Vloek met flair (en voorbehoud)

Grafika: Pixabay

VivA het op 15 November 2019 ʼn seminaar gehou met die titel “Vloek met flair (en voorbehoud)”. Die tema het natuurlik ʼn paar wenkbroue laat lig, maar deelnemers is sommer vroeg-vroeg deur VivA se uitvoerende bestuurder, Marlie Coetzee, daarop gewys dat die geleentheid geskep is om ʼn bestekopname van die taalverskynsel te maak, nie om ʼn vloekfees van stapel te stuur nie.

Die gesprek oor die saak het dus nie die oogmerk gehad om ʼn gevloek goed te praat of om kru taal en taboe-onderwerpe te normaliseer nie, maar juis om vas te stel waar die grense lê in ʼn samelewing wat dikwels wil maak asof daar geen grense meer is nie.

Die gesprek is ingelei deur prof Gerhard van Huyssteen, taalkundige aan die Noordwes-Universiteit (NWU), oprigter van vloek.co.za en projekleier van ʼn navorsingsprojek wat met behulp van befondsing van onder andere die NWU en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns onderneem word. Gerhard het in sy navorsing reeds ses kategorieë vloekwoorde geïdentifiseer: woorde waarmee taalgebruikers sweer (die Here hoor my), waarmee hulle mekaar vervloek (die hel haal jou), waarmee hulle beledig (jy is so dom soos grond), swets (dêmmit), skel (jou buffel) of laster (wat versagtende vorme soos o gonna! insluit). Die woorde in hierdie laaste kategorie is gewoonlik dié wat die meeste aanstoot gee, omdat dit in verskeie religieë as erg taboe beskou word.

Daarbenewens het Gerhard ses domeine geïdentifiseer waaruit Afrikaanse vloekwoorde kom: seks, religie, skatologie (wat te make het met liggaamsuitwerping), andersheid (byvoorbeeld rassistiese en seksistiese woorde waarmee iemand wat anders is as die spreker daaroor beledig word), die diereryk en die natuur. Hy sê dit wil voorkom dat die laaste domein uniek is aan Afrikaans, want hy kry byvoorbeeld nie in Nederlands gevalle waar woorde wat met ʼn donderstorm te make het as kragwoorde aangewend word nie.

Op ʼn vraag uit die gehoor waarom hy die navorsing aangepak het, het Gerhard gesê dat dit byvoorbeeld in die veld van kunsmatige intelligensie nodig is om te kan onderskei tussen “gewone” taal en vloektaal. Toepassings soos Alexa en Siri moet vloekwoorde kan herken, en dit kan net gebeur as dié woorde in die programmatuur gemerk word. Die oogmerk van vloek.co.za is om uiteindelik ʼn vloekwoordeboek (die Afrikaanse Vloekpedia) saam te stel waarin gebruikers ook ʼn aanduiding sal kan kry van die taboewaarde van vloekwoorde – alle vloekwoorde is per slot van rekening nie ewe aanstootgewend nie.

Dit is natuurlik ook ʼn gegewe dat nie alle beledigings vloekwoorde bevat nie en nie alle woorde wat in vloeke gebruik word by verstek vloekwoorde is nie. ʼn Woord soos God is byvoorbeeld glad nie ʼn vloekwoord nie, maar as dit in ʼn konteks gebruik word waar die spreker se bedoeling is om ʼn bepaalde effek by die hoorder te skep, word die woord lasterlik. Vloektaal hou dus intrinsiek met die spreker se bedoeling en die hoorder se reaksie verband, nie net met ‘n woord self nie.

ʼn Paneel sprekers is genooi om by die geleentheid op te tree. Susan Lombaard van Maroela Media het gesê dié webtuiste het ʼn baie streng beleid oor vloektaal en beledigings in kommentaar – dit word onmiddellik uitgevee. Een rede daarvoor is natuurlik dat sulke taal in stryd is met die Christelike karakter van Maroela Media, maar sy het ook daarop gewys dat die gebruik van kru taal of persoonlike beledigings die aard van die debat negatief beïnvloed. Sodra daar sulke aanmerkings in ʼn gespreksketting gemaak word, swenk die gesprek weg van die onderwerp en spiraal dit af in ʼn moddergooiery, wat natuurlik geen opbouende bydrae lewer nie.

Hannes Brümmer, ʼn bekende figuur in die vermaaklikheidsbedryf, het gesê dat kunstenaars dikwels groter vryheid het wat hulle taalgebruik betref, maar dat kru taal ten alle tye binne die konteks van die stuk sinvol moet bly. Hy het die interessante opmerking gemaak dat daar na sy waarneming ʼn verband by Afrikaners ontstaan het tussen “ordentlikheid”, nasietrots en “skoon” taal – volgens hom beskou baie Afrikaners kru taal nie net as onbetaamlik nie, maar as “kommin”. Die belangrikste gevolgtrekking waartoe hy egter gekom het, is dat kunstenaars (en ons gewone mense) ingevolge die beginsel van vryheid van spraak die reg het om enigiets te mag sê, maar dat dit nog lank nie beteken dat ons dit moet sê nie.

Foeta Krige, die voormalige uitvoerende regisseur van RSG se nuusaktualiteitsprogramme, het ʼn paar staaltjies gedeel uit sy dae by die SAUK. Hy het dit duidelik gestel dat geen omroeper ooit toegelaat sou word om tydens ʼn uitsending te vloek nie – dit is gewoon nie professioneel nie – maar hy het soms vloekwoorde in die persoon met wie die onderhoud gevoer is se taal toegelaat as dit ʼn ekstreme emosie onderskryf het. Hy het die interessante opmerking gemaak dat luisteraars nog bereid sou wees om vloekwoorde in ʼn onderhoud oor die hoof te sien, maar dat hulle baie vinnig ontsteld geword het oor ʼn onderwerp wat hulle as taboe beskou. Dit het veral onmin veroorsaak as daar na luisteraars se mening ‘n taboe-onderwerp aan bod sou kom in ʼn tydsgleuf waar kinders na die radio luister.

Lizané Basson, voormalige projekorganiseerder vir die ATKV se Tienertoneel, het gesels oor vloekwoorde in die toneelstukke wat deur die tieners opgevoer word. Sy sê dit is vir haar opvallend hoe die frekwensie en die aard van die vloekwoorde wat in die tekste voorkom van streek tot streek verskil. Sy sê dat hulle baie sterk daarteen waak om taalgebruik in die toneeltekste te sensor, omdat hulle die kinders wil toelaat om hulle stemme te vind, maar dat daar by die beoordelaars ook ʼn sterk vereiste is dat kragwoorde en taboes binne die konteks funksioneel moet wees. Die skrywers en regisseurs van hierdie tekste moet ook in gedagte hou dat ʼn oordaad van kru taal naderhand sy skokwaarde verloor – dit is nodig om ekonomies met sulke taal te werk te gaan.

Johan Jack Smith, redakteur van die Taalgenoot en uitgewer van die Wenkbrou-merk by LAPA, sê ook kragwoorde en taboes moet binne konteks sinvol bly. Hy het in sy keuring van manuskripte woorde begin indeel in vlakke van aanvaarbaarheid: Onder aan sy lysie is “gewone” vloekwoorde soos dêmmit of verdomp en van daar af eskaleer dit na die f-woord, kru name vir liggaamsdele, laster en uiteindelik rassistiese etikette, wat natuurlik in ʼn moderne samelewing besonder swaar gemerk is. Johan sê hoewel hy self allermins behoudend is en glad nie werk wil sensureer nie, is dit vir hom belangrik dat skrywers nie woordrykheid moet inboet as hulle kru taal in hulle manuskripte invoer nie. Ja, dit is aanvaarbaar as ʼn karakter vloek, maar ʼn karakter wat net vloek en niks anders te sê het nie, is ʼn baie oninteressante skepsel.

Dit was ook ná die paneelbespreking uit die vrae wat uit die gehoor gekom het duidelik dat kru taal allermins ʼn algemeen aanvaarde ding is. Deelnemers het hulle sterk uitgespreek teen karakters in gewilde TV-reekse wat sommer vloek omdat vloek vloek is. Die gevoel is uitgespreek dat kru taal vir ʼn baie bepaalde rede en binne ʼn baie bepaalde konteks aanvaar sou kon word, maar dat skrywers van tekste versigtig moet wees dat hulle nie hierdie skoktaktiek oorbenut nie.

Die indruk waarmee ek as deelnemer huis toe is, is dat die vloek-met-voorbehoud-deel van die bespreking net so swaar geweeg het as die vloek-met-flair-deel. Ja, Afrikaanse gehore is oopkop oor kru taal en is bereid om te aanvaar dat dit deel is van ʼn bepaalde taalomgewing, maar daar is steeds ʼn grens, en dit is die taak van navorsers, skrywers, regisseurs en redakteurs om dié grens te ken, erken en te respekteer.

VivA-groete

Sophia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Alexz ·

Regtig nie nodig om taal te besoedel deur om te vloek nie, maar wanneer ñ 4-pond hamer op jou ingroei toonnael val, wel, dit is ñ ander storie…. Ek het al ondervind dat ñ paar kragwoorde die pyn effens meer draaglik maak.

Sê net ·

Die Mythbusters het dit beproef en dis waar, As jy pyn vir een of ander rede ervaar het ‘n paar kragwoorde die effek gehad dat hulle die pyn effe langer kon uitstaan.
Ek twyfel of ek sterk genoeg woorde ken om daai toonnael se pyn te kan verlig.

Sarel ·

Gebruik van ” vloekwoorde” of ” kragwoorde” in Afrikaanse films. Wyse ou mens het een keer vir my gesê die verskil is dat jy kan gaan kyk dasr sal altyd ‘n rede of oirsaak wes hoekom die karakter tydens spesifieke voovalle die woorde gebruik. Anders as in ander tale. Masr wanneer dit kom by gebruik van die woorde net om dit te gebruik is dit nutteloos

Fran ·

Vloek is ‘n vuil, vreeslike, vieslike gewoonte. Daar is geen verskoning of goedpraat daarvoor nie. By gebrek aan woordeskat vloek mense gewoonlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.