Senzo Meyiwa: Advokaat in hof in boeie geslaan

Adv. Malesela Teffo word in hegtenis geneem. (Foto: Skermgreep via eNCA)

Adv. Malesela Teffo wat vier van die vyf beskuldigdes in die opspraakwekkende moord op die voormalige Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa verdedig, is Donderdag in die Gautengse hooggeregshof in hegtenis geneem.

Teffo is glo in boeie geslaan kort nadat die moordverhoor tot einde volgende maand uitgestel is.

’n Lasbrief vir Teffo se inhegtenisneming is uitgereik nadat hy na bewering versuim het om in die hof te verskyn in verband met ’n saak waarin hy ’n beskuldigde is.

News24 berig Teffo is in Julie 2020 in hegtenis geneem en van aanranding en betreding aangekla nadat hy na bewering probeer het om ’n polisiestasie binne te gaan om ’n kliënt in ’n arbeidsgeskil by te staan.

’n Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) kon nie Donderdagmiddag bereik word om meer inligting rakende Teffo se inhegtenisneming te gee nie.

Teffo is in Maart as regsverteenwoordiger van Muzikawukhulelwa Sibiya, Bongani Sandiso Ntanzi, Mthobisi Prince Mncube en Mthokoziseni Maphisa aangestel.

Dié vier staan saam met SifikuhleNkani Ntuli Sifiso tereg op aanklag van moord, poging tot moord, gewapende roof, die besit van vuurwapens sonder ’n lisensie en die besit van ammunisie.

Teffo het ook ’n waaksaamheidsopdrag in die saak namens Meyiwa se broer, Sifiso Meyiwa.

Meyiwa is op die aand van 26 Oktober 2014 by sy vriendin, die sangeres Kelly Khumalo, se ma se huis in Vosloorus doodgeskiet.

Twee mense het dié betrokke aand by die huis, waar verskeie ander mense teenwoordig was, ingebars. Hulle was gewapen met ’n vuurwapen en ’n mes en het geld en selfone geëis.

  • Lees al Maroela Media se berigte oor die moord op Meyiwa hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

SjN ·

As sogenaamde regsgeleerde moes hy mos van beter geweet het, wette is daar en moet uitgevoer word, in hegtenis geneem in Hof, iemand wil n punt bewys, Hond eet Hond.

Wondermaarnet ·

Wette geld mos net vir sekere mense en toe misgis hy hom.

Snowball ·

Sirkusse het gewoonlik net 1 nar…..ons hele parlement sit vol hansworse.

Nie Verbaas ·

En dit meneer is waar julle tipiese arrogansie jou laat beland. Kry vir jou.

Jack ·

Regte malema houding. Onaantasbaar. Seker klaar uit op R50 borg.

Misky ·

Was daar nie ‘n lasbrief vir Zuma se inhegtenisneming ook nie en hoeveel het hy net versuim om te verskyn as hy gedagvaar is? Hoekom geld die reel nie vir almal nie?

Piet Snot ·

Julle praat twak. Daar’s geen aanduiding dat hy enigiets anders probeer doen het as bloot sy dag se werk nie.
Veroordeel hom as jy rede het.
Hierdie tipe polisiedrama is totaal onnodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.