Tel jou woorde – Het jy mudita, of moet jy manja vir jou merak?

Argieffoto (Foto: humusak, Pixabay)

Kry vandag van VivA-gebruiker Chantél Vervalle ʼn interessante navraag: Het ons ʼn woord, ʼn enkele woord, in Afrikaans wat dieselfde beteken as mudita? Gelukkig stuur sy die definisie saam, want ek het geen idee wat dit beteken nie.

Mudita, laat sy weet, is ʼn Sanskrit-woord en word op Wikipedia gedefinieer as vreugde. Maar dis vreugde van ʼn baie bepaalde geaardheid. ʼn Simpatieke vreugde. ʼn Meelewende vreugde. Die soort vreugde wat jy ondervind wanneer ander presteer of vooruitgaan of bevoordeel word sonder dat jy iets daaruit te kry, soos ʼn grootmens wat staan en kyk hoe ʼn kind iets regkry sonder dat die kind se prestasie enigiets oor die grootmens sê. Dis ʼn selfafleggende vreugde, heeltemal na buite gekaats. Vreugde wat lekkerkry oor ʼn ander se sukses, sonder enige eiebelang. Suiwer vreugde.

Ons het nie so ʼn woord nie, antwoord ek. Dis jammer, want dis ʼn pragtige konsep. En dis tekenend dat ons die woord het vir die lelike kant van dieselfde munt – leedvermaak – waar ander tale die Duitse woord Schadenfreude daarvoor moes leen. Ons ou volkie kan ons mos aljimmers so oor ander se swaarkry verkneukel.

Die navraag het my wel aan die wonder gesit oor sulke “onvertaalbare” woorde. Daar is al sulke ondersoeke gedoen na moeilike vertaalekwivalente, maar dan is ons gewoonlik aan die soek na Afrikaanse woorde wat moeilik in ander tale vertaal. Die verstekantwoord op so ʼn ondersoek is gewoonlik kosterme (ons is afgesien van leedvermakerig ook lief vir eet) en ons spring dadelik weg met ʼn hele rits spyskaartitems wat ons meen eg Afrikaans is: melktert, boerewors, biltong, koeksisters. En dan die immergroen “sommer” en “mos” wat al in amper elke Suid-Afrikaanse taal vastrapplek gekry het, juis omdat dit so lekker sê en nie wil vertaal nie: “I’ll mos sommer klap you, hey!”

Ons gee nie vreeslik aandag na die ander kant toe nie – die onvertaalbares uit ander tale (dis nou natuurlik buiten Engels) – want dis mos maar eintlik vertalers se probleem. Dit is ʼn probleem, maar dis darem ʼn lekker een. Vir my is dit soos om ʼn blink steentjie in ʼn bergstroom te ontdek en ʼn oomblik daarmee in ʼn mens se hand te sit terwyl jy dit bewonder: Dit het kleur en diepte, en as ʼn mens dit vashou, sien jy die sonlig daarin. Dis ʼn kosbaarheid, en ek kan my daaraan verwonder al weet ek dis nie myne om te hou nie.

Ek het self onlangs in ʼn manuskrip met so ʼn woord te doen gehad: saudade, uit Portugees. Dit verwys na ʼn baie diep verlange, ʼn soort melancholiese nostalgie na ʼn tyd wat nie weer sal wees nie of ʼn persoon wat nie meer deel is van ʼn mens se lewe nie. “Die liefde wat agterbly” word dit soms genoem. Dis meer as hartseer of ʼn gemis, want dit sluit ook die blydskap in dat ʼn mens dit wel kon ervaar, en ʼn behoefte om die vreugde weer te kan beleef. Die naaste wat ʼn mens seker in Suid-Afrika daaraan sal kom om dit te verklaar, is die gevoel wat ouers het vir kinders en kleinkinders wat in die buiteland woon: Dis ʼn gemis, ʼn vreugde, ʼn trots, ʼn berusting, ʼn opgewondenheid oor ʼn weersiens, en ʼn aaklige, hartverskeurende leegheid, alles ineen.

Hier is ʼn kort lysie van nog sulke onvertaalde, onvertaalbare woorde wat my effe jaloers maak op die tale wat hulle uitgedink het, want hulle is darem bitter nuttig en beskrywend:

Fernweh (Duits) – verlange of heimwee na ʼn plek waar ʼn mens nog nooit was nie
Backpfeifengesicht (Duits) – ʼn gesig wat ‘n vuis daarin nodig het (daarvoor het ons darem in Afrikaans ‘n kom-moer-my-gesig)
komorebi (Japannees) – sonlig wat deur die bome se blare filter
kyoikumama (Japannees) – ʼn ma wat haar kinders boelie om akademies te presteer
sobremesa (Spaans) – die tyd wat ʼn mens aan tafel bestee nadat die kos op is, maar die geselskap steeds vloei
duende (Spaans) – die eienaardige bekoring wat ʼn kunswerk op ʼn mens het
gökotta (Sweeds) – om vroeg op te staan en buitentoe te gaan sodat ʼn mens die voëls kan hoor sing
lagom (Sweeds) – nie te min nie, nie te veel nie, net reg
trepverter (Jiddisj) – ʼn slim antwoord waaraan jy dink oomblikke nadat dit te laat is om dit te gebruik
flâner (Frans) – die handeling om in die strate van Parys rond te stap met geen ander doel nie as om die skoonheid van die stad in te drink
listopad (Russies) – vallende blare
goya (Urdu) – wanneer die sogenaamde “suspension of disbelief” wat ʼn leser by ʼn goeie storie ervaar so sterk word dat die fantasie ʼn werklikheid word
kilig (Tagalog) – die skoenlappergevoel wat jy kry wanneer jy besef jy is besig om op iemand verlief te raak
hyggelig (Deens) – ʼn gesellige, warm, intieme, gemaklike, gemoedelike oomblik, gewoonlik voor ʼn kaggelvuur en gewoonlik een waarin daar alkohol betrokke is
ya’aburnee (Arabies) – letterlik “jy begrawe my”; iets wat jy sê vir iemand wat vir jou so kosbaar is dat dit ondenkbaar is om die lewe sonder die persoon voort te sit
utepils (Noorweegs) – om buite in die son te sit en bier drink
merak (Serwies) – ʼn gevoel van vervulling en eenwees met die heelal, wat ʼn mens kry uit die eenvoudige vreugdes van die lewe
psithurism (Grieks) – die klank van blare wat in die wind ritsel
uitwaaien (Nederlands) – ʼn wandeling wat ʼn mens onderneem om van spinnerakke ontslae te raak
tampo (Filippyns) – om liefde van iemand te weerhou wat jou gevoelens seergemaak het
manja (Maleis) – stroperige, koketterige gedrag van vrouens wat mans sover wil kry om aan hulle aandag te gee of hulle te pamperlang
chai-pani (Hindi) – geld wat aan iemand, gewoonlik ʼn staatsamptenaar, gegee word om iets gedoen te kry
won (Koreaans) – ʼn onwilligheid om ʼn illusie te laat vaar
hanyauku (Rukwangali (ʼn Namibiese taal)) – om op jou tone oor warm sand te hardloop
kaapshljmurslis (Litous) – die vertrapping op openbare vervoer tydens spitstyd
házisárkány (Hongaars) – letterlik “binnenshuise draak”; ʼn ongedurige, neulende verhoudingsgenoot

Mag jy vanmiddag die kaapshljmurslis oorleef sonder dat dit jou chai-pani kos, en mag jy betyds by die huis kom sodat jy nog kan uitwaaien en kan luister na die psithurism en kyk vir die komorebi, en dan nog voor aandete ʼn utepils kan inpas. Mag jy tydens jou sobremesa weet dat jy lagom het, en mag die hyggelig jou házisárkány so mak hê dat jy nie hoef te manja om weer kilig te voel nie. Merak vir jou toegewens!

VivA-groete
Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Rubrieke, Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Eish ·

Dalk maar goed dat ons nie woorde vir die belewenisse het nie, anders sou menige Afrikaanse digter se pogings om dit te verwoord, onnodig gewees het, en ons, soveel armer.

Boerenooi ·

Hiraeth (Wallis) is ook baie mooi (means ‘nostalgia’, or, more commonly, ‘homesickness’. Many Welsh people claim ‘hiraeth’ is a word which cannot be translated, meaning more than solely “missing something” or “missing home” – Wikipidea). Dit blyk dat ‘hiraeth’ die ekwivalent is van die Portugese ‘saudade’.

John ·

Partykeer bly ons Afrikaners net stil wanneer sulke emosies ervaar word. En die stiltes gaan net meer en meer word in ‘n land wat verwondering in groot maat produseer.

André Kruger ·

Probeer in enige taal sê: “Ag dis mos sommer baie lekker nè?”…

Asjas ·

Pragtige artikel. Laaste paragraaf so mooi saam gesit. Die Nederlandse taal het vir my baie mooi woorde wat dinge beskryf.

Casper Labuschagne ·

Ek spit steeds rond na ‘n beter Afrikaanse woord vir “meme” as meem wat tans in gebruik is. Vir meeste mense beteken meem ‘n grappie wat op die Internet versprei maar daar is ook die betekenis aan “meme” in Engels waar dit ‘n kultuurverskynsel is wat oombliklik regoor die wêreld voorkom soos byvoorbeeld ‘n modegier wat vandag in Moskou ontstaan maar letterlik die volgende dag wêreldwyd voorkom. In daardie geval gebruik ek my eie skepping nl. kultuurgreep maar daardie woord is ook nog effe krapperig op my tong alhoewel dit minder krap as meem wat veronderstel is om dieselfde verskynsel te beskryf maar waar meem nou amper altyd na ligsinnighede op sosiale media verwys. Die woord kultuurverskynsel beskryf ‘n verskynsel in ‘n spesifieke kultuur en nie ‘n wêreldwye kultuurgreep nie en is ook nie gepas nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.