Afskeidsode aan die aanvoegende wyse

Argieffoto (Foto: Pezibear, Pixabay)

Ek het sedert die begin van die jaar ‘n hele paar navrae oor die sogenaamde “aanvoegende wyse” gehad. Ek vermoed die ding het iewers in ‘n vraestel sy verskyning gemaak, want ek kom agter daar is so ‘n ligte aggressie in die formulering van die vrae wat na my kant toe geslinger word. Nie dat ek die vraagstellers vir hulle aggressie verkwalik nie. Kom ek stel dit so: Ek het in 1982 gematrikuleer, en ek het verlede jaar eers geleer dat daar so ʼn ding soos die aanvoegende wyse is. Die aggressie oor ‘n taalfossiel wat uit die dood uit opgewek is om skoolkinders te terroriseer, is nie misplaas nie.

Maar dis my werk om te help, daarom probeer ek inligting daaroor kry sodat ek ten minste net kan raad gee. Ek soek in handboeke, in ou taalkundebronne, ek klop by taalkundiges aan, ek krap op die internet rond. Hier is ʼn bondige opsomming van wat ek kon opspoor in die bronne wat ek tot my beskikking gehad het:

  1. Kontemporêre Afrikaanse taalkunde (2017), Carstens & Bosman (reds): Niks.
  2. Afrikaanse sintaksis (1979), Ponelis: Nada.
  3. Afrikaanse grammatika en taalkunde vir Afrikaanssprekende leerlinge (1944), Barnes:

Om die verhouding van die spreker teenoor die waarheid van die handeling aan te dui, was daar in die ou sintetiese tale (soos Latyn en Grieks) verskillende wyses (of maniere van voorstelling). In hierdie tale is die wyse deur bepaalde vorme van die werkwoord aangetoon. Behoudens enkele reste, word die aanvoegende wyse in Afrikaans egter nie meer deur vormverskille van die werkwoord uitgedruk nie.

AANVOEGENDE WYS (Konjunktief) stel die handeling as ʼn onsekerheid in die hede, verlede of toekoms (aktief of passief) voor. Nouer omskryf: Die Konjunktief stel die handeling of toestand voor as moontlik, onmoontlik, wenslik, waarskynlik of voorwaardelik.

Dit sy so!
Lank lewe die koning!
U naam worde geheilig!
As ‘t ware.
U wil geskiede!
Dit ga jou goed!

  1. Viva Afrikaans Huistaal graad 12 leerderboek (2014), Scholtz & Vorster:

Die toevoegende wyse stel nie ʼn werklikheid voor nie, maar ʼn waarskynlikheid, wenslikheid of moontlikheid:

Hy sal miskien sy werk gedoen het.
Was ons maar almal eerlik!
Mag dit goed gaan met jou.

  1. Telematiese onderrigprojek 2019 graad 10 Afrikaans Huistaal bronmateriaal (2018), Wes-Kaapse Regering:

Aanvoegende/toevoegende wyse. Die handeling is nie soos by die aantonende wyse ‘n werklikheid nie, maar ‘n moontlikheid, waarskynlikheid of wenslikheid, bv.:

Hy mag dalk die werkstuk voltooi.
Hy sal seker nog die werkstuk voltooi.
As ek ‘n miljoen rand wen…
Was ek maar ‘n miljoenêr …

  1. Afrikaans Huistaal hersieningsgids graad 12 (datum onbekend), Departement van Basiese Onderwys:

Aanvoegende/toevoegende/konjunktiewe wyse
Die handeling is nie ‘n werklikheid nie, maar ‘n moontlikheid, waarskynlikheid of wenslikheid, bv.:
Hy mag dalk die werkstuk voltooi.
Hy sal seker nog die werkstuk voltooi.
Mag jou poging suksesvol wees!
As ek ‘n miljoen rand wen …
Was ek maar ‘n miljoenêr …

  1. “Afrikaanse taalleer”, Wikipedia (datum onbekend), outeur onbekend:

Aanvoegende/toevoegende wyse / konjunktief dui ‘n moontlikheid, waarskynlikheid of wens aan, bv.:

Sy sal seker nog kom.
As ek maar beter geluister het!
Mag dit baie goed gaan!

  1. Taaladvies.net (datum onbekend), Nederlandse Taalunie:

De aanvoegende wijs (of: conjunctief) is een werkwoordsvorm die onder meer een wens, toegeving, aanwijzing of aansporing uitdrukt. In het hedendaagse Nederlands is het gebruik van de aanvoegende wijs goeddeels beperkt tot vaste uitdrukkingen (kome wat komtkoste wat het kostzo waarlijk helpe mij God almachtigde hemel beware megodbetert (=God beter ‘t), leve de koningin!men nemehet zij zo). In de meeste gevallen gaat het om een persoonsvorm van de derde persoon enkelvoud in de tegenwoordige tijd. Deze vorm is doorgaans gelijk aan die van de infinitief min –n. Alleen bij het werkwoord zijn is ook een aanvoegende wijs in de verleden tijd mogelijk (het ware te wensen).

Uit bogenoemde lei ek twee goed af:

  1. Die aanvoegende wyse is ʼn taalfossiel. (https://af.wikipedia.org/wiki/Taalfossiel)
  2. Dié taalfossiel word slegs nog in skoolleerplanne en -handboeke as noemenswaardig beskou. (Prof Adri Breed, taalkundige by die NWU se Potchefstroomkampus, sê: “Ek het nog nooit eens in my eie navorsing oor werkwoorde nodig gehad om hierdie woordvorme te onderskei nie.” Prof Ernst Kotzé van NMMU het laat weet: “Dis werklik nie die moeite werd om die klein gemoedjies met so ʼn term te belas nie.” Amen, sê prof Gerhard van Huyssteen, ook van die NWU. Sela, sê ek.)

Die kort oplossing vir hierdie lang wroeging kan ek dus soos volg opsom: Die aanvoegende wyse word nie meer in Afrikaans met ʼn bepaalde vorm van die werkwoord gemerk nie. Die grammatikale konstruksie wat in Afrikaans oorgebly het, is so verouder dat niemand dit meer herken nie. Wense, versoeke, versugtinge en waarskynlikhede word in moderne Afrikaans gemerk met modale hulpwerkwoorde of bywoorde, of met sinskonstruksie, of met stemtoon, of met ʼn swetterjoel ander taalmiddele wat sprekers tot hulle beskikking het:

Mag iemand tog die venster toemaak.
Ek kan moontlik die venster toemaak.
Sal jy asseblief die venster toemaak?
Was die venster maar toe.
Wil jy nie maar die venster toemaak nie?
Maak die venster toe, toe.
Jy gaan vir ons die venster toemaak, .
As jy die venster toemaak, sal ek ophou kla.

In Engels moet ʼn mens nog oor hierdie aangeleentheid praat, ja, want daar druk ʼn mens versugtinge uit met die sogenaamde “subjunctive mood” wat wel nog grammatikaal gemerk word. En dit is bitter, bitter belangrik dat ʼn mens weet waarom Tevye in Fiddler on the roof sing “If I were a rich man” en nie “If I was a rich man” nie, want as jy in die stort saamsing, is vals sing nog een ding, maar as jy verkeerd sing, is dit ʼn ander ding, en daardie ander ding is meestal ʼn lelike ding.

Mag ons hiermee van die aanvoegende wyse afskeid neem. Met danksegging aan en met ootmoed teenoor wyle ASV Barnes wat die saak vir ons so mooi verduidelik het. Maar met dieselfde mate van begrip en aanvoeling vir jong leerders wat moet leer dat taal ʼn instrument is waarmee jy jou syn aan die wêreld bekend stel, nie iets waarmee ʼn mens in ʼn eindeksamenvraestel geïntimideer en van jou syn vervreem word nie.

VivA-groete
Sophia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.