Volgens die radiostasie sal Beetge vandag by die OR Tambo-lughawe aankom waar sy deur familie en vriende verwelkom sal word. Beetge is in 2008 tot agt jaar tronkstraf gevonnis nadat sy op ’n lughawe in Brasilië met 10 kg kokaïen betrap is. Margie Olsen, Beetge se tannie, sê hulle sien daarna uit om Beetge met haar kinders te herenig. “Sy gaan ʼn bietjie oorweldig wees, baie angstig om haar kinders te sien.”
Olsen sê hulle is bly dat die pynlike deel van Beetge se lewe amper verby is. “Haar kinders woon by hulle pa en stiefma. Hulle is nou 17 en 15 en hulle is pragtige meisies en hulle is meisies waarop Tessie baie trots gaan wees. Toe Tessie weg is was hulle 12 en 10. So sy het daai pragtige tienerjare gemis.” Marie Swanepoel, Beetge se ma, is in Oktober verlede jaar na ʼn kort siekbed oorlede.
Beetge beweer dat sy niks van die dwelms geweet het nie. Sheryl Cwele, die nou eksvrou van Siyabonga Cwele, minister van staatsveiligheid, en haar medebeskuldigde Frank Nabolisa is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat hulle daaraan skuldig bevind is dat hulle Beetge as ʼn dwelmmuil gebruik het om kokaïen van Brasilië na Suid-Afrika te smokkel.
Lees ook:
Beetge wil nie inligting bekend maak nie
Beetge uit Brasiliaanse tronk vrygelat
Dwelmmuil se ma sterf
Dwelmmuil se ouers wil met president vergader
Cwele tronk toe
Dwelmvonnis van minister se eksvrou verswaar