Taaltoffie: Oor donshaelwoorde in Afrikaans

Karien Brits is die taalpraktisyn by Akademia met ʼn liefde vir tale en die stories wat die tale oordra. (Foto verskaf)

Ons is almal maar skuldig daaraan om woorde te gebruik wat ʼn gerieflike vaagheid meebring. Dink maar aan alles wat almal deesdae wil “aanspreek”.

“Ek het as jong student by prof. Wannie Carstens van hierdie sogenaamde donshaelwoorde geleer. Dit is woorde wat ingespan word om hopelik iets te tref, of in die proses alles te tref,” sê Karien Brits, taalpraktisyn van Akademia.

In hierdie episode van Maroela Media se taalpodsending brei Karien uit op woorde, soos “aanspreek”, wat in soveel moontlike situasies aangewend word en later eintlik sy betekenis verloor.

“Hoewel ‘aanspreek’ ʼn mooi, Afrikaanse woord is, is dit eintlik net toepaslik in situasies waar een persoon ʼn ander berispe of onder vier oë wil spreek. Dit raak dus problematies wanneer ʼn mens aanspreek in dieselfde manier as die Engelse address wil gebruik,” verduidelik sy.

In plaas daarvan om die geykte “aanspreek” te gebruik, kan taalgebruikers die volgende woorde of frases oorweeg:

  • Onder die loep neem
  • Aanpak
  • Hanteer
  • Behandel
  • Ondersoek
  • Oplos
  • Oorbrug
  • Uit die weg ruim

Nog ʼn voorbeeld van ʼn donshaelwoord, is “opdateer”.

“Ja, daar is so woord in Afrikaans, en dit word veral in die konteks van tegnologie gebruik. Dit is heeltemal in orde om dus te sê dat ʼn program of sagteware opgedateer word,” verduidelik Karien.

Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) gee egter ʼn paar voorbeelde van ander woorde wat in die plek van opdateer gebruik kan word:

  • aanvul
  • bywerk
  • iets nuuts byvoeg
  • op datum bring

In die laaste aflewering van hierdie taalpodsendingreeks gesels Karien oor taalboelies en -skoorsoekers: daardie mense wat alewig en dikwels verkeerdelik ander taalgebruikers wil korrigeer.

  • Luister boaan na die volgende episode van Maroela Media se podsendingreeks oor Afrikaanse taalgebruik. 
  • Luister na vorige episodes in die taalpodsendingreeks hier. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.