Tel jou woorde – Die taal wat ek aan my ma gedrink het

Grafika: VivA

Dit was hierdie week Internasionale Moedertaaldag. Die dag word jaarliks op 21 Februarie gevier, en is deur Unesco ingestel met die doel om taaldiversiteit oor die wêreld heen te bewaar en te versterk. Ek is op dié dag deur verskeie liggame en organisasies gevra om kort aanhalings te skryf wat hulle in veldtogte kan gebruik, en ek het selfs ʼn radio-onderhoud as ambassadeur van afrikaans.com gedoen om mense bewus te maak van die inligting op hulle webblad oor moedertaalonderrig.

Die dag was al verby, my skrywes geskryf en my sprakke gesprook, toe ek uiteindelik gedwing is om behoorlik te besin oor wat moedertaal vir my beteken.

Sien, ek plaas elke dag meme op VivA se Facebookblad. Dit gee vir ons blootstelling en hopelik leer gebruikers elke nou en dan ʼn nuwe ding oor Afrikaans. Ek probeer om dit af te wissel sodat die arme mense nie doodgegooi word deur reëls en voorskrifte nie, en op spesiale dae probeer ek om so ʼn bietjie uit die gewone aanbieding te klim en iets moois of fraais of lafs of sommer net “anderster” te plaas.

Op dié betrokke Moedertaaldag, plaas ek toe aanhalings van bekendes (wel, mense wat ek ken) wat iets oor Afrikaans te sê gehad het wat nie noodwendig opruiend van aard is nie. Mense wat stil-stil verlief geraak het op hulle taal, en rondloop met die wete dat hulle siele aan hierdie ding verknog geraak het op ʼn manier wat ons gewone sterflinge moeilik uitdruk.

Ek begin met ʼn aanhaling uit Hemelbesem (Simon Witbooi) se boek God praat Afrikaans: “Ek praat Afrikaans met God en Hy verstaan my.” Simon is ʼn rapper en ʼn (Kaapse) Kapenaar wat ongelooflike waardevolle werk vir Afrikaans doen. Hy het ʼn aanhang soos min, van jong kinders tot bejaarde anties, en sy boodskap is eenvoudig: Hierdie taal van jou, is joune, gebruik hom; moenie skaam wees vir hom nie, moenie dink hy kan jou nie dra nie. Die aanhaling sê: Die mens wat jy binnetoe is, die gees, die wese, die syn, kan Afrikaans wees, en dit is goed genoeg vir alle gebruiksituasies, ook vir ʼn sielsontblotende plek soos ʼn binnekamer.

Later die dag plaas ek iets wat die digter-skrywer-taalkundige Hans du Plessis graag sê: “Afrikaans is die taal waarin ek kan bid en die taal waarin ek kan vloek.” Daarmee sê hy: Ek kan in my rouste oomblikke net Afrikaans wees. Ek kan, wanneer alles afgedop en weggeneem en blootgelê is, net Afrikaans wees.

Ek raak besig met vergaderings en vergeet van die plasings. Eers later sien ek mense se reaksies: Die een spul is kwaad omdat ek religieuse meme plaas, want dit hoort nie op ʼn taalblad nie; die ander lot is kwaad omdat ek ongure taalgebruik onder Afrikaners propageer, en slaan my met ʼn Bybelvers oor die kop.

Albei groepe het die strekking van die aanhalings en die rede vir die plasing daarvan misverstaan. Albei het my (en Hemelbesem en Hans du Plessis) se reg om ons menings oor ons moedertaal uit te spreek, aangeval. Oor die eerste wil ek sug; oor die tweede wil ek ʼn vers pleeg.

Dit is vir enige Afrikaanssprekende, veral ʼn middeljarige Afrikaanssprekende, bitter moeilik om aan die taaldebat deel te neem. Dit het politieke belasting soos min, en die oomblik as iemand iets te sê het, is daar ʼn spul militantes (aan al sewentien kante van die spektrum) wat gereed staan om met harde woorde en etikette in te klim en enige redelike stem te smoor.

VivA bedryf nie ʼn blad waar ons taalpolitiek praat nie. Ek het nie die tyd of die lus om daardie stryd te bemiddel nie; ander organisasies doen dié werk en hulle doen dit baie beter as wat ek dit kan doen. Ek is begaan oor spelling en taalreëls en toeganklikheid en inklusiwiteit.

Maar ek is ook Afrikaans, onteenseglik Afrikaans, en ek is op ʼn baie direkte manier van die oorlewing van Afrikaans vir my eie oorlewing afhanklik. Daarom het ek ontsaglike waardering vir ander mense wat hard werk vir en in Afrikaans, en wat die oorlewing van die taal op ʼn praktiese manier verseker. Wat in die openbaar sê: Afrikaans is die taal van my hart, van my siel, van my gees, van my onafgeronde, bar, naakte self. As ek hulle aanhaal, is dit nie omdat ek noodwendig met hulle menings of geloofsoortuigings saamstem nie, maar omdat ek eien wat hulle sê – my moedertaal is ryk en groot en wyd genoeg dat my syn daarin geborgenheid kry.

Laat dus maar asseblief leef hier op die Facebookblad, al is jy agnosties, en laat maar staan, al dink jy vloek is ʼn doodsonde. Net soos wat jy nie Afrikaans in ʼn boks kan druk wat jy gemaak en geëtiketteer het nie, net so kan jy nie sy sprekers in ʼn blik druk nie. Ons is verskillend. Ons dink verskillend. Ons praat verskillend. Ons verstaan verskillend. Maar in een ding is ons dieselfde: Afrikaans is vir ons sielsbesit. Laat ons dan nie kibbel oor hoe dit in ons siele vergestalting vind nie.

VivA-groete
Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Dit is inderdaad so dat ons almal aktiviste ten gunste van ons taal kan word deur sosiale media te gebruik. Maar, en dit is is ‘n groot maar, daar is vele ander fronte wat ons bloot ignoreer. In elke dorp of stad waar ek kom, maak ek ‘n punt daarvan om die plaaslike biblioteek te besoek. In meeste gevalle is Afrikaanse boeke nou heel agter in die biblioteek en vermoed ek die rakspasie vir Afrikaans is minder as voorheen. Daar is min aanduiding dat enige nuwe Afrikaanse boeke in dekades aangekoop is en alle boeke wat vertoon word is in Engels. En moet nie eers probeer om die personeel in Afrikaans te groet nie, dit is ‘n vreemde taal vir hulle. Maar daar is ook werklik verrassende uitsonderings op selfs klein dorpies en ek vermoed dit is omdat daar aktiewe Afrikaanse biblioteekgebruikers is saam met besorgde personeellede wat na hul behoeftes omsien.

Elza Lorenz ·

Saam met moedersmelk het ek Afrikaans ingekry en so het die taal in my gees nesgeskrop. Ander tale wat ek bemeester en liefhet, is ook daar maar Afrikaans in sy oneindige verskeidenheid woon onafskeidbaar in my wese,

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.