Taalgebruik: Uitroepteken (!)

(Foto: Moose Photos/Pexels)

Dié inligting oor die gebruik van die uitroepteken in Afrikaans kom uit die Afrikaanse woordelys en Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (11de omvattend herbewerkte uitgawe).

Oriëntasie:
Die uitroepteken (!) word geplaas ná uitroepe en bevele, sinne wat affek soos woede of verbasing uitdruk, of sinne wat hard uitgespreek word. Die uitroepteken word teenaan die voorafgaande woord geskryf, gevolg deur ʼn spasie.

Uitroeptekens kan ook in leenwoorde deel wees van die vaste spelling van die woord, maar tree in so ʼn geval as skryfteken op, byvoorbeeld waar dit die klapklank aandui in die leuse van Suid-Afrika, !ke e: /xarra //ke.

Reël 13.59 (volgens die AWS se indeling van spelreëls): Die uitroepteken word gebruik ná enige woord, frase of sin in die direkte rede wat hard en skielik uitgespreek moet word.

  • “Ek gaan vandag ʼn koek bak!” skree Hanlie van ver af.
  • “Uit!” roep die tennisskeidsregter van sy stoel af.

Reël 13.60: Die uitroepteken wat ná ʼn woord, frase of sin geplaas word, dui affek soos verbasing, ongeloof, blydskap of sarkasme aan.

  • Eina!
  • Ag nee, man!
  • Ek raak sommer woedend oor sulke ongeskiktheid, verdomp!
  • Hy is soggens ʼn regte ou sonstraaltjie!

Opmerking: Affek (gevoel) kan uitgedruk word sonder die gebruik van ʼn uitroepteken. Uitroeptekens moet oordeelkundig gebruik word, want te veel daarvan is steurend.

Reël 13.61: Die uitroepteken wat binne ʼn sin gebruik word om affek met betrekking tot die voorafgaande woord of woorde uit te druk, word op sy eie of saam met ander woorde tussen hakies geplaas.

  • Ek vind mos toe uit my getroue geliefde (!) belieg my nog die hele tyd.
  • Ek het al twee keer soontoe gery (sug!) maar niemand was tuis nie.

Reël 13.62: Bevele en waarskuwings word in die reël met ʼn uitroepteken afgesluit.

  • Kom hier! Gou!
  • Moenie!

Opmerking: Die uitroepteken of komma kan twee identiese bevele of waarskuwings skei, byvoorbeeld: Nee! Nee! of Nee, nee!

Dié taalbrokkie is ʼn verkorte weergawe van die oorspronklike inligting wat in die nuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (11de omvattend herbewerkte uitgawe) gepubliseer is.
Uitgewer: Pharos
Prys: R490-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by 
Graffiti Boeke 

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.