Taalgebruik: eksklusief

Argieffoto (Foto: Miroslavik/Pixabay)

“Eksklusief” verwys na uitsluiting, iets wat net vir ʼn spesifieke groep mense bedoel is of wat van so ʼn aard is dat net sekere mense dit kan bekostig.

Eksklusief, in die konteks van uitsluiting, beteken dat iets buite sekere voorwaardes beskikbaar is.

  • Die pryslys vermeld items eksklusief van aflewering.

Volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) word iets eksklusief aangebied wanneer dit “net vir bepaalde mense bedoel, bestem of geskik is”, “net op bepaalde mense gerig is of na bepaalde mense omsien”, “beperk is tot bepaalde mense of ʼn uitgekose groep” en “tipies bepaal word op grond van sosiale, professionele of maatskaplike betrekkings of stande”. Dit kan byvoorbeeld ʼn eksklusiewe boetiekhotel, restaurant, woonbuurt, skool of partytjie wees.

  • Voordele en toegang tot die klub is eksklusief vir lede.
  • Sommige hotelle teen die kus het toegang tot ʼn eksklusiewe strand wat net vir hotelgaste oop is.
  • Die restaurant bedien ʼn eksklusiewe kliëntebasis.

In die gevalle waar iets soos handelsprodukte slegs by ʼn bepaalde vervaardiger, maatskappy of handelaar beskikbaar is, of net deur ʼn beperkte groep mense gekoop, besit of bekostig kan word, is dit ook eksklusief. Dit sluit onder meer eksklusiewe juweliersware, modeontwerpe, en sportmotors in.

  • Die boetiekwinkel bied ʼn reeks eksklusiewe modeontwerpe aan wat nêrens anders verkoop word nie.
  • Die eksklusiewe landgoed spog met ʼn ongeëwenaarde uitsig.
  • Hulle woon in ʼn eksklusiewe buurt wat bekend is vir sy luukse huise.

Wanneer onderhoude, artikels of inhoud nêrens anders verskyn as by die mediaplatform wat dit publiseer of uitsaai nie, verwys ʼn mens daarna as eksklusief.

  • Die joernalis het ʼn eksklusiewe onderhoud met die kunstenaar gevoer wat nêrens anders beskikbaar is nie.
  • Daardie tydskrif publiseer eksklusiewe artikels vir sy intekenare.

Bronne: Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT), Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT)

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.