Tel jou woorde: Die ellendige e-

Argieffoto (Foto: Gerd Altmann/Pixabay)

Daar is ʼn paar onderwerpe op ʼn taalblad soos VivA sʼn wat altyd hewige reaksie uitlok. Ek bêre hulle meestal vir tye wat ek psigies vasberade voel, want die menings oor die saak is sterk, die manier waarop dit uitgedruk word, is sterk, en die stukrag waarmee die meningsvormers hulle in ʼn skare organiseer, is sterk. Kyk, ek het alles veil vir volk en vaderland, maar daar was al dae waarop ek gedreig het om myself aan ʼn Armeense bokboer te verkoop net om van grammatika te ontkom. (Gelukkig onthou ek elke keer betyds ek kan nie kook nie.)

Ewentwil, hierdie week is ek dapper en ek durf dus die e aan. Ja, daardie e, soos in e-handel, e-boeke, e-bankwese en e-leer. En in e-pos. Dit stel weereens nie teleur nie, die volk is vies. Darem nou nie so vies toe ek laat weet het *opdraend is nie ʼn erkende spelling vir opdraand nie, maar steeds vies genoeg om vir my vies e-posse oor die saak te stuur. Genoeg e-posse ook dat ek besluit om almal se kwellings in een blog te beantwoord.

Daar is ʼn paar taalbeginsels wat by die e ter sake is, en ek sit dit hier uiteen:

  • Die reëls vir die hantering van die e in tekste word in die Afrikaanse woordelys en spelreëls Kyk AWS 3.21 vir die volledige reël.
  • Die letter e is in hierdie konteks ʼn afkorting. Die volvorm is elektroniese.
  • Die feit dat die e ʼn afkorting is en nie ʼn woord of ʼn affiks nie, beïnvloed die manier waarop ons dit hanteer wanneer ons dit saam met ander taalkonstrukte gebruik. Samestellings tussen woord en woord is vas (gemorspos, posseël). Komplekse woorde wat bestaan uit affikse en woorde is vas (gepos, possie). Samestellings tussen afkortings en woorde is met ʼn koppelteken vas (BTW-aanslag, b.v.p.-beslissing, e-pos).
  • AWS 3.14 (d) handel oor gevalle soos SA atlete en NG predikant waar die volvorm (die woorde voor dit afgekort is) nie ʼn samestelling met die naamwoord maak wat daarop volg nie: Suid-Afrikaanse atlete en Nederduitse Gereformeerde predikant is nie samestellings nie (daarom skryf ons dit los). As ʼn mens die eerste dele afkort, is die afkorting plus die woord steeds nie ʼn samestelling nie en daarom word dit nie vas geskryf nie. Eintlik hoort die afkorting vir elektroniese ook hier, want dit vorm ook nie ʼn samestelling met die daaropvolgende naamwoord nie. AWS 3.21 (a) maak voorsiening daarvoor, en sê dat ons die e so met die koppelteken vas skryf omdat dit internasionaal so met die koppelteken geskryf word. (Ek kom netnou terug na dié argument.)
  • Waar daar ʼn opeenhoping van klinkers is wat uitspraak bemoeilik, skryf ons samestellings (woord + woord) met ʼn koppelteken (toe-eien) en afleidings of geflekteerde vorme (affiks + woord) met ʼn deelteken (geëien). Aangesien die e in hierdie geval nie ʼn affiks is nie, gaan ons nie ʼn deelteken op die e plaas as ons dit saam met ʼn woord gebruik nie. Dit gaan dus nie *geë-pos wees nie.
  • Die saak raak ingewikkeld by gevalle waar ons ʼn prefiks (voorvoegsel) by ʼn afkorting wil gebruik, want bogenoemde beginsel wil ons dwing om prefikse vas te skryf, maar ons weet reeds dat ons nie afkortings vas skryf nie. AWS 12.9 help daar. Die volledige reël lui: ʼn Samestelling met ʼn letternaam of afkorting as eerste woorddeel word met ʼn koppelteken aan ʼn voorafgaande voorvoegsel verbind. Die voorbeelde wat daar gegee word, is onder andere pre-BTW-prys, ge-U-draai en ge-e-pos.
  • Riglyn 4 van AWS hoofstuk 3 wat handel oor afkortings sê dat ʼn mens nie ʼn sin met ʼn afkorting begin nie. Jy moet dus ʼn sin soos die volgende vermy: w.s. hy is skuldig. Daar is natuurlik uitsonderings daarop. Titels voor eiename kan gemaklik aan die begin van sinne optree, net soos afkortings van grade en die afgekorte name van ander dokumente. Die ander uitsondering is hierdie e wat ook maklik aan die begin van sinne voorkom. In so ʼn geval, bepaal AWS 3.21, skryf ons die afkorting met ʼn hoofletter: E-pos vir my jou CV.

Tot sover die amptelike standpunt.

Daar is natuurlik (altyd) ʼn ander kant aan die storie:

Ek het gesê ek gaan terugkom na die argument dat die e met die koppelteken ʼn internasionale skryfwyse is: Dit het natuurlik intussen verander. Die Britte, Australiërs en Amerikaners skryf almal ewe gemaklik email, ebook, ecommerce, ebanking. Die Kanadese (altyd stroomop) skryf epost. Daar was aanvanklik in die Engelse wêreld verset teen die vasskrywery, maar selfs Associated Press se stylgids (die voorskrif vir die Engelse mediawêreld) het reeds in 2011 die vorm sonder die koppelteken aanvaar. Dit is dus nie ondenkbaar dat daardie argument van “ons skryf dit so, want almal skryf dit so” kan wegval nie.

Die Nederlanders, op wie ons ons so graag beroep as ons nie die Engelse wil navolg nie, streef dapper voort met die koppelteken. Maar hulle woord vir e-pos is e-mail (s.nw.) en e-mailde, ge-e-maild (ww.). Hulle help ons dus in hierdie geval van die koppeltekenwal in die Engelse sloot. Kyk maar hier in die Nederlandse Taalunie se woordelys.

Desalnietemin: Ek, as wetsgehoorsame burger, taalpraktisyn, lid van die Taalkommissie, taaladviseur vir VivA en puntenerige taalgebruiker, hou my by die reëls soos dit tans in die AWS vervat is. Dis my geaardheid: Nie ek-volg-ʼn-reël-want-ek-is-nie-lus-om-te-dink-nie, ek hou bloot my baklei vir goed wat die baklei werd is. ʼn Ding wat gestandaardiseer is en in ʼn erkende bron opgeteken is, is deur die woordeboekmakers nagegaan, gekontroleer, in korpusse getel en onder taalpraktisyns en die skrywende taalgemeenskap getoets, en is nie ʼn veldslag werd nie, veral nie op sosiale media nie. My tyd en energie gaan in ander goed in (soos om te leer kook).

VivA-groete

Sophia

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Barend ·

Dankie vir die artikel. Maar, van die hak op die tak: Daar word deesdae deurlopend gepraat/geskryf van, byvoorbeeld, “die vergadering is deur ‘n groot HOEVEELHEID mense bygewoon”; moet dit nie eerder wees “…. deur ‘n groot GETAL mense ….” nie? Of is die laasgenoemde konstruksie ‘n anglisisme? Ek sal kommentaar een of ander tyd hierop baie waardeer. Groete.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.