oor die pad te stap.

“Familie van jou?” vra die oom ewe snedig.

“Ja,” antwoord sy vrou. “My skoonfamilie.”

VivA-groete
Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.