Wat is die nut van biblioteke, boeke in 2024?

Argieffoto (Foto: Alex Block/Unsplash)

ʼn Kollig val op hierdie woorde op ʼn inkswart muur:

I have always imagined that paradise will be a kind of library – Jorge Luis Borges

Trinity-kollegebiblioteek

Dit is Februarie 2023 en ek wag om in die biblioteek van Trinity-kollege in Dublin, Ierland, se Long Room in te stap. Hierdie aanhaling klink ook nogal na die paradys vir my en maak my net nog haastiger om die beroemde vertrek uiteindelik met my eie oë te sien.

Die ervaring stel nie teleur nie – dit is ʼn pragtige “boekekatedraal”! Dit is ongeveer 65 meter lank en huisves gewoonlik 200 000 van die biblioteek se oudste boeke. Die biblioteek is tussen 1712 en 1732 gebou. In 1860 is dit vergroot deur die dak te verhoog. Borsbeelde van groot filosowe en skrywers van die Westerse wêreld, asook mense met besondere bande met die biblioteek, word weerskante van die sentrale gang uitgestal. Nog twee belangrike voorwerpe wat daar te sien is, is ʼn oorspronklike weergawe van die 1916 Proklamasie van die Ierse Republiek en ʼn Middeleeuse harp wat die model vir Ierland se nasionale embleem is.

Tans is ʼn omvangryke restourasieprojek aan die gang. Die gebou se klimaatbeheer en brandbeskermingsmaatreëls word opgeknap en omdat stof en besoedeling hulle tol eis, word die 200 000 boeke een vir een met ʼn spesiale stofsuier skoongemaak. Dit word dan ook elektronies gemerk en gekatalogiseer.

Die biblioteek is veral bekend daarvoor dat dit die Book of Kells huisves. Hierdie manuskrip wat uit die negende eeu dateer, bestaan hoofsaaklik uit die vier Evangelies van die Nuwe Testament. Afgesien van die ouderdom daarvan, word dit as die uitnemendste bestaande geïllumineerde manuskrip van Middeleeuse Europa beskou. Daarmee saam is ʼn uitstalling te sien wat die manuskrip in geskiedkundige perspektief plaas en verwante manuskripte insluit.

Biblioteektoerisme en die nut van gedrukte boekversamelings

Onder normale omstandighede besoek meer as eenmiljoen mense die biblioteek jaarliks. Ander beroemde biblioteke, byvoorbeeld die Bodleian van die Universiteit van Oxford in Engeland, word net so druk besigtig. ʼn Biblioteek kan dus ʼn groot toerisme-aantreklikheid wees, wat ʼn mens by die vraag bring of gedrukte boeke en biblioteke nog hulle oorspronklike doel behou, en of dit eintlik maar gespesialiseerde museums geword het.

Gedrukte boeke voel die druk (verskoon die woordspeling) van leesstof wat toenemend in ander media beskikbaar raak. Dikwels word dit as dekoritems uitgestal, en daar is al selfs mense wat ʼn bestaan daaruit maak om hele biblioteke vir individue en maatskappye te skep om hulle dekor en beeld as intellektuele reuse aan te vul.

‘n Foto van boekrakke in die biblioteek van Trinity-kollege in Dublin, Ierland. (Foto: Alana Bailey)

Het biblioteke dus ʼn ander nut?

Die antwoord is baie beslis “ja”. Dit bly nog steeds mense wat behoeftig of spaarsamig is se gratis toegang tot “regte” boeke.

Navorsing bewys toenemend hoe nodig dit is om van jongs af aan gedrukte boeke blootgestel te word. Van die voordele sluit in dat dit kinders sensories help ontwikkel, byvoorbeeld hulle tassin wanneer hulle bladsye vashou en omblaai, sig met die lees van die teks en kyk na prente, en selfs die reuksin omdat boeke, soos boekliefhebbers weet, dikwels baie lekker ruik.

Verder is bevind dat boeke anders as skermleesstof konsentrasie bevorder omdat dit ʼn stadiger leesproses vereis. Dit beteken dat lesers die inhoud langer onthou en oorwegend ʼn groter woordeskat ontwikkel as mense van hulle ouderdom wat net op skerms lees. Daar word selfs al bewys dat die kontak tussen die gevoel van ʼn bladsy tussen vingers en die brein ʼn konteks skep wat dit makliker vir die leser maak om te verstaan wat hy lees en meer empatie te ontwikkel met karakters waaroor daar gelees word. Bowendien lei te veel skermleeswerk dikwels tot gesondheidsprobleme soos droë oë en hoofpyn.

Kopiereguitdagings en drukkoste maak van nuwe boeke duur items en daarom sal biblioteke nodig bly om aan mense toegang daartoe te gee.

Biblioteke bly verder aktueel deur ook geleenthede vir skermleeswerk te skep. Ander dienste word bygevoeg, soos speelgoedbiblioteke om jong lesers te lok, of vir ouer mense die kans om legkaarte, speletjies en oudioboeke uit te neem.

ʼn Biblioteek as bron op sigself

Dié geboue huisves nie net bronne nie, maar soms kan hulle self ook ʼn bron word. Een van die interessante voorbeelde in hierdie verband bring ons terug by Trinity-kollegebiblioteek.

Die 200 000 boeke in die Long Room sluit die Fagel-versameling in. Dit bestaan uit sowat 20 000 boeke wat van 1478 tot 1799 dateer en as werkende biblioteek oor vyf generasies heen aan die Nederlandse Fagel-familie behoort het. Van hulle het in die sewentiende en agtiende eeu hoë ampte in die Nederlandse Republiek beklee. Anders as ander versamelings van dié tyd, is dit nie later stuk-stuk ontbind nie, maar as geheel in 1802 vir Trinity-kollege aangekoop. Dit is een van die belangrikste en grootste Nederlandse privaat biblioteke uit die agtiende eeu wat in ʼn goeie toestand bewaar gebly het.

‘n Foto van boekrakke in die biblioteek van Trinity-kollege in Dublin, Ierland. (Foto: Alana Bailey)

Deur die versameling te bestudeer, kan akademici meer te wete kom oor onder meer die Fagels se belangstellings, die sewentiende en agtiende eeuse boekdrukkuns, argitektuur van die tyd (die versameling sluit baie sketse, pamflette en selfs kaarte in), politieke verbintenisse, handel, filosofie en vele meer. Video’s oor samewerking tussen Ierland en Nederland om die versameling meer volledig te ontsluit, vertel hoe die bronne nie net met hulle inhoud nie, maar ook hulle fisiese toestand, inskripsies en samestelling vir ons ʼn sleutel tot die lewe meer as 200 jaar gelede bied.

Wie weet of ʼn biblioteek of boekversameling van een van ons dalk oor 200 jaar aan mense ʼn kykie op die wêreld van 2024 sal gee?

Hoe kan ons biblioteke ondersteun?

Helaas sukkel Suid-Afrikaanse biblioteke om befondsing te kry. Van hulle het vriende-organisasies wat help om geld vir aanvullende aankope in te samel. Hierdie vrywilligers het ons almal se steun nodig.

In plaas daarvan om boeke en tydskrifte wat mooi opgepas is net weg te gee of weg te gooi, verneem of ʼn plaaslike dorps-, stads- of skoolbiblioteek dit nie dalk kan gebruik nie.

Sodoende kan ons help bou aan ʼn kundige, emosioneel gesonde en leesvaardige gemeenskap wat historiese boekversamelings waardeer, maar ook toegang tot gedrukte leesstof het wat hulle tot almal se voordeel kan benut.

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jax ·

Ek lees en koop self nog boeke aan. Ek hou van boeke lees en ook tydskrifte. Aanlyn lees het ook sy nut maar vir my is dit steeds die aller lekkerste om met my boek of tydskrif te sit wat ek kan vashou, onderstreep waar ek wil, kantlyn nota’s te maak en plekhouers kan insit van gedeeltes wat ek weer terug wil gaan om nog n keer te lees. Al die goed kan mens ook aanlyn doen maar niks klop n regte boek vashou en deurlees nie. Ai, ek hoop nie dat boekwinkels eendag heeltemal sal verdwyn nie – dit sal so hartseer wees.

Marthinus W ·

Ons is tans baie na aan n wereldoorlog, ondermeer weens onbekwame regeringshoofde. Indien n oorlog sou uitbreek, sal ons heelwaarskynlik erger beurtkrag beleef, en ook internetonderbrekings. Al die e-boeke gaan nutteloos wees, veral indien n land soos bv Amerika hulle sagteware “sluit” vir sekere lande. Dan, gaan n regte egte boek nog steeds gelees kan word. En n miljoen boeke het geen radiasie-uitstralings soos wat n gewone selfoon, slimfoon, notebook ens het nie. Boeke bly steeds die beste vir my.

Pieter ·

Ek koop 90% van die boeke wat ek lees, en sal aanhou om dit te doen so lank ek kan. Vriende is welkom om my boeke te leen en soms koop ek ook 2de handse boeke aanlyn. Die Internet sal en kan nooit boeke vervang nie. – maar nie almal besef dit nie. Die Internet is maar net +- 30 jaar oud, dit is ‘n bitter klein tyd gleufie in die geskiedenis van die mens. Alles wat op die Internet is, is ook nie waar ek korrek nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.