Taalgebruik: miljard, biljoen, triljoen

(Argieffoto: Steve Buissinne/pixabay)

Taalgebruikers struikel soms oor die gebruik van “biljoen” terwyl hulle eintlik “miljard” bedoel. Die Afrikaans vir “billion” is “miljard”, nie “biljoen” nie. “Trillion” is in Afrikaans “duisend miljard” of “biljoen”.

biljoen x triljoen

Daar is as sodanig niks verkeerd met dié woorde in Afrikaans nie, maar as die Anglo-Amerikaanse waarde in Afrikaans (en verskeie Europese tale) aan hulle toegeken word, is hulle wel foutief en hoogs vatbaar vir foutiewe vertolking.

In Engels is “billion” 1 + 9 nulle (1 000 000 000), en dit is in Afrikaans miljard of duisend miljoen. (En ’n Engelse billionaire is dus in Afrikaans ’n miljardêr.)

In Engels is “trillion” 1 + 12 nulle (1 000 000 000 000, dus miljoen miljoen), wat na regte in Afrikaans ’n biljoen (duisend miljard) is.

As ’n mens egter biljoen in Afrikaans gebruik, gaan iemand jou met drie nulle te veel of te min verkeerd verstaan. Dit is dus veiliger om miljard of duisend miljoen vir die Engelse “billion” te gebruik, en duisend miljard of miljoen miljoen vir die Engelse “trillion”. In Afrikaans is triljoen 1 + 18 nulle (1 000 000 000 000 000 000, dus miljoen miljoen miljoen).

Hier het ons dus met tipiese valse vriende te doen: die woorde wat in Engels en Afrikaans vormlike ooreenkoms­te toon en dieself­de oor­­sprong het, het verskillende beteke­nis­se en moet dus in die twee tale uitmekaar gehou word.

In Afrikaans is daar ook in dié opsig nog ’n sterk verband met die betekenis van die voorvoegsels bi= (“twee, twee maal”), soos in “bifokaal”, “bipolêr”, “biturbo”, en tri= (“drie, drie maal”), soos in “triade”, “trio”, “trilogie”, in die sin dat biljoen ʼn “miljoen miljoen” en triljoen dan “miljoen miljoen miljoen” is.

Bron: HAT-Taalgids

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Menan ·

Gin wonder oom Zum het daai tyd die goed so snaaks gelees nie. Nou verstaan ek ook sy gesukkel…….

VaalDonkie ·

Ek dink ons moet maar eerder dieselfde woorde as die Ingelse gebruik. Net hierdie een keer. Want dis net onnodig dat ons dieselfde name vir ander getalle gebruik.

Fritz ·

Ek dink weer dis goed as dinge effens ingewikkeld is. Dit hou jou brein op sy tone.

Nella ·

Ek dink hoekom die Amerikaners/Ingelse nie ‘n triljoen het met 18 nulle nie, want hulle het nie soveel geld in dollars of ponde nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.