Tel jou woorde: Die aangrypende adjektief

Argieffoto

Die adjektief is vir ʼn skrywer een van die nuttigste woorde in sy of haar arsenaal. Dit gee kleur, dit gee diepte, en in die hande van ʼn taalvaardige skrywer, is die noukeurige aanwending van adjektiewe in ʼn teks die manier om van ʼn goeie storie ʼn blitsverkoper te maak. Maar om die krag van hierdie oënskynlike maklike woord behoorlik in te span, moet ʼn mens verstaan hoe dit werk, en boweal hoe om dit in sinne aan te wend.

Op ʼn taalkundige vlak is ook allerbelangrik dat ʼn mens adjektiewe moet kan herken. Vinnige syspoor oor die benaming: Dit word ook byvoeglike naamwoord genoem, maar dié benaming is problematies omdat adjektiewe nie naamwoorde is nie. Dit is meestal bykomende inligting by naamwoorde. In die afdeling oor adjektiewe in die Afrikaanse Skoolgrammatika (ASG) op VivA se Taalonderrigportaal, word ons besluit om die term adjektief vir die woordsoort te gebruik, grondig gemotiveer.

Goed, die adjektief. Wat? Hoe? en Hoekom?

Die definisie in ASG vir adjektiewe lui soos volg:

‘n Adjektief beskryf ‘n eienskap van ‘n referent (ding/mens/dier) wat deur ‘n naamwoord of voornaamwoord benoem word.

Ek het reeds in die blog oor naamwoorde verwys na die begrippe verwysing en referent, en verduidelik hoe veral naamwoorde en voornaamwoorde gebruik word om na dinge in die werklikheid te verwys. Dit is belangrik om ook by die bespreking van adjektiewe die verband tussen die woord en die ding in die werklikheid in gedagte te hou, want soos wat naamwoorde die referent (die ding in die werklikheid) benoem, so gee adjektiewe die eienskappe van die referent (die ding in die werklikheid) weer.

So werk dit:

  • My ma bak ʼn lekker koek.

In hierdie voorbeeldsin is daar twee naamwoorde, ma en koek. Voor ma is daar ʼn woord wat besit aandui (my, want die ma is myne), en sulke woorde wat aandui dat die naamwoord se referent aan iemand of iets behoort, is besitlike voornaamwoorde. Voor die tweede naamwoord in die voorbeeldsin, koek, is daar ʼn woord wat ʼn eienskap van die referent weergee. Die koek (die ding in die werklikheid) het ʼn bepaalde eienskap, en daardie eienskap is dat die koek lekker is. So ʼn woord, wat ʼn eienskap van die referent weergee, is ʼn adjektief.

In die volgende voorbeeldsinne is die vetgedrukte woorde almal adjektiewe:

  • My ma bak ʼn lekker
  • Die koek wat my ma bak, is lekker.
  • My ma bak ʼn bruin
  • My ma bak ʼn ongewone
  • My ma bak die lekkerste
  • My ma bak ʼn smullekker

Uit die voorbeeldsinne kan ons ʼn paar belangrike kenmerke van adjektiewe aflei:

  1. Adjektiewe kan attributief (voor of ná die naamwoord) of predikatief (ná die koppelwerkwoord in die predikaat van die sin) optree (ʼn lekker koek x die koek is lekker). Hierdie kenmerk is kernbelangrik, want dit is die toets waarmee ons bepaal of ʼn woord ʼn adjektief is: As die woord predikatief gebruik kan word, is dit ʼn adjektief. Dit is hoe ons weet dat ʼn woord soos privaat altyd los geskryf word (ja, dit is ʼn privaat skool) – dit kan predikatief gebruik word: Die skool is privaat. (Lees hierdie blog vir ʼn verdere bespreking.)
  2. Woorde wat ʼn kleur beskryf, is gewoonlik adjektiewe (ʼn bruin koek, ʼn blou Maandag, ʼn swart gesin). Dit is om hierdie rede dat die AWS sê dat rasbenamings los geskryf word – die woorde waarmee ons na ras verwys, is kleuradjektiewe, en gevolglik altyd los.
  3. Sommige adjektiewe wat attributief gebruik word, kry ʼn e (die ongewone koek x die koek is ongewoon). In sommige gevalle is daar ʼn vorm met die attributiewe e en sonder die attributiewe e, en dan het die vorm met die e gewoonlik ʼn ander betekenis: die arm mense x die arme mense.
  4. Sommige adjektiewe kan trappe van vergelyking neem (die lekkerste koek). Ek vermoed hierdie kenmerk word op skool as die toets vir adjektiewe beskou, maar dit is gevaarlik om dit as die enigste toets aan te wend, want bywoorde kan ook trappe van vergelyking neem (die vinnigste vloeiende rivier). En dan is daar natuurlik adjektiewe wat nie gemaklik is met trappe van vergelyking nie (?die uitstekendste uitvoering)
  5. Sommige adjektiewe kan intensiewe vorme neem (die smullekker koek). Oor intensiewe vorme het ek al in hierdie blog geskryf, en ons het ʼn lys met opgetekende intensiewe vorme hier in ASG gepubliseer.

In die afdeling oor adjektiewe in ASG is daar ook ʼn afdeling (rol af na onder) waar ons bespreek hoe adjektiewe van ander woordsoorte onderskei kan word. Dit is veral moontlik om adjektiewe en bywoorde te verwar. Kyk byvoorbeeld na die volgende sinne:

  • Die koek smaak lekker.
  • Ons eet lekker aan die koek.

In die eerste sin is lekker ʼn adjektief (smaak is ʼn koppelwerkwoord wat die naamwoord se referent (koek) aan ʼn eienskap van die referent (lekker) verbind. In die tweede sin beskryf lekker nie die koek nie, dit beskryf die handeling (eet), en dit is daar ʼn bywoord.

Dit is dus ook by die herkenning van adjektiewe kernbelangrik om altyd die woord binne konteks te plaas, en dan te bepaal wat die woordsoort is, want soos ek in die blog Konteks is koning reeds verduidelik het, bepaal die konteks die woordsoort, nie die woord self nie.

En dit bring my by die laaste, en belangrikste kwessie rakende adjektiewe, en dis die hoekom. Hoekom moet ons weet watter woorde adjektiewe is? Kyk weer na die bespreking by 1 hier bo, en verwys dan na AWS 15.28, wat lees: Verbindings van byvoeglike en selfstandige naamwoorde word in die reël los geskryf. Die los en vas skryf van woorde is een van die grootste kopsere vir Afrikaanse spellers (lees hierdie blog daaroor). As ons weet dat adjektiewe los van naamwoorde geskryf word, en as ons adjektiewe in ʼn sin kan herken, is 80% van ons probleme met los en vas skryf al opgelos.

VivA-groete

Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Taalgebruik

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Emil

In my skooldae was die woord “adjektief” as anglisisme bestempel. Wat het geword van die mooie “byvoeglike”?