Taalgebruik: Ere- en koninklike titels

Koning Charles III en sy koningin-gemalin Camilla tydens die besoek aan York in die noorde van Engeland. (Foto: James Glossop/AFP)

Dié inligting oor die gebruik van ere- en koninklike titels in Afrikaans kom uit Skryf Afrikaans van A tot Z: Die essensiële gids vir taalgebruikers wat deur Pharos Woordeboeke uitgegee word.

19.28 (volgens Skryf Afrikaans van A tot Z se indeling) Adellike titels: Die titel word voor die naam met ʼn kleinletter in die middel van ʼn sin geskryf:

prins Willem-Alexander, koningin Margrethe, koning Goodwill Zwelithini, tsaar Nikolaas

In ʼn latere verwysing is die prins, die koningin, koning (of koning Goodwill) en die tsaar voldoende, maar informeel en kortweg ook: Willem-Alexander en in Suid-Afrika soms ook Zwelithini.

  • ʼn Volledige adellike titel ná die voornaam begin ook met ʼn kleinletter: Diana, prinses van Wallis; Sophie, gravin van Wessex (daarna die gravin of informeel Sophie [NIE: lady]).
  • Rangtelwoorde word soms saam met die titel gebruik: koningin Elizabeth II, koning Hendrik die Agtste (VIl).

19.29 (volgens Skryf Afrikaans van A tot Z se indeling) Sir: Sir is die titel van ʼn baronet en ʼn ridder. Die tradisie is om die eerste keer die titel en die persoon se voornaam en van te gebruik:

sir (kleinletter) Laurence Olivier, sir Elton John, sir Alex Ferguson

Daarna word na hulle verwys as sir saam met sy voornaam:

sir Laurence [NIE: sir Olivier], sir Elton, sir Alex

In Suid-Afrika word soms slegs die van gebruik in latere verwysings: Ferguson.

19.30 (volgens Skryf Afrikaans van A tot Z se indeling) Lord: Dit is ʼn eretitel voor die naam van ʼn baron, ʼn markies, graaf of burggraaf. Tradisioneel is die titel, voornaam en die van gebruik: lord Henry de Villiers (eerste hoofregter van die Unie van Suid-Afrika). Daarna is na hom verwys as lord saam met sy van: lord De Viliers. Deesdae kan slegs die van in latere verwysings gebruik word: De Villiers. Lord word in Engels ook gebruik as die titel vir die bekleërs van sekere ampte.

19.31 (volgens Skryf Afrikaans van A tot Z se indeling) Lady word net saam met ʼn van gebruik as aanspreekvorm vir ʼn markiesin, gravin, burggravin of barones (barones Thatcher = lady Thatcher). Waar ʼn vrou self die titel het, word dit die eerste keer in kopie saam met haar voornaam en van gebruik: lady Sarah Armstrong-Jones. Daarna word lady en die voornaam gebruik (lady Sarah) en moontlik Armstrong-Jones.

19.32 (volgens Skryf Afrikaans van A tot Z se indeling) Eretitels word soos volg vertaal:

  • baron (vr. baroness) – baron (vr. barones)
  • baronet – baronet
  • dame – dame
  • duke (vr. duchess) – hertog (vr. hertogin)
  • earl (vr. countess) (Brittanje), count (vr. countess) (Europa) – graaf (vr. gravin)
  • fellow – genoot
  • knight – ridder (nie erftitel nie)
  • marquess (Brittanje), marquis (Europa) (vr. marchioness, marquise) – markies (vr. markiesin)

Bron: Skryf Afrikaans van A tot Z

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Renier ·

Ek sal oom of tannie gebruik agv hul ouderdom,verder kan hulle vergeet.

Miena ·

Johhh… spreek my sommer net aan as Mevrou as jy my nog nie ken nie en of tannie sal ook doen.
Jy is welkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.