Nog los-en-vassery: privaat, gunsteling en reuse

Argieffoto (Foto: Pezibear, Pixabay)

As daar nou een manier is om taalgebruikers se lont aan te steek, is dit om ʼn plasing op VivA se Facebookblad te maak wat inhou dat hulle opvattings oor wat reg is verkeerd is.

Die kwessie oor op vakansie en met vakansie (wat albei reg is) is so ʼn lontaansteker. Enige woord wat na Engels ruik wat in die AWS opgeneem is, ook (al kan ʼn mens vers en kapittel bewys die woord is uit Nederlands of Frans oorgeneem). Die ander een is privaat wat nie vas geskryf word nie. Dit is nooit vas nie, buiten in die naam van die regsvak Privaatreg. Afgesien daarvan is dit los, altyd los en net los: privaat skool, privaat les, privaat onderrig, privaat sak, privaat motor, privaat adres, privaat nommer, privaat gesprek, privaat vliegtuig.

Dit veroorsaak groot wrokkigheid, en iewers in die gespreksketting ná so ʼn plasing is daar altyd iemand wat wil weet wie die taalnazi’s is wat sulke belaglike reëls op die taalgemeenskap wil afdwing. Die Taalkommissie is bewus van die wrokkigheid en die gevaar daarvan om reëls af te dwing wat strydig raak met wat in die taalgemeenskap gebeur, maar dit is nou maar ook ʼn bietjie die geaardheid van reëls: Dit is nie altyd gewild nie, maar dis noodsaaklik om konsekwentheid te bewerkstellig. En konsekwentheid is koning. So hard as wat taalgebruikers oor reëls baklei, so omgekrap raak hulle oor te veel wisselvorme en uitsonderings op reëls. Gee liewer een reël en kry klaar, as wat ʼn mens twintig uitsonderings per reël moet by leer, hoor ek gereeld.

Nou goed, so werk privaat se reël: AWS 15.28 bepaal dat verbindings van byvoeglike en selfstandige naamwoorde los geskryf word. Daarom skryf ons rooi ballon, oulike kinders, vreemde woorde, fraai gediggie, stink voete en dom antwoord. Die woord privaat is ʼn byvoeglike naamwoord. Toets maar: Dit kan verbuig (private), dit kan trappe van vergelyking kry (privater, privaatste) en dit kan predikatief gebruik word, d.w.s. ná die werkwoord optree (die privaat gesprek x die gesprek is privaat). Dit is ʼn byvoeglike naamwoord en moet dus ingevolge AWS 15.28 los geskryf word.

Woorde wat soortgelyke verwarring veroorsaak, is aanlyn, blanko, bruto, netto, junior en senior. Hierdie woorde is net los: aanlyn winkel, blanko tjek, bruto wins, netto verlies, junior spelers, senior bestuur.

Daarteenoor word die woorde gunsteling en reuse vas geskryf omdat hulle nie byvoeglike naamwoorde is nie. Dit klink vir die meeste mense na onsin as ek dit sê, want gunsteling beteken vir hulle dieselfde as beste of oulikste, en dit is byvoeglike naamwoorde. Dieselfde argument voer hulle aan vir reuse: Dit beteken dieselfde as groot of enorme, en dié is byvoeglike naamwoorde. Boonop het reuse ʼn -e waarop dit uitgaan, soos ander byvoeglike naamwoorde. Hoe op aarde is dit nie ʼn byvoeglike naamwoord nie?

Dit is belangrik om te onthou dat woordsoorte nie (eerstens) op grond van betekenis bepaal word nie, maar eerder op grond van die woord se morfologiese eienskappe en die optrede van die woord in ʼn sin.

As ons die toetse vir byvoeglikheid vir gunsteling toepas, vind ʼn mens vinnig uit dit is nie ʼn byvoeglike naamwoord nie: Dit kan nie verbuig nie (*die gunstelinge liedjie), dit kan nie trappe van vergelyking kry nie (*gunstelinger, *gunstelingste) en dit kan nie predikatief gebruik word nie (*die gunsteling liedjie x *die liedjie is gunsteling). ʼn Mens kan wel skryf die liedjie is ʼn gunsteling of die liedjie is een van my gunstelinge, wat beteken dat gunsteling ʼn selfstandige naamwoord is (dit kan ʼn lidwoord neem en kan flekteer). En as dit ʼn selfstandige naamwoord is, moet dit in samestellings vas geskryf word: gunstelingliedjie, gunstelinggedig, gunstelingvakansieplek.

Dieselfde argument geld vir reuse in samestellings. Die toets dui aan dat dit nie ʼn byvoeglike naamwoord is nie (*meer reuse, *mees reuse en *die reuse prysverlaging x *die prysverlaging is reuse). Die woord reus is ʼn selfstandige naamwoord (ʼn reus, die reuse) en in ʼn samestelling soos reuseprysverlaging of reusegemors, is die -e nie ʼn byvoeglike verbuiging nie, maar ʼn verbindingsklank.

Woorde wat op dieselfde beginsel vas geskryf moet word en wat dikwels ook verkeerdelik los geskryf word, is verbindings met hout- en standaard-: houtspeelgoed, houtmeubels, standaardkoevert, standaardfout, standaardantwoord.

Een voetnoot: Die Taalkommissie is, soos ek gesê het, bewus van die feit dat die taalgemeenskap hierdie woorde toenemend anders skryf as wat die reël bepaal en dat dit nie sinvol is om ʼn reël te bly toepas as die taalgemeenskap gewoon die taal anders gebruik nie. Maar reëls aanpas doen ʼn mens nou ook nie sommer net omdat gebruikers reëls nie ken nie. Om ʼn baie gevestigde reël soos “byvoeglike naamwoorde is los” op sy kop te keer, skep weer ʼn hele ander stel uitdagings, waaroor gebruikers net so ongelukkig gaan wees. Daarom doen ʼn mens korpusondersoeke en kyk in tekste na wat gebruikers in skryftaal met die woorde doen voor ʼn mens sommer net reëls herskryf. Daaruit was dit duidelik dat die meerderheid skrywers steeds die reëls korrek toepas, en die reël is dus nie aangepas nie. Daar is wel by AWS 15.28 (b) ʼn opmerking gemaak dat die TK bewus is van die ander skryfwyses, maar dat dit steeds wenslik is om die konvensies in hierdie gevalle te volg. Daar is nog te veel taalgebruikers wat die reëls ken en reg toepas dat ʼn mens die “verkeerde” skryfwyse as ʼn geldige alternatief kan opneem.

VivA-groete
Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Taalgebruik, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae