Woord: hierjy

Argieffoto (Foto: Petra/Pixabay)

Woord:
hierjy

Betekenis:
Die woord het verskillende betekenisse, soos opgeteken in die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) en die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT).

Dit verwys in die eerste plek na ʼn persoon wat deur ander mense hiet en gebied kan word. Hierdie gebruik dui op ʼn persoon wat as onderdanig of maklik beheerbaar beskou word.

  • Moenie dink jy kan my soos ʼn hierjy rondstuur nie.
  • In daardie huis is die jongste kind dikwels die hierjy wat almal se opdragte moet uitvoer.
  • Die werknemers het soos hierjys gevoel toe die baas hulle sonder ophou met take oorlaai.

ʼn Hierjy kan ook ʼn onbeskaafde, agterbakse persoon wees.

  • Die manier waarop die man optree, sou mens dink hy is ʼn hierjy uit die agterbuurte.
  • Sy het geweier om met elke hierjy wat sy teëkom geselsies aan te knoop.
  • Dit is onregverdig om ander mense as ʼn hierjy te beskou bloot op grond van hulle voorkoms.

Die derde betekenis van “hierjy” word gebruik om ʼn persoon of ding te beskryf wat in ʼn goeie toestand is of as bewonderenswaardig beskou word. Dit is ʼn minder algemene gebruik van die woord en dien as ʼn manier om ʼn positiewe eienskap of toestand te beklemtoon.

  • Almal was verbaas toe die ou, vervalle motor ʼn ware hierjy op die renbaan blyk te wees.
  • In sy nuwe pak het hy soos ʼn hierjy gelyk; gereed vir enige formele geleentheid.
  • Die tuin, eens oorgroei en verwaarloos, is nou ʼn hierjy danksy die harde werk van die tuinier.

Waar kom dit vandaan?
Die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) verduidelik dat die woord saamgestel is uit “hier” en “jy”. Die verwysings daarna om ʼn persoon te hiet en gebied en iemand wat onbeskaafd of agterbaks is, is na aanleiding van die uitroep “hier, jy” wat as tipiese gedrag van so ʼn persoon beskou word. Die derde betekenis word gebruik “juis om met die teenoorgestelde betekenis groter trefkrag te verkry”, verduidelik die EWA.

Bronne: Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA), Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT)

  • Ter wille van die konteks van hierdie taaltoffie en ter wille van erkenning aan die bron versoek ons dat jy nie bloot net ʼn skermskoot van hierdie taaltoffie op sosiale media sal deel nie, maar eerder die skakel van die Toetentaal-plasing sal gebruik. – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.