Tegnologie móét en kan geleidelik in enige klaskamer geïntegreer word

Dr. Ria Taylor, adjunkhoof van Hoër Meisieskool Paarl en Marie Grabe, vakkenner by SOS en voormalige departementshoof van Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria. (Foto: Maroela Media)

Hoewel dit ʼn groot kopskuif verg, benadruk onderwyskenners dat die integrasie van tegnologie in die klaskamer nie oornag of met die jongste tegnologie hoef te gebeur nie.

“Tegnologie sal nooit onderwysers vervang nie, maar onderwysers wat nie tegnologie benut nie sal vervang word deur dié wat dit wel doen.”

Dr. Ria Taylor, adjunkhoof van Hoër Meisieskool Paarl, het dié stelling gemaak tydens haar aanbieding oor die waarde wat tegnologie in die huistaalklas kan toevoeg tydens die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se tiende nasionale onderwyskongres.

Taylor het verskeie voordele en nadele wat tegnologiese integrasie vir die klaskamer inhou bespreek, asook praktiese maniere gedeel waarop dit geleidelik toegepas kan word.

Sy het ook redes aangevoer waarom tradisionele én sogenaamde virtuele klaskamers vervleg kan word om leerlinge vir die 21ste eeu voor te berei.

“Tegnologie is uiters waardevol en voordelig omdat kinders daardeur makliker toegang tot inligting het wat hulle taalkundig kan ondersteun, dit maak die leerproses prettig en berei hulle vir die digitale toekoms voor. Boonop verbeter en vergemaklik dit die kommunikasiekanale en assesseringproses vir onderwysers,” sê Taylor.

Sy het verduidelik dat kinders se akademie ook danksy tegnologie nie onder hul propvol buitemuurse aktiwiteite hoef te ly nie.

Boonop bemagtig virtuele klaskamerplatforms en funksies soos Google Meet kinders om later terug te gaan en self hul lesse te hersien, take aanlyn in te handig en met onderwysers buite skoolure te kommunikeer.

Taylor het haar eie virtuele leer- en assesseermetodes, asook die platforms en toestelle wat sy gebruik om dit toe te pas – onder meer ʼn elektroniese notaboek, vergrootglastoestel en Google Classroom – tydens die aanbieding gedemonstreer.

“Omdat ons skool reeds in 2014 Google Classroom begin integreer het, kon ons in 2020 maklik uit die tradisionele klaskamer en in die virtuele een instap.”

Sy het wel gewaarsku dat tegnologie natuurlik nadele kan inhou en kinders en onderwysers dikwels meer passief kan maak, leerlinge se konsentrasievlakke kan belemmer en ook beteken dat nuwe beleid en klaskamerbestuur toegepas moet word.

Hoewel dit ʼn groot kopskuif verg, het Taylor egter benadruk dat die integrasie nie oornag of met die jongste tegnologie hoef te gebeur nie. Sy het eenvoudige platforms en mediums soos YouTube en podsendings gelys as basiese en goedkoop maniere om kinders gewoond te maak aan ʼn multimedia-leerproses.

Onderwysers van regoor die land het vandeesweek bymekaar gekom vir die SOS-kongres. (Foto: Marlien van der Westhuizen/SOS)

Sy het bygevoeg by dat die meeste skole ook nie noodwendig toegang tot internet of die jongste tegnologie het nie en dat skole, veral hoofde en bestuur, dit eers moet steun en waar moontlik onderwysers bemagtig om tegnologie in die klaskamer te integreer.

Daarmee sê sy nie dat tradisionele klaskamermetodes afgeskryf moet word nie, maar eerder met virtuele metodes geïntegreer word.

Marie Grabe, vakkenner by SOS en voormalige departementshoof van Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, het ook tydens dié aanbieding verduidelik hoe tegnologie en die omgekeerde klaskamertegniek veral in die letterkundeklas gebruik kan word om ʼn meer interaktiewe en holistiese leerervaring vir leerlinge te bied.

Sy het verduidelik dat onderwysers die onderwerp deeglik moet bestudeer en navorsing moet doen om gepaste bykomende bronne te gebruik om die vakinhoud interessant en maklik verteerbaar vir kinders te maak.

“Kinders moet geleer word hoe om kritiese denke te vorm en vir dit om te gebeur moet hul algemene kennis verbreed word. Tegnologie kan help om dít moontlik te maak,” het Grabe gesê.

Sy het bygevoeg by dat kinders juis deur hul verpligte voorgeskrewe werk verryking moet vind.

“Om ʼn taal te onderrig is nie om bloot net ʼn vak te onderrig nie, maar om ʼn leefwyse te stimuleer en ontwikkel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VaalDonkie ·

Solank as wat die tegnologie jou werk makliker en beter maak. Ek sien baie kere dat dinge moeiliker raak omdat dit nou met ‘n rekenaar gedoen moet word eerder as met pen en papier. En as ‘n Sagteware Konsultant irriteer dit my want my werk is om joune makliker te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.