Augustus is ons vriendskapsmaand

Faith Durie en Lindie Strydom het ‘n vriendskap wat oor 15 jaar strek. (Foto verskaf)

Faith Durie van Pretoria skryf hierdie brief oor haar en Lindie Strydom se vriendskap wat reeds 15 jaar strek:

Ek onthou nog die oomblik soos gister: Dit was Augustus 2008 toe ek terug gekom het van kraamverlof en jy klaargemaak het by Egoli. Ons ontmoetingsplek was ons werksplek by Helpende Hand. Hoe profeties was hierdie twee woorde toe nie: helpende hand.

Dit was die begin van die mooiste geskenk, ʼn ware vriendSKAT.

Die skat was groot en so ook ons verskille.

Jy blond, ek brunet.

Jy wat suiwer Afrikaans mooi praat, ek wat suiwer tale meng.

Jy die besige bytjie, ek die rustige vlinder.

Jy die ewige planmaker, ek die uitvoerder. (Wat ʼn span!)

Jy die roetine en ek die ritme mens.

Jy hou van koffie sonder suiker, ek met.

Jy hou van voorbereiding, ek nie.

Jy die stadsmeisie, ek die boskind.

Jy die aktrise, ek die kyker.

En so kan ek aangaan…

(Foto verskaf)

Duisende kilometers oor kontinente saam – gelag en gehuil, gedroom en gedoen, die wete dat daar nie woorde nodig is nie, maar ʼn plek om net te kan wees.

Ons het saam op die Eiffel-toring gestaan en uitkyk oor Parys, maar ook om saam met jou deur Parys in die Vrystaat te kon ry op pad na ʼn vrouefunksie – die skat was ons vriendskap, nie die plek nie. Iets wat nie ophou gee en ontvang nie.

Om saam uit ʼn papierbord te eet en eerder geld te spandeer aan iets wat in die hart gehou kon word. Om klere te kon deel en mekaar opgewonde te skakel as iemand ʼn winskoop iewers gesien het. Om saam te bid oor en vir ons kinders, manne en ons gemeenskap. Om saam te glo dat minder goeie dae net ʼn deurloop is na meer en om aan te hou – in glo… in doen… in dien… en in wees!

Die belangrikste, en dit is wat ek glo die fondasie van ons kosbare vriendskap is, is ons liefde vir die Here. Om Sy drome vir ons elkeen – so uniek – te kon sien uitrol oor die laaste paar jare – bly ʼn geskenk. Om nie waarde te vind in wat ons het of doen nie, maar in wie ons is, saam met Hom – op pad!

Die Engelse gebruik die woord: accountability. Dit is iets wat gereeld deel is van ons gesprekke. Die hoekom en die waarom! Om mekaar ook verantwoordelik te hou met dit waarmee ons besig is of nie besig is nie. Hoe ons gesondheid lyk en ook ons gemoed. Om te kan klankbord in ʼn veilige spasie – nie omdat ons dieselfde dink nie, maar omdat ons mekaar aanvul en aanmoedig.

(Foto verskaf)

Dan is daar natuurlik die genade-spasie wat die veilige ruimte in ons verskille kom skep het, en dit het meer kom gee as wat ek dink ons beide voor kon bid of vra.

Ek wonder of ek ooit werklik ʼn bedrag, persentasie, kommoditeit en of woord aan ons vriendskap sou kon of wou koppel?

My vriendin, Lindie, is vir my emosioneel sterk, maar ook kwesbaar. Haar ware rykdom kan nie op ʼn sakrekenaar by mekaar getel word nie, maar eerder in emmers vol van ware omgee en liefde.
Haar wysheid en kennis is nie geraam teen ʼn muur nie, maar spore in plakkerskampe, vroueoggende, kongresse, skole en ook teerpaaie van die lewe.

Lindie dankie dat jy totaal van my verskil. Dit is ʼn skat wat nooit verdof nie. Dit is vars en nuut elke dag. Dit nooi nader en tog stoot dit ook verder.

Mag elke vrou so geseënd wees soos ek om ’n vriendin te hê wat haar onvoorwaardelik liefhet, maar haar ook nie net los soos sy is nie.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fontein Tannie ·

Ai wat n mooi brief!! Dit laat mens met n warm hart en glimlag. Baie dankie dat jy hierdie met ons almal gedeel het….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.