Tel jou woorde – Die bulle se boeke

Argieffoto

Ek is al vir baie goed in my lewe uitgeskel, maar die een wat my die vieste in gehad het (en my die viesste gemaak het), was die etikel van “taalbul” wat op ‘n kol om my nek gehang is. Kyk, ek is bereid om oor baie beledigings my oë te rol en stil te bly, want nie alles is ‘n oorlog werd nie, maar ‘n taalbul was ek wragtig nog nooit. Taalkoei, dalk, en hoewel ek my daaroor ook dalk sal wip, is dit ten minste biologies korrek. Ek het vroulik in hierdie lewe aangekom en so sal ek hier weg.

Maar goed, die bakleiery was eintlik oor mense (mense, want vroue mag deesdae saampraat) wat taal maak en dit dan gebruik/misbruik om die res van die arme taalgemeenskap te verwar. En dan het hulle nie eers die ordentlikheid om hulle eie verwarring op te los voor hulle ander verwar nie, want kyk net wat gaan in woordeboeke aan: Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) en die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) sê “altwee” is korrek. Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) en die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) sê slegs “al twee” is korrek. Oor die woord “raar” sê HAT dit beteken “eienaardig”, die HAT se Taal- en Feitegids sê as jy “raar” gebruik om “seldsaam” aan te dui, is dit ‘n anglisisme, en die WAT gee albei gebruiksmoontlikhede (“seldsaam” en “eienaardig”) by “raar”. Die Taalkommissie sit al weer op die draad oor “raar”, want dit is opgeneem, maar die AWS sê niks oor die betekenis nie.

Sulke wisseling is vir gebruikers frustrerend, dit gee ek geredelik toe. Maar dit is ook onvermydelik dat dit sal gebeur, en wel oor ‘n paar redes:

1. Taal verander. Woorde verloor hulle bruikbaarheid, en nuwe woorde word geskep. As ons hierdie beginsel aanvaar (en ons moet), beteken dit ook dat woordeboeke gaan verouder. Ek was onlangs in ‘n interessante gesprek betrokke oor die vertaling van die titel van ‘n gebed “Risen Lord” (verwysend na Jesus). Die voorgestelde vertaling was “verrese Heiland” (dit is so in die AWS en HAT opgeneem), maar die lidmate gebruik “opgestane” en nie “verrese” nie. Hoe nou? Vertaal ‘n mens hierdie woorde sodat gebruikers dit verstaan of hou ‘n mens by die bekende en geliefde uitdrukking al het al twee hierdie woorde eintlik in die spreektaal in onbruik geraak? Volg ‘n mens die woordeboek of volg ‘n mens die sprekers? En wat van die inskrywing in die AWS en HAT? Vyftig jaar gelede was “verrese” nie ‘n vreemde of verouderde woord nie, maar dit was reeds met die 1983-vertaling een, want daardie vertaling gebruik slegs die woord “opgestane”. Wat maak die Taalkommissie en die HAT nou met “verrese”? Word dit geskrap omdat niemand meer so praat nie? Word dit behou met ‘n etiket wat aandui dat dit verouderd is of dat dit slegs godsdienstaal is? Of word dit net behou sonder enigiets daarby, al weet ons niemand praat meer so nie? Hoe lank word dit behou? Tien jaar? Vyftig jaar? Indien dit geskrap word, wat gebeur met die woordeboek – moet die hele ding herdruk word omdat een woord daarin verander het? Hoe laat ‘n mens gebruikers weet dat ‘n woord geskrap is of dat nuwes opgeneem is? Het jy al ‘n antwoord op enige van dié vrae? Nee? Hier is nog:

2. Sommige woordeboeke (soos die WAT) is nie ‘n boek nie, dis ‘n projek. Dit beteken die bron verskyn in bundels soos wat dele afgehandel word, en teen die tyd dat die laaste bundel verskyn, is daar woorde in die eerste een wat verouder of verander het. Dis wat met “altwee” gebeur het. Die bundel van die WAT waarin “altwee” opgeneem is, het reg aan die begin van die projek verskyn (dit word alfabeties opgestel). Dié woord is as een woord opgeneem omdat dit so in skryftaal gebruik is. Intussen het die Taalkommissie bevind mense skryf slegs “altwee” en nooit “aleen”, “aldrie”, “altwintig” of “alhonderd” nie en ons het ‘n eenvormigheidsbeginsel wat toegepas moet word. “Altwee” is ‘n afwyking van die patroon [al]+[telwoord]=los en gevolglik ‘n spelfout. Dit word so in nuwe uitgawes van die AWS aangedui. Maar die WAT is gedruk en staan op rakke en kan nie nou herroep word omdat nuwe insig nuwe spelwyses meegebring het nie. Hoe moet jy daaroor dink? Op dieselfde manier as wat ouer vertalings van godsdiensgeskrifte “verrese” gebruik, is daar in ouer woordeboeke woorde opgeneem wat deesdae anders gebruik word. Dit beteken nie die ouer leksikograwe of Bybelvertalers het geknoei nie, dit beteken bloot hulle het gewerk by die lig tot hulle beskikking. Aanvaar dat hulle gedoen het wat hulle kon, dat daar verandering gekom het en dat dit jou verantwoordelikheid is om seker te maak jy bly by.

3. Nie alle taalbronne is dieselfde nie. Die AWS is byvoorbeeld nie ‘n woordeboek nie. Dit is ‘n standaardiseringsbron met taalreëls daarin en ‘n lys woorde wat die reëls illustreer, spelprobleme vir gebruikers veroorsaak of opgeneem is om aan te dui dat dit nou standaardtaal is (byvoorbeeld “oukei”, “venue” en “mittedjale” in die nuwe AWS). Die AWS se werk is nie om betekenis te verklaar nie. Dit is die werk van die HAT (wat ‘n beknopte verklarende woordeboek is wat gewone mense op hulle rakke kan aanhou) en die WAT (wat ‘n omvattende verklarende woordeboek is wat die volle reikwydte van Afrikaans probeer vasvang). Op dieselfde manier gee die Etimologiewoordeboek inligting oor die herkoms van woorde, die Tweetalige Voorsetselwoordeboek se primêre funksie is om korrekte voorsetselkollokasies aan te dui en Pharos se groot Tweetalige Woordeboek moet jou met vertalings help. Alle taalnormeringsbronne moet natuurlik so na as moontlik aan die standaardtaal bly, maar moenie in die AWS na betekenis gaan soek, of van die Tweetalige Woordeboek verwag om jou met voorsetsels te help nie. Soek op die regte plek na die regte antwoord. En onthou dat spelling in die eerste plek deur die AWS bereël word. As jy drie spelwyses in drie verskillende bronne vir “altwee/al-twee/al twee” kry, kies die spelwyse wat in die AWS aangedui word.

4. Geld is ‘n ding wat op raak. Dis hartseer, maar dis die geval. Daar is woordeboeke wat uit druk uit raak en wat nie meer bygewerk word nie, want dit is nie meer winsgewend vir uitgewers om die boek uit te gee nie. Teken liewer in op die digitale weergawes van taalnormeringsbronne. Party digitale weergawes van woordeboeke word deurlopend bygewerk (VivA se databasisse word elke Vrydag bygewerk) en die inligting wat jy daarin kry, is meer resent as die papierweergawes van dieselfde boek.

As jy steeds gefrustreed is, word deel van ‘n betroubare taalforum op die internet of kry jou taaladvies gratis by VivA se Adviesportaal. Maar moenie op sosiale media kerm oor jy nie korrekte inligting in woordeboeke kan kry nie. Jy kan, mits jy reg soek, net soos wat jy enige ander korrekte inligting kan kry mits jy reg soek. En moenie snedig raak oor mense wie se werk dit is om taal op te teken nie. Hulle is nie dom of onbevoeg nie. Hulle is wel mense en kan foute maak, maar hulle werk ook met ‘n lewende ding wat hom nie altyd in ‘n boek laat vasvang nie en soms vinniger verander as wat die Taalkommissie kan sê “huidiglik”. Saggies trap as jy trap.

VivA-groete
Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae