Woord: koningin-gemaal, koningin-gemalin

Die koningin-gemaal, Camilla. (Foto: Chris Jackson/POOL/AFP)

Die skryfwyse van Camilla, vrou van koning Charles III, se titel, “koningin-gemaal” of “koningin-gemalin”, het die afgelope paar weke tot verskeie taalgesprekke en -debatte in Afrikaans gelei.

Dit was bykans 70 jaar laas nodig om oor die argaïese woord “gemaal” (manlike vorm) en “gemalin” (vroulike vorm), wat na ʼn eggenote verwys, te besin.

In die Afrikaanse Taalkommissie se Taalrubriek op RSG, wat in samewerking met VivA aangebied word, sê Suléne Pilon dat daar onlangs verskeie sienswyses oor die spelling en gebruik van “koningin-gemaal” is.

Een van die aspekte waaroor talle gebruikers van Afrikaans gewonder het, is waarom die argaïese woord “gemaal” behou word. Pilon meen egter dat dit binne hierdie konteks heel gepas is.

“Gegewe die feit dat die koningshuis juis so ʼn argaïese instelling is en dat die woord waarskynlik in onbruik verval het omdat ons soveel jaar laas eintlik regtig hieroor moes gesels, is dit gepas om dié formeel klinkende gemaal uit die argiewe te haal en dit vir hierdie doeleindes af te stof,” verduidelik sy.

Nog ʼn aspek wat bevraagteken is, is die gebruik van manlike en vroulike vorme van die woord. Pilon sê daar is internasionaal ʼn tendens om weg te beweeg van gendergemarkeerde taalgebruik, en dit word toenemend ook in Afrikaans sigbaar.

Daarom is die voorstel dat “koningin-gemaal” gebruik word, eerder as “koningin-gemalin”. In die Taalrubriek op RSG brei Pilon uit oor die gevalle waar genderspesifieke begrippe wel nog van toepassing is.

Wat die koppelteken betref, verduidelik Pilon dat wel gebruik word, omdat “koningin-gemaal” in dié konteks ʼn neweskikkende samestelling is: Camilla is beide die koningin en die koning se gemaal.

“Ons skryf hierdie titel met ʼn koppelteken, want Camilla is die koningin, maar is ook die gemaal (eggenoot van die koning). Met hierdie skryfwyse dui ons dus aan dat ‘koningin’ nie die bepaler is van ‘gemaal’ nie, maar sy is die koningin én die eggenoot,” sê sy.

“Koningin-gemaal” staan dus teenoor koningin-regnant (ʼn koningin in haar eie reg omdat sy die troonopvolger is), soos koningin Elizabeth II, en koningin-regent (die ma van ʼn troonopvolger wat nog te jonk is om te regeer).

  • Maroela Media verkies die gebruik van die vroulike vorm, koningin-gemalin, en alle verwysings na Camilla sal ook só aangedui word. -Red

Bronne: Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT), Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA)

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Delia ·

Dankie. Interessant. Het nog nie gegoogle maar nou weet ek.

Boeremeisiepe ·

gendergemarkeerde taalgebruik raak nou net n pot nonsens. Hoe gaan die geskiedenis boekke nie eendag lees nie?

Jakkie ·

Van die ander vrou tot koningin….Sprokies word tog waar..of nie?……………….

ABDP ·

Ek verkies “Koningin-gemaling” want wat is dit nou weer met gender neutraliteit. Jy is of man of vrou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.