Woord:
mansjet
Betekenis:
1 Gestikte, omgevoude of los gedeelte aan die einde van die mou van ʼn hemp, bloes of soortgelyke bokledingstuk, dikwels van dubbele materiaal; sinonieme mouboordjie, mouomslag; handboordjie (verouderd), mousboordjie (minder gebruiklik): Breë, dubbele, gepypte, gestyfde, kelkvormige, nou mansjette. ≈ Die verloofde, … pragtig in sy nuwe klere, met sy wit stywe boordjie, sy groen das, … die wit mansjette van sy hemp, waaruit twee rue en rooi hande … te voorskyn kom (B. Gemser, vert.: Nieu-Hebr. Kortverh., 1933, 28). Hy (steek)… sy arm uit na die boeke wat op die tafeltjie… lê, sy benerige polsgewrig vir ʼn oomblik sigbaar onder die mansjet (K. Schoeman: Ander Land, 1984, 22). Ek het my splinternuwe somerpak aan… my skoene blink… en my spierwit mansjette steek driekwart duim by my baadjiemoue uit (P.H. Nortje: Son, 1967, 127).
2 (geneeskunde) Opblaasbare band wat ʼn liggaamsdeel of ʼn buis omring: ʼn Hol mansjet, wat om die bo-arm gedraai word, word vinnig opgepomp… totdat die druk in die mansjet hoër is as die verwagte sistoliese bloeddruk (Ens. v.d. Wêreld 2, 1971, 384). Die mees effektiewe metode om die getyvolume te vermeerder is met ʼn meganiese respirator wat ʼn intermitterende positiewe druk uitoefen… langs ʼn… trageostomiebuis met opblaasbare mansjet (Geneesk., Jun. 1962, 167).
Bron: WAT