Wen: Kom skryf ’n opstel!

(Foto: pixabay)

Baie ouers kies om hul kinders in Engels te laat onderrig omdat Engels ʼn sogenaamde wêreldtaal is. Navorsing bewys egter dat wanneer ’n leerder in sy of haar moedertaal onderrig word, hulle baie beter presteer as diegene wat nie dié voorreg het nie. Boonop leer dié kinders baie makliker ʼn tweede of selfs derde taal aan.

Christien Neser, spraakterapeut en skrywer, sê dat moedertale meer aandag moet kry. “Die taal wat jy al voor geboorte hoor, laat jou hartjie op twee maande vinniger klop wanneer jy dit hoor. Wanneer ’n ma in haar moedertaal met haar baba praat, styg haar stemtoon.”

Op 21 Februarie word Moedertaaldag wêreldwyd gevier, juis om bewustheid oor taalkundige en kulturele verskeidenheid en veeltaligheid te bevorder. Dié jaarlikse viering is in 1999 deur Unesco (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) ingestel en vanjaar se tema is “Tale sonder grense”.

Kom skryf ʼn opstel!

Februarie is Moedertaalmaand en die Skoleondersteuningsentrum (SOS) wil dit deeglik vier! Vertel ons wat Afrikaans vir jou beteken en wen groot pryse daarmee. SOS moedig ook alle skole aan om hul leerders te laat inskryf. Die skool met die meeste inskrywings ontvang boonop ʼn prys.

Wie kan deelneem?

Die kompetisie is vir laer- en hoërskoolleerders. ʼn Leerder skryf volgens skoolgraad in, dit wil sê óf in die intermediêre fase (graad 4-6), die senior fase (graad 7-9) óf in die VOO-fase (graad 10-12).

Tema:  “Afrikaans, my taal ” 

Afrikaans is jonk en modern en daar is min ander tale waarin jy jouself so na hartelus kan uitdruk. Kies enige onderwerp waarin jy bogenoemde stelling volgens die tema uitbeeld.

Wat kan jy wen?

Die wenner van elke afdeling stap weg met ʼn R400-geskenkbewys van SOS en ʼn R500-geskenkpak van Maroela Media.

Die skool met die meeste inskrywings wen ʼn stel Verruklike Afrikaans-plakkate (sien foto’s onder), ʼn jaar lidmaatskap van GeRAT (Die Genootskap vir Regte Afrikaanse Taalonderwysers) en ’n R500-geskenkpak van Maroela Media.

Hoe skryf ek in?

Inskrywings kan per e-pos gestuur word na [email protected].

Sperdatum:

E-pos alle inskrywings teen 20 Maart 2020. Geen laat inskrywings word aanvaar nie. Die wenners sal tydens die SOS se hoofde-ontbyt op 17 April 2020 bekend gemaak word.

Bepalings en voorwaardes:

  1. Algemene reëls
  • Alle inskrywings moet die leerder se eie werk wees.
  • Indien plagiaat gepleeg word, sal die inskrywing nie aanvaar word nie.
  • Let wel: Die beoordelaars se beslissing is finaal. Geen telefoniese of skriftelike kommunikasie sal gevoer word nie. Geen inmenging deur ouers of onderwysers mag ten opsigte van beoordeling plaasvind nie.
  1. Voorskrifte vir die hantering van ʼn inskrywing
  • Alle inskrywings moet getik wees, met die volgende vereistes:
  • Font: Arial
  • Lettergrootte: 12pt
  • Spasiëring: 1½
  • Kantlyne: 20 mm
  • Heg die opstel in PDF- of Word-formaat aan.
  • Gebruik: “SOS-opstelkompetisie 2020” as die onderwerp van jou e-pos.
  1. Spesifieke voorskrifte
  • Intermediêre fase (graad 4-6) – 150 tot 200 woorde
  • Senior fase (graad 8-9) – 200 tot 250 woorde
  • VOO-fase (graad 10-12) – 300 tot 450 woorde
  1. Beoordeling van die opstel sal aan die hand van die volgende gedoen word:

Organisasie en struktuur __/15

  • Is die doel met die inleiding bereik?
  • Bevat die struktuur ʼn logiese ordening en opbou van inhoud?
  • Is die slot treffend met ʼn gepaste samevatting?

Inhoud en aanbieding __/20

  • Is die inhoud genoegsaam en kreatief?
  • Is daar ʼn logiese beredenering van die inleiding tot die slot?
  • Is die inhoud oortuigend?
  • Dra die inhoud by tot die opbou van die onderwerp?

Tegniese versorging __/15

  • Is die teks taalversorg?
  • Spelling?
  • Is goeie Afrikaans gebruik?
  • Dra taal en styl by tot die opstel se leesbaarheid?
  • Is die taalgebruik nuut/opwindend/beeldryk?
  • Voldoen die inskrywing aan al die vereistes?
  • Is erkenning gegee aan navorsing of aanhalings?

Totaal   __/50

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.