Taalgebruik: Wisselvorme

Argieffoto

Dié inligting oor wisseling in Afrikaans kom uit die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (11de omvattend herbewerkte uitgawe).

Oriëntasie:
Variasie in betekenis, sinsvorm, woordvorm, klank, ensovoorts is ʼn kenmerk van elke natuurlike taal, dus ook van Afrikaans en sy variëteite. Die houding van die sprekers van die taal hieroor is uiteenlopend: Sommige wil graag so min moontlik wisselvorme aanvaar sien, terwyl ander geaffronteerd voel as ʼn variant wat in húlle taalgebruik voorkom, nie as standaardvorm erken word nie. Die Taalkommissie het deur die jare ʼn middeweg ingeslaan: Vorme wat as standaard beskou en gebruik is deur instansies wat deur hulle voorbeeld norme vestig (soos uitgewers van koerante en tydskrifte, formele geskrifte en letterkundige werke), is erken en opgeteken. Die keuses wat met verloop van tyd gemaak is, het bygedra tot die standaardisasie van Afrikaans. In die beginjare moes die Taalkommissie dus nie net besluit hóé gespel moes word nie, maar ook wát gespel moes word.

In die skryftaal, net soos in die spreektaal, kom verskillende soorte variante voor. In die Woordelys word die volgende tipes aangetref:

  • Vorme wat verskil in uitspraak aandui, byvoorbeeld:

aalwyn naas aalwee, agt naas ag, arikreukel naas alikreukel naas arikruikel naas alikruikel, keëlvormig naas kegelvormig, kesieblaar naas kiesieblaar, kief naas kieu, skryf naas skrywe, vernieu naas vernu naas vernuwe

  • Vorme wat dieselfde uitspraak aandui, maar waarvoor verskillende spelwyses ontstaan het. Voorbeelde hiervan vind ʼn mens meestal by woorde van vreemde herkoms wat naas ʼn (gedeeltelik) verafrikaanste vorm ook nog ʼn “vreemde” spelwyse het, byvoorbeeld:

kapries naas caprice, restourant naas restaurant

  • Vorme wat verskil in morfologie aandui, byvoorbeeld:

fisici en politici naas onderskeidelik fisikusse en politikusse, geprobeer naas probeer, ligvoet naas ligvoets, musea en sentra naas onderskeidelik museums en sentrums, papiri naas papirusse, seminarie naas seminarium, sensor naas sensoreer; stellinge naas stellings

  • Vorme wat verkorte weergawes, oftewel inkortings, aandui, byvoorbeeld:

sel naas selfoon naas sellulêre foon naas sellulêre telefoon

Dié taalbrokkie is ʼn verkorte weergawe van die oorspronklike inligting wat in die nuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (11de omvattend herbewerkte uitgawe) gepubliseer is.
Uitgewer: Pharos
Prys: R490-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by 
Graffiti Boeke 

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.