Taalgebruik: Paasfees, Paasbolletjie, Paaseiers

Argieffoto (Foto: moerschy /Pixabay)

Die skryfwyse van woorde wat met Paasfees verband hou, spesifiek die gebruik van hoof- en kleinletters, wek soms onsekerheid by Afrikaanssprekendes.

Wanneer daar na die tydperk self verwys word, byvoorbeeld Paasfees, Paasnaweek, Paasvakansie, Paasvrydag of Paassondag, word dit altyd met ʼn hoofletter geskryf.

In die geval van samestellings soos Paasbolletjie, Paaseier, Paashaas en Paasete, mag die woorde met ʼn hoof- of kleinletter geskryf word omdat dit eienaamverbleking ondergaan het.

Volgens die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) se 2017-uitgawe, vind eienaamverbleking plaas wanneer ʼn eienaam se oorspronklike betekenis begin vervaag en dan nie meer die kenmerke van ʼn eienaam het nie. Die betrokke woord word in so geval eerder as ʼn soortnaam gebruik en daarom meestal met ʼn kleinletter geskryf.

Dit is dus nie verkeerd om ook “paasbolletjie”, “paaseier” of “paashaas” te skryf nie omdat dit as wisselvorme in die HAT aangegee word.

Bronne: Afrikaanse woordelys en Spelreëls (AWS), Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT), Skryf Afrikaans van A tot Z

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.