Hierdie doring in menige se vlees is skynbaar ’n kanniedood. Sy ontstaan kan waarskynlik in verband gebring word met die Engelse woord “presently”, wat in elk geval in die betekenis van “nou, op die oomblik, tans” bedenklik is en deur talle noukeurige Engelsgebruikers in daardie betekenis vermy word.
Iemand wou toe waarskynlik ’n soortgelyke Afrikaanse bywoord gebruik en het toe met *huidiglik vorendag gekom deur die agtervoegsel =lik aan huidig te lap. Die ironie is dat Afrikaans eintlik nie die woord huidig het nie, maar slegs huidige; dit is slegs ’n attributiewe byvoeglike naamwoord, die huidige omstandighede. Ondanks *huidiglik se oorlewingsvermoë is dit iets wat Afrikaans werklik nie nodig het nie; daar is talle bywoorde of bywoordelike frases wat gebruik kan word en deur *huidiglik verdring word, byvoorbeeld teenswoordig, tans, deesdae, op die oomblik, nou.
*Huidiglik is NIE ’n deftige of hoëregisterwoord nie en behoort steeds vermy te word.
Bron: HAT Taalgids
Nou toe nou
Dankie, nou hoe gaan ons die boodskap aan almal oordra?
Ek is HUIDIGLIK so uit die veld geslaan dat ek beslis in die toekoms die woord huidiglik meer sal nuttig sodat ou HAT die woord vir my kan opneem in hulle boeke.
Ek moet sê. Dit is ‘n woord wat ek daagliks gebruik.
Nefie. Kom ons gebruik die woord en klaar.
Praat Afrikaans, regte Afrikaans. Dis maklik, verspot maklik.
‘n Interresante variasie wat ook dikwels in gebruik is, is “op hede”. Een van ons kosbare Vlaamse taalerfenisse.