WAT steeds veerkragtig ná 96 jaar

(Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Deur dr. Gerda Odendaal

Die begin

Op 25 Maart 1926 sluit die Nasionale Pers en die destydse Minister van Onderwys en Binnelandse Sake, DF Malan, ʼn kontrak waarvolgens prof. JJ Smith, die eerste professor in Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch, ʼn Afrikaanse woordeboek met staatsteun sou opstel. Dít is nie net die begin van die langslopende en volledigste Afrikaanse woordeboekprojek nie, maar ook die begin van die professionele leksikografie (woordeboekmaak) in Suid-Afrika.

Die aanvanklike bedoeling was om ʼn woordeboek saam te stel wat vergelykbaar is met vandag se Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (voortaan HAT) en dat dié woordeboek binne drie jaar voltooi moes word. Prof. Smith het hom egter intensief toegelê op die versameling van woorde uit verskeie streke van die land. Dit het gou duidelik geword dat die woordeboek méér sou wees as die woordeboek wat aanvanklik beoog is. En só verskyn die eerste deel van die meerdelige Woordeboek van die Afrikaanse Taal (voortaan WAT) in 1950.

Wat is die WAT?

Die WAT is ʼn omvattende woordeboek. Hierdie omvattendheid geld eerstens hoe daar opgeneem word. Dit beteken dat die WAT, anders as byvoorbeeld ʼn standaardwoordeboek soos die HAT, alle moontlike betekenisse van ʼn woord opneem. Hierbenewens gee die WAT ook uitvoerige grammatikale inligting, soos ʼn woord se meervoud-, verkleinings- of verledetydsvorm, asook tipiese woorde wat daarmee saam gebruik word, werklike voorbeeldsinne waarin die betrokke woord gebruik word, idiomatiese en gespesialiseerde uitdrukkings waarin die betrokke woord gebruik word, en so meer.

Die WAT is egter in nog ʼn opsig omvattend, naamlik ten opsigte van wat opgeneem word. Waar HAT byvoorbeeld grootliks die standaardvariëteit van Afrikaans opneem, neem die WAT alle vorme van Afrikaans op. Reeds in die eerste deel van die WAT word die doel van die woordeboek verwoord as “om, so volledig moontlik, ʼn beeld te gee van die Afrikaanse taalskat in sy ruimste omvang”. Dit sluit nie net die standaardtaal in nie, maar ook geselstaal (byvoorbeeld oukei), gewestelike of streekstaal (byvoorbeeld roloppie vir duisendpoot, opgeteken in Caledon, Oranjemund, Pofadder en Vanrhynsdorp), ander variëteite van Afrikaans (byvoorbeeld salaam uit Arabiese Afrikaans), verouderde woorde (byvoorbeeld skalk vir ʼn skelm of deugniet), vakterme (byvoorbeeld stenose wat in die anatomie gebruik word), vreemde woorde of leenwoorde (byvoorbeeld lingua franca wat aan Italiaans ontleen is), handelsname wat ʼn besondere betekenis in Afrikaans aangeneem het (byvoorbeeld sellotape vir kleeflint), sekere eiename wat ʼn besondere betekenis in Afrikaans aangeneem het (byvoorbeeld Jan Alleman), sekere geografiese name (bv. Namakwaland), afkortings (byvoorbeeld SARS/Sars), nuutskeppings (byvoorbeeld hommeltuig vir die Engelse “drone”), en selfs vloek- en vuiltaal en kwetsende woorde (waarvan ek hier liefs nie voorbeelde sal gee nie!).

“Maar waarom”, kan u dalk vra, “neem julle ook vloek- en vuiltaal en kwetsende woorde op?”. Die WAT is ʼn beskrywende woordeboek. Dit beteken dat ons nie vir Afrikaanssprekendes sê hoe hulle die taal moet gebruik nie, maar eerder die taal weerspieël soos wat mense dit elke dag gebruik. As woordeboekmakers dink ons dus nie nuwe woorde uit nie; ons boekstaaf gewoon werklike taalgebruik deur te kyk hoe mense woorde in tydskrifte, koerante, boeke, asook aanlyn gebruik. Dit beteken dat ons die hele prentjie van Afrikaans moet gee: ook die vratte en die moesies en die plooie. Maar as woordeboekmakers is dit ook ons verantwoordelikheid om gebruikers te waarsku waar ʼn woord dalk as onwelvoeglik of kwetsend ervaar kan word.

ʼn Veerkragtige woordeboek

Maar hoe sorg ʼn mens dat ʼn ou dame soos die WAT ná 96 jaar steeds veerkragtig bly? Veerkragtigheid impliseer dat ʼn mens nie net aanpasbaar moet wees nie, maar ook vernuwend. En die WAT het oor die verloop van 96 jaar haarself telkens herskep.

Die eerste herskepping het ná meer as ses dekades plaasgevind. As senior burger het die WAT onder hewige kritiek deurgeloop dat sy te lomp en plomp is – die woordeboek was te langdradig en het te stadig gevorder, is daar gesê. Dié dame het egter nie aanstoot geneem nie, en tydens ʼn staking van die werk aan die woordeboek vir ses maande in 1989, is die hele projek herbeplan. Die werkswyse is aan die hand van die nuutste woordeboekteorie en kritiek op die WAT herontwerp, waarna die volgende dele oorwegend positief ontvang is.

Die WAT het egter nie net aan haar voorkoms gewerk nie, maar ook haar persoonlikheid. ʼn Woordeboek weerspieël nie alleenlik die taalgebruik van ʼn taalgemeenskap nie, maar ook die kultuur en sosiale werklikheid van daardie gemeenskap. Soos wat die Suid-Afrikaanse gemeenskap aan die begin van die 1990’s verander het, het die WAT ook oor haar ingesteldheid teenoor die hele Afrikaanse taalgemeenskap nagedink. ʼn Internasionale gespreksgeleentheid is deur die WAT aangebied oor die hantering van sensitiewe woorde soos rassisme en seksisme, waarna dié woorde met groter omsigtigheid in die WAT hanteer is.

Die WAT sou ook op die internasionale verhoog haar buiging maak. In 1991 begin die WAT om ʼn geakkrediteerde internasionale vaktydskrif genaamd Lexikos uit te gee. Hierdie internasionaal gerespekteerde tydskrif, wat bydraes in Afrikaans, Engels, Duits, Frans en Nederlands publiseer, is ook die amptelike mondstuk van Afrilex, die leksikografiese vereniging vir Afrika. Hiermee saam bied die WAT sedert 1994 ook opleiding in die maak van woordeboeke aan. Al nege woordeboekeenhede van die ander inheemse Suid-Afrikaanse tale, asook woordeboekmakers en studente uit die res van Afrika, sou mettertyd woordeboekkursusse by die WAT bywoon.

Ten einde haar veerkragtigheid te behou, moes dié ou dame egter ook die tegnologiese ontwikkelinge omarm. Ook van hierdie uitdaging het sy egter nie weggeskram nie. ʼn Woordeboekskryfprogram is ontwikkel ten einde werk aan die WAT te versnel en groter eenvormigheid te verseker. Die woordeboekskryfprogram het dit egter vir die WAT ook moontlik gemaak om in 2003 in elektroniese formaat op CD-ROM te verskyn, en sedert 2008 as aanlyn woordeboek. Die WAT het dus met gemak die elektroniese era binnegewals.

Nóg ʼn herskepping was nodig toe die WAT haar in 2004 in ʼn finansiële krisis bevind het nadat staatsubsidie drasties ingekort is. Die WAT moes op kort kennisgewing ʼn alternatiewe inkomstestroom vir 50% van haar inkomste vind. Die WAT moes haar profiel in die gemeenskap verhoog en ʼn breër rol in die Suid-Afrikaanse samelewing inneem ten einde potensiële donateurs se vertroue te wen. Danksy radio-optredes, gereelde rubrieke in koerante, televisieoptredes, die Borg ʼn Woord-projek, ʼn jaarlikse Nuutskeppingskompetisie, asook ʼn Treffendste Afrikaanse Handelsnaam-kompetisie, is die WAT vandag ʼn huishoudelike naam.

Die laaste herskepping sou in 2018 plaasvind toe die tienjaarplan vir die voltooiing van die WAT tot by Z aanvaar is. Hierdie plan behels dat vyf bykomende redaksielede aangestel is en bykomende befondsing van R32 miljoen oor tien jaar geïn moes word ten einde die WAT binne tien jaar te voltooi (ʼn taak wat andersins nog meer as 20 jaar sou neem). Hierdie plan is goed op koers en daar bly nou nog net sewe jaar tot die voltooiing van die WAT oor. Die WAT huppel ligvoets veerkragtig, want Z is in sig.

Veerkragtigheid as spanpoging

Self wanneer Z voltooi is, sal dit nie die einde van die WAT wees nie. Taal is dinamies – dit verander voortdurend. En daarom sal ʼn woordeboek soos die WAT nooit werklik “klaar” kan wees nie. Die WAT sal – soos Afrikaans – voortdurend verander, vernuwe en aanpas by haar sprekers. Want uiteindelik gaan ʼn woordeboek nie net oor woorde nie, maar oor mense.

Ons doen dus graag ʼn beroep op u om ons hande te sterk. Volg ons op sosiale media (Facebook, Intagram en Twitter), luister elke Vrydagoggend net voor 07:00 na die Woord van die Week, neem deel aan kompetisies soos ons Nuutskeppingskompetisie en Treffendste Afrikaans Handelsnaam-kompetisie, en ondersteun ons finansieel deur ʼn woord te borg of te koop (gaan na www.wat.co.za en klik op Borg ʼn Woord vir meer inligting). Maar sekerlik die belangrikste: gebruik die woordeboek.

Die WAT is uiteindelik méér as net ʼn boek waar jy inligting oor die betekenis en gebruik van woorde kan kry. Dit is ʼn taalkleinood. ʼn Boekstawing van wie ons as Afrikaanssprekendes was en is. Daarom móét, nee, sál sy altyd ligvoets veerkragtig Afrikaans bly.

  • Gerda Odendaal is sedert Julie 2016 ʼn mederedakteur by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, waar sy haar grootliks met woordeboekskryf besig hou. Sy is egter ook werksaam in die breër Afrikaanse gemeenskap deurdat sy gereeld openbare praatjies lewer, kongresse bywoon en akademiese referate lewer, en op verskeie liggame dien wat hulle met Afrikaans bemoei en/ of vir die bevordering van Afrikaans beywer.
  • Hierdie artikel is met die vergunning van die tydskrif Granaat, van Die Dameskring, geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.