Woord: Retoesjeer

Argieffoto (Foto: Benjamin Sz-J./Pixabay)

Ons almal is waarskynlik bekend met die Engelse “retouch” of “touch up”. Maar het jy geweet dat dit “retoesjeer” in Afrikaans is?

retoesjeer ww., het geretoesjeer; byv. en byw. -, -, geretoesjeerde, geretoesjeer(d). Ook soms retoucheer. (Fr. retoucher)

1 (t.o.v. ‘n foto, skildery, klankopname, of dergelike werk) Verbeter, opknap of aanvul: Toe (ná J. se teregstelling) het S. die foto laat retoesjeer en J. se teenwoordigheid langs hom is verwyder (Burg., 3 Febr. 2006, 12).  Die owerige (briewe en verklarings van Piet Retief) … het ons so getrou as moontlik in sy eie taal en spelling gevolg, afgesien van enkele wat … ortografies en grammatikaal geretoesjeer is (J.L.M. Franken: Retief, 1949, 11).  Die beste geskenk … wat ons aan ons ouers kan gee … is ‘n geretoesjeerde, geromantiseerde, met die hand gekleurde foto van ons (Sarie, 17 Des. 1975, 40).

2 ‘n Verbloemde of vals voorstelling maak: ‘n Mens (kan) ‘n weiering in die jonger prosa waarneem: dis ‘n weiering om te harmoniseer en te retoesjeer deur konflik en antagonisme dood te swyg. Die jonger generasie ken naakte geweld (Burg., 25 Aug. 1989, 11).  Die saak (die verkiesing v.d. politikus) (is) ‘n aanklag teen die Amerikaanse politieke stelsel, wat sorg dat ‘n sorgvuldig geretoesjeerde en dus valse beeld van ‘n kandidaat gekies word (Volksbl., 28 Sept. 1998, 8).

Bron: WAT

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.